Klassieke klanke: Juliette Gréco

juliette greco

‘Haar stem is soos ’n warm lig wat die smeulende kole in ons aanblaas

Deur JOHAN MYBURG

“Ek is geen Maria Callas nie,” het die Franse chanteuse Juliette Gréco ’n paar jaar gelede in ’n onderhoud erken. “Maar,” het sy bygevoeg, “ek het ’n verstommende loopbaan gehad, met optredes reg oor die wêreld, voor groot gehore.”

So het sy byvoorbeeld ’n uitermate groot gehoor tydens haar eerste konsert in Rio de Janeiro getrek. Dit was in 1951, lank voor haar roem in Frankryk, wat nog te sê wêreldwyd. “Duisende kaartjies het in een dag uitverkoop. Ek was verbaas,” het die 87-jarige Gréco in 2014 in ’n onderhoud met The Guardian gesê. “Tot ek besef het ’n plaaslike koerant het ’n berig geplaas dat ek naak gaan optree. Al wat hulle wou sien, is ’n Franse vrou, kaal op die verhoog.” Was dit pure wensdenkery aan die koerant se kant? Hoe sal ’n mens weet.

Gréco, nou 90, het van vroeg af ’n magnetiese aantrekkingskrag gehad en dis g’n wonder nie dat fotograwe soos Henri Cartier- Bresson en Robert Doisneau foto’s van haar geneem het. Kort ná die besoek aan Brasilië het sy haar as die “muse in swart van Saint- Germaine-des-Prés” gevestig. Voortaan sou sy swart klere met slegs maskara as grimering dra. “Swart bied ruimte vir die verbeelding,” het sy volgehou. Dit was met die 1930’streffer Parlez-moi d’amour, dié chanson oor die liefde, waarmee Gréco haar deurbraak gemaak het. Sy het komponiste soos Joseph Kosma gekry om vir haar gedigte van onder andere Jacques Prévert te toonset. Boonop het Albert Camus en Jean-Paul Sartre ook vir haar chansons geskryf.

LEES OOK: Klassieke klanke: Igor Strawinski

Dit was Sartre wat opgemerk het: “Gréco het ’n miljoen verse in haar stem. Dit is soos ’n warm lig wat die smeulende kole in ons aanblaas … In haar mond word my woorde edelstene.” Gréco het inderdaad nie ’n Callas se vokale omvang gehad nie. Haar benadering tot sing was veel meer ’n praatstem as ’n sangstem, en boonop een wat gaandeweg dieper en rokeriger geword het van ’n leeftyd se Gauloises (of dalk Gitanes). ’n Mens sou haar stemkwaliteit met dié van Marlene Dietrich kon vergelyk: herfsblare wat onder leerstewels verkrummel. Dit was haar charisma en ’n trek vir drama wat haar as sangeres so onweerstaanbaar gemaak het. Maar dalk ook as mens. Talle mans en vroue het hulle onmiddellik tot haar aangetrokke gevoel.

Daar is gerugte van ’n liaison met Sartre, daar is bewyse van ’n verhouding met die filosoof Maurice Merleau-Ponty en ’n nog vuriger verhouding met die jazz-virtuoos Miles Davis. “Waarom trou Miles nie met haar nie,” wou Sartre van hom weet. “Ek is te lief vir haar om met haar te trou,” het Davis gesê. “In die VSA sal ek as ’n ‘neger se houvrou’ gesien word en dit sou my loopbaan ruïneer,” het Gréco in die Guardian-onderhoud gesê. Benewens die “muse in swart” het sy ook mettertyd as “die muse van die eksistensialisme” begin bekendstaan. Gréco is drie keer getroud. Die eerste keer met die akteur Philippe Lemaire. Haar tweede man was die akteur Michel Piccoli. In 1988 is sy met die pianis en komponis Gérard Jouannest getroud – tot en met Jacques Brel se dood in 1978 dié se vaste begeleier. Sedert 1950 het Gréco 28 albums opgeneem, die laaste, Merci, in 2015. In 2013 het sy Gréco chante Brel uitgereik, haar interpretasie van treffers wat Brel onsterflik gemaak het.

Send this to a friend