Klassieke klanke: Jacques Imbrailo

Jacques Imbrailo is op die oomblik weer in die naamrol in Benjamin Britten se Billy Budd te sien

Deur JOHAN MYBURG

Met sy vertolking van die naamrol in Billy Budd op die Glyndebourne-fees in 2010 het Jacques Imbrailo die aandag van die operawêreld op hom gevestig. The Guardian het Imbrailo destyds in dié rol as “pure vreugde – slank, soepel en wonderlik onopgesmuk” beskryf.Van dié voorstelling met die Londense Filharmonie en met sir Mark Elder as dirigent, het Opus Arte ’n CD- en DVD-opname gemaak wat wyd gunstige kommentaar gekry het.

Op die oomblik is dié Suid-Afrikaanse bariton weer as Billy Budd in Deborah Warner se voorstelling van dié Benjamin Britten-opera vir die Royal Opera House in Covent Garden te sien. Ná ’n suksesvolle speelvak, eers in die Teatro Real in Madrid en daarna in die Roma Opera, is dié opera tot 10 Mei in Londen te sien. Oor die Madrid-aanbieding het Fernando Remiro in ’n resensie geskryf “Jacques Imbrailo bring ’n natuurlike stem na die titelrol. Dis jeugdigheid wat in sy ryk baritonstem en gevoelvolle frasering blom.

Boonop pas sy fisieke voorkoms die rol soos ’n handskoen.” Die rolbesetting bestaan net uit mans – die bemanning op die HMS Indomitable onder bevel van kaptein Vere. Die minsame jong Billy Budd kom goed oor die weg met almal op die skip, maar John Claggart, die brompot van ’n veiligheidsoffisier, het sy mes in vir Billy. Hy sweer trouens dat hy Billy uit die weg sal ruim. Hy beskuldig Billy voor die kaptein van muitery en van daar af kry Billy die wind van voor. Britten het die opera in 1951 vir die Festival of Britain geskryf. Dit is op die roman van Herman Melville geskoei, hoewel die libretto deur EM Forster en Eric Crozier geskryf is. Imbrailo (40) het aan die Royal College of Music in Londen studeer, op aanbeveling van Werner Nel, wat in sy studiejare op Potchefstroom sy sangdosent was.

In ’n vroeëre onderhoud het Imbrailo Nel as een van die grootste invloede in sy loopbaan uitgewys. “Ek is universiteit toe om regte te gaan studeer en het sanglesse as stokperdjie geneem. Maar dit was Nel se passie vir lieder en opera wat my aangemoedig het om ook ’n musiekgraad te behaal … en eindelik ’n sangloopbaan in Brittanje te volg.” Die ander invloed, sê hy, was sy vier jaar in die Drakensbergse Seunskoor. Op YouTube is daar ’n opname waarin die jong Imbrailo as seunsopraan die Koningin van die Nag-aria uit Die Zauberflöte van Mozart sing.

Sy loopbaan het meer as een keer ’n stewige hupstoot gekry met aansienlike pryse wat hy verower het – onder meer die eerste plek in die Distell- nasionale sangkompetisie; tweede prys in die 2005 Richard Tauber-sangkompetisie; finalis in die Kathleen Ferrier-kompetisie, en die gehoorprys in die 2007 BBC Cardiffse Sanger van die Wêreld-kompetisie. Die eerste groot stap in sy sangloopbaan was sy insluiting in die Jette Parker-program vir jong kunstenaars by die Royal Opera House. Dié program het hom blootstelling aan sangers soos Jonas Kaufmann, Simon Keenlyside en Ferruccio Furlanetto gegee.

Sy ervaring sluit ’n hele paar van die wêreld se voorste verhoë in: die Aalto-teater in Essen, Duitsland (Pelléas et Mélisande van Debussy); die Skotse Opera (Don Giovanni van Mozart), Houston Opera (Così fan tutte van Mozart) en Roma Opera (Dido and Aeneas van Purcell). Benewens deelname aan operas het Imbrailo al verskeie uitvoerings van lieder gegee, onder meer in Londen se Wigmore Hall en die Royal Albert Hall, die Concertgebouw in Amsterdam asook op die Verbier-fees in Switserland.   

Send this to a friend