Kuns: Sol LeWitt

‘Sodra die kunswerk uit die hand van die kunstenaar is, het die kunstenaar geen beheer oor die manier waarop die kyker met die werk omgaan nie’

Deur JOHAN MYBURG

“Ek was nie regtig geïnteresseerd in voorwerpe nie,” het die Amerikaanse konseptuele kunstenaar Sol LeWitt (1928–2007) aan die einde van sy lewe prontuit erken. “Dit was idees wat my aandag geboei het.”

Op 27 het LeWitt ’n betrekking as grafiese ontwerper by IM Pei, die Chinees- Amerikaanse argitek wat in daardie jaar, 1955, sy eie firma begin het, aanvaar. Dié ervaring was bepalend vir die res van LeWitt se loopbaan. Die manier waarop argitekte werk, het hom laat besef dat kuns niks anders is nie as bouplanne wat opgestel word sodat iemand anders uitvoering aan die idees kan gee. Soos wat die argitek die planne aan die konstruksiespan oorlaat, het hy aangevoer die kunstenaar in staat gestel moet word om met werk vorendag te kom wat iemand anders kan uitvoer … of wat selfs nooit gemaak word nie.

Die maak van die werk was bowenal nie die belangrike saak nie. Die uitdink, die idees vir ’n kunswerk, dít is waaroor dit gegaan het. Die instruksies wat LeWitt aan sy assistente wat die werk moes maak – of dit nou tamaai muurtekeninge of beeldhouwerk was – was dikwels met opset só vaag dat die eindproduk nie presies was wat hy in gedagte gehad het nie. Maar op dié manier het LeWitt op die grondliggende en aanvaarde sienings omtrent kuns en die outoriteit of outeurskap van die kunstenaar, veral in die proses van kunsproduksie, kommentaar gelewer.

In die wêreld van konseptuele kuns – waarin LeWitt ’n leidende figuur was – is die idee, die gedagte as vertrekpunt, belangriker as die formele of estetiese komponente geag. Vir LeWitt kon kuns werklik ter wille van kuns bestaan. Betekenis was selfs nie ’n voorvereiste nie. As voorloper van moderne kuns het Paul Cézanne (1839–1906) ’n jong kunstenaar dié raad gegee: “Benader die natuur aan die hand van die silinder, die sfeer en die kegel.” Dit was in wese die manier waarop Cézanne met behulp van geometrie en in die afwesigheid van detail uitdrukking aan die vroeë Kubisme gegee het.

LEES OOK: Kuns: Auguste Rodin

Jare later het LeWitt dié raad letterlik opgeneem. Eenvoudige geometriese vorms het sy boublokke geword. Abstrakte ekspressionisme – wat in die 1950’s groot was in die VSA – het hom nie getrek nie. Strukture het hom geboei en toe hy in die vroeë 1960’s beeldhouwerk begin maak het, was dit kubusagtige strukture in swart en wit. Later het hy ’n beperkte palet kleur ingesluit. Die kyker kon sy of haar gedagtes in die latwerk van lyne laat loop. Of nie. Dit was die keuse waarmee LeWitt die kyker gelaat het.

’n Mens moenie die rol van humor, of dan eerder die speelse element, uit die oog verloor wanneer jy na LeWitt se werk kyk nie. In 1968 het hy ’n kubus in ’n tuin begrawe. Die titel van dié werk was Buried Cube Containing an Object of Importance but Little Value. Die proses is gedokumenteer en in een foto (regs bo) poseer LeWitt by die kubus. Aan die een kant is dié werk as ’n afskeid aan moderne kuns gesien. Aan die ander kant het LeWitt daarmee aan die idee van “die dood van die outeur” uiting gegee. “Sodra die kunswerk uit die hand van die kunstenaar is, het die kunstenaar geen beheer oor die manier waarop die kyker met die werk omgaan nie,” het hy geskryf. “Verskillende mense sal dieselfde voorwerp op verskillende maniere verstaan.”

Send this to a friend