Klassieke klanke: musiek uit eie bodem

S le Roux Marais, die Afrikaanse komponis, is vanjaar 40 jaar gelede oorlede

Deur JOHAN MYBURG

Praat mens van die Afrikaanse kunslied, is Heimwee van S le Roux Marais die een gunsteling waarvan die meeste mense weet. Dié komposisie het in 1929, 90 jaar gelede, die lig gesien toe Marais van 1927 tot 1930 in Brandfort in die Vrystaat as orrelis en musiekonderwyser gewerk het.

‘n Paar jaar tevore, in 1925, het JRL van Bruggen se gedig “Heimwee” is sy bundel Gedigte verskyn. Van Bruggen was in 1920 op besoek aan Amsterdam, ‘n stad wat hy, aldus PJ Nienaber in Jonger skrywers oor eie werk (1951), as “stug, begrens en, eienaardige genoeg, as jingoïsties aangevoel het”. Dit was in dié gedig waarin “my verlangens na my vaderland vorm gevind het”, het hy gesê.

Marais het by dié gedig aanklank gevind en dit getoonset. In ʼn onderhoud in 1973 met die SAUK het die onderhoudvoerder vir Marais gevra: “Hoe lank het u aan ‘Heimwee’ gewerk?” Marais se antwoord was: “Ag, omtrent twee aande, toe was dit klaar.”Nietemin slaag Marais met sy melodiese inkleding van Van Bruggen se gedig om die luisteraar na die “ewige sonneskyn” mee te voer, wat dit ook al vir ‘n mens mag beteken.

Uit die navorsing wat Helmuth Holzapfel in ‎1992 oor Marais gepubliseer het, blyk dit dat die mediese dokter op Brandfort se vrou, ene mev B du Preez, voor haar troue opleiding as sangeres in Europa gehad het en dat haar geesdrif en kennis van die kunslied die jong komponis ‘n aansienlike hupstoot gegee het. Hy was toe in sy vroeë dertigerjare.Sy waardering vir haar bydrae het hy gewys deur “‘Die roos’ en ander Afrikaanse liedere” in 1930 aan haar op te dra.

Stephanus (Fanie) le Roux Marais is op 1 Februarie 1896 in die distrik van Bloemfontein gebore, maar het in Daljosafat in die Paarl grootgeword en daar op agt klavierles begin neem. Hy het sy hoërskoolloopbaan op Wepener voltooi en hom daarna in Bloemfontein as onderwyser bekwaam. In 1921 is hy Kaapstad toe vir verdere studie en in 1923 na Londen, waar hy klavier en orrel aan die Royal College of Music studeer het.

By sy terugkeer na Suid-Afrika vestig hy hom eers in Bloemfontein en daarna in Brandfort voordat hy van 1930 tot 1940 in Ermelo as orrelis, musiekonderwyser, klaviersolis en komponis gaan werk. Op Ermelo verskyn sy eerste koorboek, Drie gewyde koorstukke, asook sy Fantasie vir orrel. Tydens sy verblyf op Brandfort en Ermelo was Marais op sy produktiefste en dit was in dié tyd dat hy onvergeetlike liedere geskryf het soos Mali, die slaaf se lied met woorde deur C Louis Leipoldt en Met ‘n mandjie rose met woorde deur AG Visser.

Ná ‘n kort verblyf op Wellington gaan woon hy op Graaff-Reinet, waar hy Edith Rex ontmoet. In 1944 verhuis hy na Ficksburg en die volgende jaar is hy en Edith getroud.Die jaar daarop ken die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sy erepenning vir musiek aan Marais toe.Ná agt jaar in Benoni gaan vestig die egpaar hulle in 1956 op Graaff-Reinet, waar Marais tot en met sy dood, op 25 Mei 1979 40 jaar gelede, gewoon het.

Hoewel hy nog liedere soos Rooidag na die gedig van NP van Wyk Louw gekomponeer het, het hy geleidelik minder musiek geskryf en hom meer en meer in sy tweede groot liefde, skilder, uitgeleef.

‘n CD-opname met 40 van S le Roux Marais se kunsliedere 40 jaar later is onlangs met finansiering deur die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans uitgereik. Dié CD kos R200 en is by die FAK-kantoor by die Voortrekkermonument beskikbaar

Send this to a friend