Kuns: Kehinde Wiley

Een ding is seker: Dit is ’n portret wat niemand sal vergeet nie

Deur JOHAN MYBURG

Gewoonlik is die onthulling van die portret van ’n Amerikaanse president ’n saai affêre, net nog ’n formele geleentheid wat deur regeringslui bygewoon word en wat eintlik maar in die verbygaan afgehandel word. Dit was allermins die geval toe die amptelike portret van oudpres Barack Obama vroeër vanjaar in Washington onthul is. Onder die menigte wat dié onthulling bygewoon het, was hooggeplaastes in die Demokratiese Party, gesaghebbendes in die kunswêreld, ’n groot perskorps en donateurs van die Smithsonian-instituut se National Portrait Gallery. Soos een kommentator dit beskryf het: Dit gebeur selde dat die debuut van enige kunswerk ’n politieke geleentheid is, wat nog te sê dat ’n portret van ’n president ’n kunsgeleentheid is.

Sedert Gilbert Stuart in 1796 sy befaamde portret van George Washington geskilder het, is dit tradisie dat ’n portret van elke Amerikaanse president gemaak word. Deesdae gee die Smithsonian- instituut se National Portrait Gallery opdrag aan ’n kunstenaar om ná die beëindiging van die president se ampstermyn sy beeltenis in olie op doek vas te vang. In teenstelling met die tradisionele voorstelling van die president in sy kantoor, by ’n lessenaar en met ’n neutrale agtergrond, soos dié van Washington en omtrent almal daarna, is ’n konvensionele uitbeelding van ’n elegante en selfversekerde Obama teen ’n agtergrond van heldergroen blare en blomme geplaas; die stoel waarop hy sit as ’t ware swewend in dié lower.

LEES OOK: Kuns: Lothar Böttcher

Obama se keuse vir ’n skilder om dié portret te maak, het geval op Kehinde Wiley, ’n 40-jarige New Yorkse kunstenaar wat vir sy portrette van Afro-Amerikaners bekend is. Wiley se uitbeelding van die 44ste president en die groenigheid om hom heen is as ’t ware ’n botaniese kartering van Obama se lewe. Die blou agapante, eie aan Afrika, is ’n verwysing na Obama se Keniaanse pa, die jasmyn verwys na Hawaii waar hy grootgeword het, en die krisante, die amptelike blom van Chicago, verwys na die plek waar hy sy politieke loopbaan as ’n gemeenskapsorganiseerder begin het. By die onthulling het Obama verwys na die ooreenkomste tussen hom en Wiley: Afwesige Afrika-pa’s en Amerikaanse ma’s wat hulle “met uitsonderlike liefde en ondersteuning” grootgemaak het.

Wiley het dié sentimente beaam en bygevoeg: “Dit is dié dubbelnarratief wat veel interessanter was as net nog ’n dooierige ou weergawe van ’n presidensiële portret.” Hoewel Obama in sy noppies was met die portret, het heelwat sosialemediagebruikers van hom verskil. Die kommentare het gewissel van ’n “nuwe manlikheid” deur Obama in ’n tuin voor te stel tot misnoeë omdat die skildery “onvanpas” sou wees en Obama se “dekadensie” sou uitbring. Hoe mense ook al reageer, een ding is seker: Dit is ’n portret wat niemand sal vergeet nie. En dit is iets waarin Wiley meesterlik geslaag het. Die feit dat Wiley die opdrag gekry het om die portret te skilder, strook verder ook met Barack en Michelle Obama se voorliefde vir kontemporêre kuns.

Toe hulle in 2009 in die Withuis ingetrek het, het hulle albei versoek dat meer kontemporêre kuns, onder meer werk van Ed Ruscha en Glenn Ligon, in die dekor van die amptelike presidentswoning gebruik moet word. As ’n mens verder in gedagte hou dat die Obama-era in Amerikaanse politiek een was wat bakens versit het, is dit geen verrassing dat die presidensiële portret iets hiervan weerspieël nie. ’n Portret van Michelle Obama, geskilder deur Mary Sherald, is by dieselfde geleentheid onthul.

Send this to a friend