Klassieke klanke: Stephen Hough

1019-vk1-hough-web

Benewens ’n loopbaan as klaviervirtuoos met konstante konsert-en opnameverpligtings is hy ook komponis, skrywer en skilder

Deur JOHAN MYBURG

Stephen Hough, die Britse pianis wat op 20 Desember ’n uitvoering van Beethoven se Klavierkonsert no. 4 in Kaapstad gee, is meer as net ’n konsertpianis. In 2009 het The Economist hom in sy lys van 20 “lewende veelweters” genoem – of meer algemeen: ’n Renaissance-man. Benewens ’n loopbaan as klaviervirtuoos met konstante konsert- en opnameverpligtings is hy ook komponis, skrywer en skilder.

Hough is die solis in ’n konsert saam met die Kaapstadse Filharmonie onder leiding van Bernhard Gueller in ’n Beethoven-program wat ook die Leonore-ouverture no. 3 en die Simfonie no. 7 insluit. Hough se spel is al in The Guardian as “die volmaakste klavierspel denkbaar” beskryf en na Hough het die Washington Post as “’n virtuoos wat begin waar ander ophou” verwys. Vroeër vanjaar het hy in ’n onderhoud met die Financial Times gesê hy het op 56 die punt in sy loopbaan bereik waar hy kan kies wat hy wil speel sonder om voortdurend aan die noodsaak te moet dink om ’n reputasie te bou of sy repertorium te verbreed.

Hy het ook nie meer aptyt vir die soort uitsonderlike stukke van vroeër nie, het hy gesê. Deesdae is dit die Brahms- en Beethoven-konserte wat hy as ’n uitdaging beskou. Hough het wyd en syd met al wat ’n vooraanstaande orkes is opgetree en sy solo-uitvoerings het hom reg oor die wêreld geneem. Kort voor sy Kaapse besoek is hy op ’n konserttoer, ook met solo-voordragte, in die Verre-Ooste en Spanje, en ná Suid- Afrika speel hy vroeg Januarie die Dvořákklavierkonsert in Wene en daarna het hy optredes in verskeie stede in Engeland, Wallis en Skotland. In 2009 het hy uitvoerings gegee van al Tsjaikofski se werke vir klavier en orkes, en dit later met die Chicago-simfonie-orkes herhaal.

LEES OOK: Klassieke klanke: David Garrett

Hy het meer as 50 albums op sy kerfstok met ’n rits pryse – onder meer verskeie Grammy-benoemings en agt Gramophonepryse. Sy opname van die Saint-Saënsklavierkonserte is deur Gramophone as die beste opname die afgelope 30 jaar beskryf. Sy komposisies sluit in werke vir orkes, koor, kamerensemble en soloklavier, waarvan heelwat opdragte was, onder meer van die Berlynse Filharmonie, die Gilmorestigting, die Genesis-stigting, Londen se National Gallery, die Wigmore Hall, die Louvre en Musica Viva Australia. Hy is boonop by die Juilliard-musiekskool in New York betrokke en as besoekende professor aan die Royal Academy of Music in Londen verbonde. Sy skryfwerk sluit in gereelde bydraes vir The Guardian, The Times, Gramophone, die BBC-musiektydskrif en The Telegraph.

Vroeër vanjaar het hy sy eerste roman gepubliseer, The Final Retreat, die verhaal van ’n middeljarige Rooms-Katolieke priester wat op sy lewe terugkyk en nadink oor die teenstrydighede wat dreig om sy lewe te verwoes. Hough het op 19 Rooms-Katoliek geword en dit by twee geleenthede sterk oorweeg om ’n priester te word. In 2012 het hy sy eerste solo-uitstalling, Appassionato, in Londen aangebied. Sy versameling abstraksies is as “klein, intiem en juweelagtig” beskryf. Die titel dui op passie as ’n passiewe aksie – iets wat aan ’n mens gedoen word eerder as dat jy dit self doen. “Filosofies gesien vind ek die idee ten opsigte van abstrakte kuns interessant: Die kyker as aktiewe waarnemer, as ‘kunstenaar’ net soveel as die skildery self.” Die konsert in die Kaapstadse Stadsaal op 20 Desember begin om 20:00. Bespreek by Computicket

Send this to a friend