Ken jou storie: Herlees van romans

Wanneer jy ’n boek herlees, kom jy agter dat jy die eerste keer soveel gemis het, sê Willie Burger

Een van die redes waarom mense boekrakke in hul huise het, is omdat hulle die boeke wat daarop staan, weer eendag wil lees.Om ’n boek op jou boekrak te sit, is ’n soort erkenning dat jy dink dit gaan die moeite werd wees om eendag daarna terug te gaan. Daar is ten minste dele van die boek waarna jy meen jy weer sal wil kyk (of jy hoop dat iemand anders in jou huis, of iemand vir wie jy die boek leen dit ook so sal geniet).

Baie van die boeke bly egter daar staan, sonder om ooit weer gelees te word, want daar verskyn voortdurend nuwe boeke waaraan jy aandag wil gee. Leestyd is immers vir die meeste mense tot ’n enkele uur of wat per week beperk. Ons het besige lewens. “Vrye tyd” is vir talle mense ’n onbekende konsep en wanneer hulle wel so iets ken, bring hulle die tyd verkieslik voor skerms (TV-skerms, rekenaarskerms, slimfoonskerms) as voor boeke (of Kindle-skerms) deur. Benewens die feit dat daar al lank voor mens se geboorte so baie belangrike boeke geskryf is wat jy graag wil lees, verskyn daar daagliks nog derduisende boeke wêreldwyd. Hierdie boeke word boonop, deur vriende, resensies en advertensies aangeprys.

Mense vra jou of jy al die jongste boek deur die of daai gelees het en soms word jy dan deur fomo (fear of missing out) oorval. Tóg wil ek ’n pleidooi lewer vir herlees, want al mis jy dalk ’n bietjie van die jongste nuus, kom jy gou agter wanneer jy ’n boek herlees, dat jy die eerste keer soveel gemis het. Een van die eerste voordele wat die herlees van ’n boek inhou, is eintlik ’n byvoordeel. ’n Mens herlees immers nie regtig ’n boek met hierdie doel nie, maar dit is ’n bonuservaring wat jy uit die herlees van ’n boek put: Wanneer jy ’n boek herlees, ervaar jy dikwels dat jy dinge begin onthou waarvan jy al vergeet het. Gereeld word mens sommer al met die oopmaak van ’n boek wat jy lank tevore gelees het deur herinneringe oorval. Jy onthou plotseling waar jy was toe jy die boek die eerste keer gelees het; die emosies wat jy destyds ervaar het, kom soms weer terug, veral ook wanneer jy weer op sinne of paragrawe afkom wat jy onderstreep het.

Hierdie bonusvoordeel bied jou die kans om te ervaar hoedat jy self oor tyd heen verander het. Jy kom agter dat jy nou anders reageer as die eerste keer en dat jy nou ander dinge raaksien. Jy besef dat jy intussen veel geleer en ervaar het, omdat dinge wat lank gelede met ’n eerste lees vir jou skokkend, vreemd of snaaks was, glad nie meer hierdie effek op jou het nie en dat jy nou ander dinge raaksien wat jy besef jy toe eenvoudig nie gereed was om te verstaan nie. Ek het met die bonuservaring begin, maar eintlik is dit nie die sterkste oorweging waarom mens besluit om ’n boek te herlees nie. Meestal herlees mens om ten minste drie ander redes: jy kan nie die boek meer mooi onthou nie, maar onthou wel dat dit vir jou betekenisvol was en wil weer na daardie betekenisvolheid soek, of jy het sommer al met die eerste lees besef dat daar te veel by jou verbygaan, dat jy gewoon nie alles kan absorbeer nie.

Dan is daar nog ’n derde rede wat mens veral by letterkundiges kry, naamlik om noukeurig na te gaan hoe die roman aanmekaargesit is, hoe dit vertel word, en om te probeer vasstel wat veroorsaak het dat die roman juis só inmekaarsteek – wat dit van die wêreld waarin die boek onstaan het, verraai. Sekere romans is eenvoudig so oorrompelend – daar is soveel inligting, soveel gebeurtenisse, soveel los drade wat jy sommer uit die staanspoor nie mooi kan bymekaarsit nie. Jy word meegesleur deur die boek, maar jy voel sommer aan dat jy eintlik net een tak van ’n hele groot boom volg. Dit is die soort boek wat mens wil herlees sodra jy aan die einde kom. Wanneer jy so ’n boek weer lees, kom jy agter hoe onoplettend jy die eerste keer was. (Jy besef ook daar was redes hoekom jy op daardie tydstip sekere dinge raakgesien het, maar ander gewoon misgekyk het.)

Ek herlees tans Etienne van Heerden se roman Die wêreld van Charlie Oeng. Ek het twee jaar gelede haastig aan die 500 bladsye gelees ten einde ’n resensie te skryf, en daar was nie tyd om die boek meer as een keer te lees nie. Nou kan ek sien hoe my raaksien van sekere aspekte my vir ander blind gemaak het. Herlees is eintlik wat romans van ons eis. Stadig lees. Nadink. Die herlees bring talle nuwe insigte, maar dit dwing ook, juis in ’n tyd van angsvallige gejaagdheid en fomo, ’n stilstand en rustigheid in die herleser self af. e herlees bring talle nuwe insigte, maar dit dwing ook, juis in ’n tyd van en rustigheid in die herleser self af.

Send this to a friend