Kies ’n boek: Die jas van belofte

Jas-web

Willie Burger het tydens sy tydelike verblyf in Nederland ’n juweel of twee in boekwinkels daar ontdek

Ek is ’n sucker vir ’n nuwe boek. En soos die meeste mense maak ’n onverwagse geskenk my ook baie opgewonde. Dis hoekom ek met so ’n breë glimlag by die boekwinkel uitloop. Wat eintlik net ’n gewone glimlag moes wees, omdat ek die boek deur Tommy Wieringa waarna ek gesoek het in die hande gekry het, het ’n breë glimlag geword toe ek boonop met ’n geskenk verras word.

Terwyl ek by die boekwinkel se toonbank in die ry staan en wag om te betaal, reken ek die prys van Wieringa se roman De dood van Murat Idrissi van euros na rande om. Die hoofrekene hou my so besig dat ek nie die groot Boekenweek-plakkate opmerk nie. Ek skrik effens vir die antwoord van my maalsom, maar ek wil die boek graag in Nederlands lees. Die kortlys van die Bookerprys vir fiksie wat uit ander tale in Engels vertaal is, het onlangs verskyn. Nege van die boeke op die kortlys sal ek nooit in die oorspronklike tale kan lees nie, maar die tiende een is deur ’n Nederlandse skrywer, Tommy Wieringa, en ek is opgewonde daaroor. Dié boek kan ek darem in die oorspronklike taal lees en terwyl ek toevallig nou in Nederland is, kan ek hom sommer koop.

Toe ek vir my boek betaal, wil die vriendelike vrou by die toonbank weet of ek die Boekenweekgeschenk wil hê. Ek verstaan nie dadelik presies wat sy sê nie, maar hoor die vraende toon en herken die woord “geschenk” en sê sommer ja. Van agter die toonbank haal sy ’n dun boekie uit en steek dit saam met die een waarvoor ek betaal in ’n papiersakkie. Eers op pad uit, merk ek die plakkaat waarop staan dat mens, indien jy tydens die Boekenweek meer as 12 euro op Nederlandse boeke spandeer, jy die boek deur Jan Siebelink Jas van belofte gratis ontvang. Met my groot glimlag en bewende vingers skeur ek die pakkie oop om na my geskenk te kyk. En toe kry ek nog ’n verrassing! Die tradisie van ’n jaarlikse boekeweek strek terug na 1932 toe die “Stichting Collectieve Propaganda van het Nederlandse Boek” met dié promosieveldtog begin het. Die doel van die boekeweek is om die verkoop, lees en besit van Nederlandse boeke te bevorder.

Elke jaar word ’n skrywer genooi om ’n boek spesiaal vir die boekeweek te skryf, wat dan gratis as geskenk uitgedeel word aan mense wat Nederlandse boeke koop. Dit is ’n groot eer om genooi te word om die geskenkboek te skryf en dit is natuurlik ook ’n goeie bemarkingsgeleentheid vir die outeur. Sedert 1955 is daar ook ’n kinderboekweek, en van 1989 af is Junie die “maand van die spannende boek”. Ook tydens hierdie geleenthede is daar geskenkboeke wat spesiaal op uitnodiging geskryf word. In 2017 het die eer Deon Meyer te beurt geval om die geskenkboek vir “die maand van die spannende boek” te skryf. As jy ooit gewonder het hoekom die Bennie Griessel-boek Die vrou in die blou mantel, maar net 120 bladsye dun is, terwyl al die ander Meyerromans nader aan 400 bladsye se kant toe staan, weet jy nou. (En in Suid-Afrika moes jy maar betaal daarvoor – ons het immers nie net een maand vir misdaad nie.)

Volgens statistiek lees Nederlanders normaalweg tydens hul somervakansie ’n gemiddeld van ses boeke, waarvan 37% spanningsromans is – daarom is die promosie van die spanningsroman juis in Junie. Dis eers toe ek my geskenkboek oopmaak wat ek nog ’n verrassing kry. Op ’n boekmerk in die boekie lees ek dat mens met dié geskenkboek in die hand die hele Sondag gratis op enige trein in Nederland kan ry! In Suid-Afrika pendel ek daagliks met die Gautrein werk toe en ek sit juis altyd op die trein en lees aan die boeke waaroor ek in Vrouekeur skryf. Daar is altyd so twee of drie ander lesers ook saam met my in die treinwa. Dit is my gewoonte om te loer wat hulle lees.

Toe ek selfingenome my plek op die Sondag in die trein inneem om na een van die verste stede in Nederland te ry (mens moet die beste waarde uit jou geskenk put!), maak ek Siebelink se Jas van belofte oop en begin lees. Ná ’n rukkie loer ek, soos my gewoonte is, ongemerk na wat die mense om my lees. Die ou oorkant my sit verdiep in Jan Siebelink se Jas van belofte. Die twee vrouens aan die oorkant van die paadjie sit en gesels, maar hulle het ook elkeen ’n eksemplaar van dié boek op die skoot. Die ouerige man en vrou wat op soek na sitplek in die stampvol treinwa verbyloop, het ook elkeen ’n Jas van belofte in die hand. Die vrou wat langs my kom sit, trek haar eksemplaar uit haar handsak en slaan hom by ’n boekmerk naby aan die einde oop. Toe ek laatmiddag terugry, maak ek ontroer Die jas van belofte toe. Ek was al bly net om ’n freebie te kry. Die gratis treinrit was ’n bonus. Maar toe is dit bowendien ’n pragtige boek. G’n wonder die Nederlanders lees so baie nie.  

Send this to a friend