Kuns: Leonardo da Vinci

Omtrent ’n derde van Leonardo da Vinci se skilderye behoort aan die Louvre

Deur JOHAN MYBURG

Vir die 500ste herdenking van die sterfdag van Leonardo da Vinci beplan die Louvre in Parys ’n omvangryke uitstalling in die Europese herfs.Dié Italiaanse meester van die Renaissance is op 2 Mei 1519 in die Loire-vallei dood, ’n klipgooi van die Franse koning Frans I se blyplek in Amboise. Hy was 67. Ná die dood van sy beskermheer, Giuliano de Medici, is Leonardo om en by 1516 Frankryk toe op uitnodiging van Frans I. Leonardo het as “eerste skilder, ingenieur en argitek van die koning” sy intrek in die Château du Clos Lucé geneem, waar hy die laaste drie jaar van sy lewe deurgebring en bly werk het aan die skilderye wat hy van Italië saam met hom gebring het – onder meer die Mona Lisa en die portret van Johannes die Doper.

Ná sy dood het Frans I dié skilderye wat Leonardo saamgebring het vir die koninklike versameling aangeskaf. Omtrent ’n derde van Leonardo se skilderye behoort aan die Louvre. Die Louvre besit ook 22 van Leonardo se uitsonderlike tekeninge. In 2017 het Frankryk ’n ooreenkoms met Italië gesluit om vir dié herdenkingsuitstalling die Louvre se versameling aan te vul met werk van Leonardo wat in Italiaanse besit is. Einde verlede jaar het dit gelyk of daar van dié samewerking niks gaan kom nie toe Italië se populistiese regering, wat intussen aan bewind gekom het, aangevoer het dié ooreenkoms “skuif Italië na die kantlyn van dié kultuurgebeurtenis”. Die Italianers het ook trots gewag gemaak van die feit dat “Leonardo Italiaans was – hy is toevallig in Frankryk dood”. Intussen lyk dit asof die strydbyle begrawe is, maar dit is nog nie duidelik watter werke van Leonardo Parys toe sal gaan nie.

Dit is egter nie die einde van die probleme nie. Die Louvre het aangedui dat hy graag Salvator Mundi, die Leonardo-skildery wat in 2017 sulke opslae gemaak het, in die uitstalling sal wil insluit. Die probleem is (teen die tyd wat die rubriek geskryf is) dat niemand weet waar die skildery is nie. In November 2017 is dié skildery op ’n veiling van Christie’s in New York vir iets soos R6,4 miljard van die hand gesit, en het terstond die wêreld se duurste kunswerk geword. Salvator Mundi (Verlosser van die wêreld) is om en by 1500 geskilder en is ’n voorstelling van Christus in Renaissancekleredrag wat met die regterhand ’n seëngroet gee en in die linkerhand ’n kristalsfeer vashou, ’n simbool van sy heerskappy oor die ganse wêreld.

Daar is aangekondig dat dié skildery in die Louvre in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) te sien sou wees, maar in September verlede jaar is dié geleentheid sonder enige verduideliking gekanselleer. Aanvanklik is vermeld dat ’n Saoedi- Arabiese prins, Mohammed bin Salman bin Abdulaziz Al Saud, die skildery op die veiling in New York gekoop het. Later het dit geblyk die prins het die skildery namens kroonprins Mohammed bin Salman gekoop. Die vermoede is dat kroonprins Mohammed besluit het om die skildery vir homself te hou. Afgesien van die uitstalling in die Louvre in Parys word Leonardo se sterfdag ook elders herdenk. Tekeninge uit die Britse koninklike versameling – aangekoop deur koning Karel II – sal in die Queens Gallery in Londen te siene wees en later vanjaar word nog 85 tekeninge op ’n uitstalling in Edinburg, Skotland, vertoon. Besoek ook www.leonardodavincicelebration. org  

Send this to a friend