Kuns: Anni Albers

1207-vk1-anniweb

Anni Albers se muurbehangsel Black White Yellow, 1926, in sy en rayon (203 cm × 119 cm)

‘Om kreatief te wees, is nie soveel die begeerte om iets te maak nie as wat dit is om die stem te hoor van wat gemaak moet word’

Deur JOHAN MYBURG

Tate Modern in Londen bied op die oomblik die uitstalling Anni Albers aan – die eerste omvattende uitstalling van dié Duits gebore kunstenaar se werk in Brittanje. Dié uitstalling word allerweë gesien as erkenning wat Anni Albers lankal vir haar bydrae tot 20ste-eeuse moderne kuns en ontwerp, en veral vir haar werk as tekstielontwerper, moes gekry het. Terwyl Anni Albers (1899–1994) se man, die skilder Josef Albers, vandag wyd bekend staan as ’n baanbreker van abstraksie en vir hom naam gemaak het as dosent aan die Bauhaus in Duitsland, het sy grootliks vergete geraak.

Die feit dat haar kunsvorm boonop as “handwerk” getipeer is, het ook nie juis gehelp om haar aan die vergetelheid te ontruk nie. Anni Albers is in Berlyn van Joodse ouers as Annelise Else Frieda Fleischmann gebore en haar droom was om te skilder. Van 1916 tot 1919 het sy by die kunstenaar Martin Brandenburg klas gehad en toe sy haar studie aan die Bauhaus wou voortsit, is sy afgeraai om te skilder. Toe Walter Gropius die Bauhaus in 1919 as die Duitse kuns-enontwerpskool begin het, was dit op die idee van die Gesamtkunstwerk (die gedagte dat daar nie ’n hiërargie in die kunste is nie) geskoei.

En hoewel die Bauhaus se manifes bepaal het dat enigeen, ongeag ouderdom of geslag, welkom sou wees, en hoewel Gropius aangedui het dat daar nie tussen “die skone en die sterk geslag” onderskeid getref sou word nie, het van dié ideale min gekom. Daar is ’n beperking geplaas op die aantal vroue wat kon inskryf en hulle is aangeraai om kursusse in keramiek en weefwerk te volg. Die fokus van die Bauhaus was op argitektuur en ontwerp, waarin die mans uitgeblink het. Op 23 het Fleischmann aan die Bauhaus begin studeer en toe sy nie toegang tot die glaswerkswinkel kon kry nie, waar Josef Albers klasgegee het, het sy haar noodgedwonge op weefwerk begin toelê.

LEES OOK: Kuns: Richard Hamilton

“Om kreatief te wees, is nie soveel die begeerte om iets te maak nie as wat dit is om die stem te hoor van wat gemaak moet word: die voorskrif van die materiaal,” het sy geglo, en besiel deur haar tydgenote, onder meer Paul Klee en Josef Albers, met wie sy in 1925 getroud is, het tekstiel die materiaal geword waarop sy haar oor ingestel het. Sy het op haar handweefstoel met moderne ontwerpe begin eksperimenteer en prototipes vir meganiese produksie begin voorberei. Meganiese produksie was immers die Bauhaus se oogmerk. In 1931, kort voordat die Bauhaus weens druk van die Nazi’s gesluit het, is sy as hoof van die weefwerkswinkel aangestel. Sy het abstrakte modernisme deel van haar ontwerpe gemaak, maar ook nuwe tegnologie ingebring. Sy het met sintetiese vesel en sellofaan begin eksperimenteer om akoestiese panele te vervaardig.

Haar bydrae tot nuwe ontwikkelings in teaterontwerp moet ’n mens nie uit die oog verloor nie. Met die sluiting van die Bauhaus in 1933 is Anni en Josef Albers na die VSA, waar hulle aan die eksperimentele Black Mountain College in Noord- Carolina klasgegee het. In 1949 het sy die eerste ontwerper geword om ’n solo-uitstalling in New York se Museum of Modern Art te kry. Die uitstalling het ook deur die land gereis en haar daarmee as toonaangewende tekstielontwerper in die VSA gevestig. In 1963 het sy met grafiese drukwerk begin en in 1965 is On Weaving gepubliseer. Dié publikasie vorm die hart van die Tate Modern-uitstalling wat tot Januarie te sien is.

Send this to a friend