Ken jou storie: Geheime

Willie Burger kyk na wat gebeur as ons nie meer geheime het nie

Geheime speel ’n bepalende rol in die meeste stories wat ons vertel. Dink maar net hoeveel verhale gaan eintlik oor die ontdekking van geheime. Mens kom eers aan die einde van ’n speurverhaal agter wie die moordenaar was of waarom die misdaad gepleeg is. Spioenasieverhale gaan altyd oor geheime: – geheime agente probeer regerings se geheime uitvind en dit is ’n geheim wie ’n agent vir watter kant is.

Geheime speel egter nie net ’n deurslaggewende rol in misdaad- en spioenasieverhale nie. Ook in liefdesverhale is daar altyd geheime: Sy wil nie hê almal moet van haar ware gevoelens weet nie. Daar is ’n “donker geheim uit sy verlede” wat sy verhoudings met ander beïnvloed. Hoe is haar liefde of vriendskap tevore verraai? Waarom vind sy dit so moeilik om enigeen te vertrou? Eintlik onstaan die spanning in enige verhaal weens geheime, of ten minste, as mens dit dan nie “geheime” wil noem nie, ontstaan die spanning weens ’n ongelyke verdeling van inligting. Sekere karakters het kennis waaroor ander nie beskik nie. óf die karakters het kennis waaroor die leser nie beskik nie, óf die leser kry inligting waaroor die karakters nog nie beskik nie (die leser weet al dat die wolf om die draai vir die niksvermoedende dogtertjie wag).

’n Goeie verteller hou dikwels inligting terug, sodat daar aan die einde van die storie ’n paar verrassings kan wees. In goeie vertellings is daar al vroeg leidrade wat mens met terugskoue kan raaksien. As inligting op ’n onoortuigende manier teruggehou word, voel die leser gemanipuleer. Eintlik is ons so gewoond daaraan dat mense geheime het, dat ons baie kere agterdogtig teenoor mense se optrede staan. Joernaliste is voortdurend daarop uit om die geheime van politici of bankiers of sakeleiers te probeer ontmasker. (En ons is dankbaar vir die Jacques Pauws van die wêreld.)

Gewone skinder berus natuurlik ook op die ontmaskering en verspreiding van ander mense se geheime (of daardie “geheime” nou die waarheid is of nie). Die idee hieragter is natuurlik dat mense nie betroubaar is nie, dat die oppervlak bedrieg, dat daar meer agter mense se skynbare motiewe lê. Ons vermoed dat ander mense (soos onsself) dinge het wat hulle wegsteek. Ons geheime kan selfs ’n soort private lewe tot gevolg hê wat ons spesiaal laat voel; dat ons anders as ander mense is. Hierdie geheime, of dit strategiese geheime op die slagveld is, of geheime wat my ekonomies beter as die mededingers laat vaar, of selfs ’n geheime bestanddeel in ’n familieresep is, betower ons. Die geheime maak ons nuuskierig.

Om ’n geheim te deel, is ook gevaarlik en gevolglik opwindend. Vir sommige mense is dit daarom ook lekker om geheime te hê. Dit laat hulle spesiaal voel om ’n geheim te hê of om ’n geheim met slegs enkele ander mense te deel. Dikwels het geheime met die oortreding van wette of gemeenskapsnorme te doen sonder dat ander mense daarvan weet. Soms het dit nie eens met die oortreding van daardie wette of norme te doen nie, maar ons fantasieë daaroor wat ons liewer geheim wil hou. In ’n artikel in die jongste Bookforum vra Christian Lorentzen ’n paar vrae oor wat met geheime gebeur in ons tyd waarin die klem op deursigtigheid val, in ’n tyd waarin elektroniese media dit moontlik maak om veel meer as ooit tevore van mens self te deel.

Mense kom agter dat baie van hul “geheime” wat hulle so spesiaal laat voel het, eintlik ook maar ander se “geheime” is; dat die meeste mense dieselfde fantasieë het. Boonop het gemeenskapsnorme ook al so verskuif dat baie gedagtes of handelinge wat dalk nog 30 of 40 jaar gelede tot skaamte sou lei as ander mense daarvan sou weet, nie meer ’n bron van skaamte nie. Dit is dus nie meer nodig om dit geheim te hou nie. Maar dit neem ook mens se gevoel van ’n spesiale private lewe weg. Nie net is daar dalk al minder om oor skaam te voel nie, dit is ook al moeiliker om enigiets geheim te hou (Wikileaks, Guptaleaks).

Ons selfone bewaar presiese inligting oor waar ons was, ons bankkaart laat ’n spoor van ons transaksies en ons rekenaarsoektogte stel Google in staat om ’n duideliker beeld van ons verlangens, ons behoeftes, ons belangstellings en ons idees te bekom as wat ons oor onsself het. Lorentzen beweer dat hierdie situasie tot ’n toestand lei waarin mense selfs nog meer vrees dat hul geheime openbaar gemaak sal word. Nie meer omdat mense soseer skaam is vir hulle geheime gedrag nie, maar omdat die vaalheid en gewoonheid en banaliteit van hul lewe aan ander blootgelê sal wees. Ons groot geheim sal ontmasker word, naamlik dat ons lewens maar net so triviaal en saai soos almal s’n is. Volgens Lorentzen is die onthullings in dagboeke en outobiografiese vertellings nie meer skokkend of vreemd nie, en daarom val die klem in baie outobiografiese romans eerder op die manier waarop dit vertel word, op die selfbewuste maak van ’n storie, as op die vaal geheime wat meegedeel word.  

Send this to a friend