Klassieke klanke: Simon Rattle | Vrouekeur

Klassieke klanke: Simon Rattle

1026-vk1-rattle-web

Sir Simon Rattle

‘Musiek is nie ’n luukse nie, maar ’n basiese behoefte.’ Dit was met dié uitgangspunt wat Simon Rattle sy verantwoordelikheid as dirigent van die Berlynse Filharmonie in 2002 benader het

Deur JOHAN MYBURG

Die Britse dirigent sir Simon Rattle was in Junie vanjaar die laaste keer op die podium voor die Berlynse Filharmonie as dié orkes se musiekdirekteur. Ná 16 jaar as dirigent van dié orkes, waarskynlik die beroemdste simfonieorkes in Europa, keer hy terug Brittanje toe as dirigent van die London Symphony Orchestra.

Sy aanstelling by die Berlynse Filharmonie in 2002 het wenkbroue laat lig. Hy was die eerste Brit wat as dirigent van dié Duitse orkes aangestel is en tradisionaliste het getwyfel oor wat hy met dié juweel in Berlyn se kroon sou aanvang. Maar die skare wat vir die laaste konsert opgedaag het en die luide toejuiging en die blomme van bewonderaars was 16 jaar later ’n aanduiding van die leeueaandeel wat Rattle gehad het om die Berlynse Filharmonie se beeld nie net te poets nie, maar te verruim.

Die 63-jarige Rattle se nalatenskap sluit in ’n kranige openbare-betrekkinge-veldtog, ’n ruimer repertorium, die vestiging van ’n etiket waaronder die orkes CD-opnames maak en verskeie projekte om mense wat voorheen nie uitvoerings van klassieke musiek bygewoon het nie, daaraan bloot te stel. “Musiek is nie ’n luukse nie, maar ’n basiese behoefte.” Dit was met dié uitgangspunt wat Simon Rattle sy verantwoordelikheid as dirigent van die Berlynse Filharmonie in 2002 benader het. Die einste oortuiging het ook daartoe gelei dat Rattle die rol en funksionering van die orkes hersien het: Voortaan sou die Berlynse Filharmonie met sy roemryke geskiedenis ’n sosiale verantwoordelikheid hê om vir almal uit alle dele van die bevolking toeganklik te wees.

LEES OOK: Klassieke klanke: David Garrett

Met die hulp van Deutsche Bank het die orkes ’n onderrigprogram begin, nie om groter gehore te lok of selfs nuwe gehore te ontwikkel nie, maar om te sorg dat die Berlynse Filharmonie die plek moet wees waar onderrig kan plaasvind waarby alle sektore van die ganse en diverse Berlynse gemeenskap kan baat vind. Die onderrig wat Rattle in die oog gehad het, kom daarop neer dat die orkes ’n beskermde plek moes wees waar amateurs die geleentheid kon kry om eerstehands met professionele musici kennis te maak; as ’n belegging in mense en hul vermoëns, sonder om dit aan finansiële gewin te koppel.

Van die professionele musici het dit heelwat geverg. Hulle moes gemaksones vaarwel toeroep en onvoorspelbaarheid verwelkom. Hulle moes bereid wees om risiko’s te neem, foute te maak en as ’t ware weer deel van ’n leerervaring te word. Professionele orkeslede sou op gelyke voet met onervare spelers – dikwels jong mense en kinders – saam ’n rigting moes inslaan. In die eerste seisoen nadat Rattle oorgeneem het, het die Berlynse Filharmonie ’n verhoogproduksie van Strawinski se Le sacre du printemps in ’n ou busterminus in Treptow in die stad aangebied waaraan 250 kinders van 25 lande – die meeste van hulle uit sogenaamde “probleemskole” – ses weke lank onder leiding van professionele musici en choreograwe gewerk het.

Ná die sukses van dié produksie is daar jaarliks ’n soortgelyke projek onderneem, die jongste was in 2012 toe Carmen aangebied is. Die uiteinde van dié voortgaande projek was dat onderrig ’n integrale deel van die orkes se professionele aktiwiteit geword het. Die formaat van konserte het begin verander en ander gehoorprofiele is in ag geneem. Die Russies gebore Kirill Petrenko, voormalige musiekdirekteur van die Beierse Staatsopera in München, het intussen die Berlynse dirigeerstokkie by Rattle oorgeneem.

Send this to a friend