Kuns: Antony Gormley

Antony Gormley plaas die fokus in sy beelde nie op die figuur as portret van iemand of as monument of as figuur in ’n verhaal nie, maar wel op die liggaam in ruimte en ook as ruimte self

Deur JOHAN MYBURG

Kort nadat die Royal Academy of Arts (RA) ’n jaar of wat gelede iets soos £56 miljoen aan die uitbreiding en opknapping van sy geboue in Londen bestee het, is daar nou ’n beplande oorstroming in die vooruitsig.Een van die sleutelwerke in die grootste solo-uitstalling in tien jaar van die Britse kunstenaar Antony Gormley wat in September in die RA aangebied word, vereis dat modderwater van 23 cm diep in een van die historiese uitstalsale gepomp word.

Dié omgewingspesifieke installasiewerk, Host, dateer van 1991 en is al op verskeie plekke ter wêreld gesien. Toe dit in 2016 in Beijing aangebied is, is 95 kubieke meter klei uit die Changping-streek en seewater van die Tianjin-kus om die helfte in die Galleria Continua ingepomp. Die werk is meer as bloot visueel, dit aktiveer ook die ander sintuie: Die toeskouer word genooi om op een van die drumpels wat na die uitstalruimte lei, te gaan staan en oor die verhouding tussen gebou en ongerepte natuur te besin. Gormley beskryf Host as “the site of becoming”. Die museum word as ’t ware die raam waarbinne die veranderende prentjie vertoon word, het hy bygevoeg.

Die RA-uitstalling word as ’n avontuur beplan met die oog op fisieke sowel as verbeelde deelname. Wat onder meer benadruk word, is dat Gormley die figuur in sy werk nie as ’n portret van iemand of as ’n monument of as ’n figuur in ’n verhaal benader nie, maar wel as ’n liggaam in ruimte en ook as ruimte self. Dit is bowenal as beeldhouer wat Gormley bekend is. Dié taksering van die figuur as ruimte blyk duidelik uit sy Stations, ’n reeks beelde van staal, waarvan vyf nou vir die eerste keer saam in die RA uitgestal word. Die lewensgroot figure is saamgestel, soos die skelet van ’n wolkekrabber, uit “kolomme” en “vloere”. Die vier kolomme wat die enkels van die figuur uitmaak, is vyf millimeter dik staal – wat onder meer broosheid beklemtoon. “Die bravade van die standbeeld loop in elk geval die gevaar om inmekaar te tuimel,” het Gormley by geleentheid opgemerk.

Die 68-jarige Gormley het in 1994 die Turner-prys verower en sy bekendste openbare beeldhouwerk is sonder twyfel The Angel of the North, ’n 20 meter hoë staalbeeld van ’n engelfiguur met ’n vlerkspan van 54 meter, in Gateshead in Engeland. In 2015 het Gormley ’n vernuftige uitstalling in Florence, die hartland van Donatello en Michelangelo, van Cellini en Giambologna aangebied. Op die paradegrond van die historiese Forte di Belvedere, met ’n uitsig op die stad met sy befaamde Brunelleschi-katedraalkoepel – was sy werk Critical Mass (1995) te sien.

Dié werk bestaan uit figure – almal geskoei op Gormley se eie lyf – in 12 basiese posisies: hurkend, sittend, knielend, staande. Gerangskik lees mens in dié sintaksis van die lyf iets van die ontwikkeling van die mens. “My oogmerk met dié uitstalling,” het Gormley gesê, “is om te vra: Wat beteken dit vandag om mens te wees? Dit is die vraag wat die humaniste van die Renaissance besig gehou het.” Sy vraag het hy met dié woorde van Hamlet toegelig: “What a piece of work is a man! How noble in reason, how infinite in faculty! In form and moving how express and admirable! In action how like an angel, in apprehension how like a god!” Dit was dié ideaal wat volgens Gormley tot Michelangelo se Dawid aanleiding gegee het. Besoek www.restaurantmosaic.com     

Send this to a friend