Klassieke klanke: Birgit Nilsson | Vrouekeur

Klassieke klanke: Birgit Nilsson

0118-vk1-birgit-web

Birgit Nilsson in ’n voorstelling van Turadot.

Birgit Nilsson was bekend vir haar stem van heroïese omvang, besonderse musikaliteit en ’n verbeeldingryke vertolkingsvermoë

Deur JOHAN MYBURG

In Augustus verlede jaar het Swede hulde gebring aan sy bekendste en mees gevierde sopraan: Birgit Nilsson. Dit was by die 100ste viering van haar geboortedag. ’n Paar jaar vroeër het die Sweedse Ryksbank ook ’n 500-kronenoot met die gesig van dié sangeres, wat veral vir haar Wagner-vertolkings onthou word, uitgereik.

Die ander note in dié reeks van die Sweedse geldeenheid sluit afbeeldings in van die skrywer Astrid Lindgren (20-kronenoot), die balladesanger Evert Taube (50 krone), die rolprentster Greta Garbo (100 krone), die rolprentregisseur Ingmar Bergman (200 krone) en die voormalige sekretaris-generaal van die VN Dag Hammarskjöld (1 000 krone). Maar terug by Nilsson. Dit was die rol van Brünnhilde in Richard Wagner se Der Ring des Nibelungen wat sy haar eie gemaak het – en ’n vertolking wat baie mense meen steeds ongeëwenaar is.

Sy het op die 1955 München-fees dié rol die eerste keer volledig gesing en al die eienskappe waarvoor Wagner kon gehoop het na dié rol gebring: ’n stem van heroïese omvang, besonderse musikaliteit en ’n verbeeldingryke vertolkingsvermoë. In 1996, meer as ’n dekade nadat sy afgetree het, het sy ná haar kort huldigingswoord aan maestro James Levine, wat daardie jaar sy 25ste jaar by die Metropolitan Opera gevier het, op 77 die ho-jo-to-ho-openingskreet van die Walküre gegee – iets wat menige jonger sopraan haar graag sou wou nadoen. In 1959 het Nilsson die voorblad van The New York Times gehaal (dit gebeur selde dat opera ’n voorblad haal): “Birgit Nilsson as Isolde Flashes Like New Star in ‘Met’ Heavens.” Dit was inderdaad dié rol en moontlik dié vertolking wat haar loopbaan sterstatus gegee het.

LEES OOK: Klassieke klanke: Philippe Jaroussky

Sy het dié rol meer as 30 keer net in die Met gesing en toe sy op ’n keer gevra is wat haar geheim is om dié vermoeiende rol oor en oor te vertolk, het sy sonder om te blik of te bloos gesê: “Gemaklike skoene”. Nilsson was bekend vir haar humorsin. Tydens ’n repetisie het sy gemeen Herbert von Karajan se beligting vir Die Walküre was te donker, toe daag sy op met ’n mynershoed met ’n flitslig op haar kop – met Walküre-vlerke en al. Haar verhouding met Karajan was stroef. By ’n ander repetisiegeleentheid het haar string pêrels gebreek en terwyl Karajan haar na die pêrels help soek het, het hy gevra: “Is dit egte pêrels wat jy met jou La Scala-verdienste gekoop het?” Waarop Nilsson teruggekap het: “Nee, dit is nagemaakte pêrels wat ek met jou skamele Wiener Staatsoper-betaling gekoop het.”

Sy het ’n stem gehad wat bokant ’n orkesbesetting van 100 of wat kon uitgalm – klokhelder en presies. Sy was gewis uitgeknip vir die sielkundig komplekse rolle van Wagner en Richard Strauss, onder meer Elektra en Salomé. Die naamrol in Giacomo Puccini se Turandot is dalk nie so ’n omvangryke rol nie, maar wel uitdagend. Dit is ’n rol wat sy eweneens menige keer in die Met gesing het (soveel as 50 keer) en dié karakter met ’n warmte benader het – hoewel sy stemgewys nie teruggehou het nie. In die Arena de Verona, in die buitelug in Italië, het sy as Turandot ’n hoë C gesing wat die mense in die straat laat dink het ’n brandalarm het afgegaan.

Send this to a friend