Kuns: Stéphane Breitwieser

Die waardevolste werk wat Breitwieser nóg gesteel het, is ’n werk van Lucas Cranach die ouere. Die waarde is in 1995 op tussen £5 en £5,6 miljoen bereken

Deur JOHAN MYBURG

Kunsdiefstal wat die nuus haal, is gewoonlik gevalle waarin kunswerke ter waarde van miljoene gesteel word. Soms word die werk teruggekry, soms nie.Dink maar aan Blik op Auvers-sur-Oise, die skildery van Paul Cézanne wat in 2000 uit die Ashmolean in Oxford gesteel is. Terwyl almal besig was om Nuwejaar te vier, het diewe ’n gat in die dak van die museum gemaak en dié skildery ter waarde van £3 miljoen gesteel. Die skildery is nooit opgespoor nie.

In 2005 het diewe ’n bronsbeeld van Henry Moore, Reclining Figure 1969/70, op die Perry Green-landgoed van die Henry Moorestigting in Hertfordshire gesteel. Die diewe het glo die beeld van 3,6 m x 2 m x 2 m en wat 2,1 ton weeg met behulp van ’n hyskraan op die bak van ’n Mercedes Benz-trok gelaai en daarmee verkas. Die beraamde waarde van die beeld was destyds £3 miljoen. Die polisie-ondersoek het destyds daarop gedui dat die beeld vir sy skrootwaarde gesteel kon geword het. Dikwels is die diefstal kleiner, minder opspraakwekkend, en is die buit ook nie noodwendig soveel werd nie.

Die berugte Franse kunsdief Stéphane Breitwieser, wat onlangs weer deur die polisie in hegtenis geneem is nadat hy ’n gesteelde 19de-eeuse papiergewig op eBay probeer verkwansel het, steel op heelwat kleiner skaal. Die eerste skildery wat hy gesteel het, was in 1995 tydens ’n besoek aan ’n Middeleeuse kasteel in Duitsland. Die klein skildery wat sy aandag getrek het, het hy gewoon van die muur losgemaak terwyl sy meisie ’n ogie gehou het en met die skildery onder sy baadjie by die kasteel uitgeloop. Daarna het hy hom op kleiner instellings begin toelê waar die sekuriteit nie so waffers was nie.

Breitwieser is in 2011 die eerste keer in hegtenis geneem en het erken dat hy meer as 250 kunswerke en artikels in museums, galerye en by afslaers gesteel het. Die buit het hy in sy ouerhuis geberg – nie om te herverkoop of om geld daaruit te verdien nie, maar omdat hy hom as kunsversamelaar sien. Sy ma het, in ’n poging om haar seun te red, meer as 100 kunswerke ter waarde van $30 tot $40 miljoen wat in die huis was, vernietig. Sy is ’n vonnis van drie jaar tronkstraf vir dié daad opgelê, waarvan sy net 18 maande uitgedien het. Van die werk waarvan sy ontslae geraak het, was skilderye en tekeninge van Cranach, Bruegel en Watteau. Haar seun se voorliefde lê immers by die meesters van die 16de en 17de eeu.

Vroom vrou wat sy is, kon sy volgens The Art Newspaper dit nie oor haar hart kry om ’n Middeleeuse beeld van die maagd Maria te vernietig nie, en dié het sy in ’n kapel in ’n woud agtergelaat. Die waardevolste werk wat Breitwieser nóg gesteel het, is ’n werk van Lucas Cranach die ouere. Die waarde is in 1995 tussen £5 en £5,6 miljoen bereken en dié skildery is op ’n voorskou van Sotheby’s gesteel. Breitwieser is al by geleentheid tronkstraf van ses jaar opgelê, maar is ná 25 maande vrygelaat. Daarna is hy by twee geleenthede weer vir diefstal in plaaslike museums in hegtenis geneem. In 2006 het Breitwieser se outobiografie, vertaal as “Belydenisse van die kunsdief” in Frans verskyn en die volgende jaar het die Duitse vertaling verskyn.

Send this to a friend