klassieke klanke: Pablo Casals

Die gewildheid van Johann Sebastian Bach se ses tjellosuites is grootliks aan Pablo Casals te danke

Deur JOHAN MYBURG 

In 1969 het die Amerikaanse komediant George Carlin ‘n onderhoud met die Spaanse tjellis Pablo Casals vir die Archive of American Television gevoer. “Waarom oefen jy op 93 nog daagliks drie uur lank?” wou Carlin weet. Waarop Casals geantwoord het: “Ek begin nou ‘n bietjie vordering toon.”

Pablo Casals (1876–1973) was die man wat in die laat-1890’s in ‘n pandjieswinkel in Barcelona op die bladmusiek van die Bach-tjellosuites afgekom het. Teen daardie tyd het die ses suites vir solotjello geen openbare statuur gehad nie en is dit grootliks as oefenstukke gebruik.  Hy het dit instudeer en in konserte begin voordra. Dit was nie net die vestiging van dié Bach-werke in die tjelloliteratuur nie, maar ook van Casals se kunstenaarskap.

Dertig jaar later het Casals ‘n opname van dié suites gemaak, wat dié introspektiewe en besielde musiek ‘n nóg groter reikwydte gegee het, en Casals se interpretasie en vertolking daarvan is wyd nagestreef. In 1954 het Casals in die Rooms-Katolieke klooster Saint-Michel-de-Cuxa in Prades, ‘n klein doprie in Frankryk digby die Spaanse grens, ‘n uitvoering van Suite no. 1 gegee, wat op video vasgelê en op YouTube beskikbaar is. Grinterig en dalk nie die beste opname nie, maar die ware Jakob. Onder die EMI-etiket is daar verskeie goeie Casals-opnames op CD beskikbaar en ook opgeknapte weergawes van vroeë opnames.

Casals, gebore Pau Casals i Defilló in El Vendrell in Katalonië, was nie net ‘n befaamde tjellis nie, maar ook dirigent en komponis. Hy was tot en met die uitbreek van die Spaanse Burgeroorlog in 1936 die dirigent van die Orquesta Pau Casals in Barcelona. Aangesien hy hewig teen die diktatorskap van Francisco Franco gekant was, het Casals die land in 1938 verlaat en hom in Prades gaan vestig. Hy het gesweer hy sou nie weer in Spanje optree so lank Franco aan bewind was nie. Franco se bewind het in 1975 tot ‘n einde gekom, twee jaar ná Casals se dood.

Só vurig was Casals se oortuiging dat hy byvoorbeeld geweier het om in lande op te tree wat die regime van Franco erken het.  Die een uitsondering was die VSA, toe hy in 1961 deel van ‘n kamerkonsert in die Withuis was. Casals het groot respek vir pres John F Kennedy gehad. Sy bekendste komposisie is waarskynlik La sardana (‘n tradisionele Katalaanse dans), ‘n werk wat hy in 1926 vir ‘n tjello-ensemble geskryf het. Sy oratorium El pessebre (Die krip) is in 1963 by die VN in New York uitgevoer, en een van sy laaste komposisies, Hymn of the United Nations, is in 1974 by die VN uitgevoer. By dié geleentheid het U Thant, die destydse sekretaris-generaal van die VN, dié liggaam se vredesprys, aan Casals oorhandig.

In sy beroemde bedankingstoespraak het Casals ‘n lansie gebreek vir Katalaanse selfbeskikking deur sy toespraak te begin met “Ek is ʼn Katalaan.” Hy het onder meer aangevoer dat Katalonië die eerste demokratiese parlement gehad het, lank voor Engeland.

Casals is in San Juan, Puerto Rico, dood en is daar begrawe. In 1979 is hy in Spanje, in El Vendrell herbegrawe, die dorpie waar hy gebore is. Sedert 2000 word die internasionale Pau Casals-tjellokompetisie elke vier jaar in Kronberg en Frankfurt am Main, Duitsland, aangebied. Een van die pryse sluit die gebruik van een van die Gofriller-tjello’s in wat aan Casals behoort het.  

Send this to a friend