Kies ’n boek: ‘Slim boeke’

homo-deus-web

Willie Burger vertel hoekom ‘slim boeke’ al gewilder raak

Het jy gedink ons leef in ’n tyd waarin mense al meer in blink vermaak en Twitter-boodskappe belangstel en al hoe minder in boeke wat hulle ’n bietjie uitdaag? Niemand sal jou kwalik neem as jy so dink nie, want die klem op vals nuus, die neiging van politici en glanspersone om deur middel van sosiale netwerke te kommunikeer en die groot bohaai wat telkens op dieselfde sosiale netwerke volg, skep inderdaad die indruk dat mense minder nadink en meer napraat.

Interessante boekverkoopstatistiek uit Brittanje wys egter op ’n onverwagse tendens dat “slim boeke”, daardie niefiksieboeke oor byvoorbeeld politiek, ekonomie, geskiedenis, die omgewing of mediese navorsing, wat nie noodwendig in populêre styl geskryf is nie, maar wat redelik toeganklik is, steeds stygende verkope ervaar. Terselfdertyd is daar ’n afname in die verkope van “glanspersoonbiografie” (celebrity biographies) wat lank bo-aan die topverkoperlyste was. Die verskil tussen die “slim boeke” en glansbiografieë, is dat laasgenoemde ’n paar maande bo-aan die trefferlyste is en dan heeltemal verdwyn.

Baie van die “slim boeke” verkoop nie noodwendig so vinnig nie, maar hulle hou aan om te verkoop, selfs jare lank, en steek uiteindelik só die kortstondige topverkopers verby. Die opvallendste van hierdie soort boeke, en die boek wat seker die “tendens” aan die gang gesit het, was Yehudi Noah Harari se merkwaardige boek oor die geskiedenis van die mensdom: Sapiens. (Sapiens, asook sy opvolger, Homo Deus, is ook hier in Vrouekeur bespreek.) Die Engelse weergawe van Harari se boek (wat aanvanklik in Hebreeus geskryf is) het in 2014 verskyn. Die boek het dadelik goed verkoop, maar verkope het sedertdien nie werklik afgeneem nie.

Volgens die Britse koerant The Guardian het meer as 200 000 eksemplare daarvan in Brittanje verkoop. Nadat Homo Deus, die opvolgboek, in 2017 verskyn het, is ’n verdere 500 000 eksemplare van Sapiens verkoop. Hierdie merkwaardige verskynsel verteenwoordig volgens The Guardian ’n nuwe tendens in boekverkope, naamlik ’n skerp styging in belangstelling in intelligente en uitdagende niefiksie, dikwels eers ’n paar jaar nadat die boek die eerste keer verskyn het. Dit is buitengewoon dat niefiksie aanhou en aanhou om te verkoop. As mens byvoorbeeld dink aan die Suid-Afrikaanse blitsverkoper in die kategorie van niefiksie wat verlede jaar verskyn het, Jacques Pauw se The President’s Keepers, ’n boek wat al die rekords van niefiksieverkope in Suid-Afrika verreweg oortref het, is dit onwaarskynlik dat die boek nog oor ’n jaar of twee herdrukke sal beleef.

LEES OOK: Kies ’n boek: Home Deus deur Yuval Noah Harari

Gewilde niefiksie soos Pauw se boek, is dikwels baie tydgebonde. Mense het hierdie boek gekoop aan die einde van die Zuma-era toe ’n groot deel van die land se inwoners mismoedig oor die regering se magsvergrype was. Die duidelike uiteensettings van die omvang van korrupsie onder die Zuma-administrasie was onthullend, sensasioneel en relevant en daarom het die boek se verkope die stoutste verwagtings oortref. Die soort niefiksie wat stadiger en oor ’n langer tydperk volgehoue verkope ervaar, is nie die sensasionele onthullings of joernalistieke ondersoeke oor befaamde of berugte persone, politiek, ekonomie of sport nie, maar boeke wat ’n breër begrip van die wêreld aan lesers verskaf. Dit is boeke wat ander maniere van dink en van verstaan inspireer.

Dit is moeilik om presies te weet wat hierdie stygende belangstelling in “slim boeke” aanvuur, maar ’n mens kan bespiegel dat dit dalk te wyte is aan die onseker tyd waarin ons leef, ’n tydperk waarin populisme oënskynlik die oorhand kry. Té dikwels word slegs enkele welluidende sinne oor politiek, godsdiens, ekonomie, aardverwarming of die een of ander siekte onnadenkend deur mense versprei – op hul Facebook-bladsye geplaas, op WhatsAppgroepe aangestuur en hertwiet. Op hierdie manier word daar sommer maklik paniek gesaai, wanindrukke geskep en ongefundeerde idees as feite aanvaar.

LEES OOK: Kies ’n boek: The Presidents Keepers Jacques Pauw

Dit wil soms lyk, veral as mens populiste soos Donald Trump of Julius Malema dophou, dat mens enige eenvoudige boodskap net lank genoeg en hard genoeg moet uitskree, dan word dit as die waarheid aanvaar. Teen hierdie agtergrond wil dit lyk asof al meer mense ’n behoefte het aan die genuanseerde inligting wat deur boeke gebied word – langer en deeglike redenasies, deur feite gesteun. Boeke wat meer kante van elke saak ondersoek en wat tot oorwoë standpunte lei. Miskien verklaar die behoefte aan ’n bietjie meer outoriteit in onseker tye die stygende verkope van slim niefiksie wel gedeeltelik, maar mens moet ook in gedagte hou dat niefiksie waarskynlik beter as voorheen bemark word.

As lesers eers ’n wegholsukses soos The President’s Keepers gelees het, is die kans goed dat dit hulle sal stimuleer om meer niefiksie te lees. Harari se Sapiens word in stapels by groot boekwinkels ten toon gestel en talle boeke op die rakke daarnaas kry ook in die lig van die sukses meer aandag. Nog iets wat dalk tot die sukses van niefiksie bydra, is die manier waarop geskryf word. Sonder om in oppervlakkige clichés te verval, maar ook sonder om in akademiese vakjargon verstrengel te raak, is werk soos dié van Steven Pinker en Sam Harris uitdagend en spoor lesers aan om bestaande opvattings uit te daag en vir hulself te dink.

Send this to a friend