Ma van die jaar: Faux pas

ma_van_die_jaar

Zerelda Esterhuizen

Ken jy daai gevoel? Die een waar jy eers bloedrooi word, dan doodsbleek en dan aan ’t bewe gaan?

Jy het ‘n groot fout gemaak en dit het in ‘n verleentheid ontaard. Jy skaam jou morsdood en wens die aarde sluk jou in.

Kyk, ek wens ek kon sê ek het die gevoelente nog net een keer beleef, maar nee. Ek het dit al male sonder tal gehad.

Nie net by die werk nie, maar ook in ‘n persoonlike hoedanigheid. Ek is geneig om veral as ek senuweeagtig in geselskap is, die stilte te probeer breek met iets heeltemal onvanpas of iets te sê wat net vir my snaaks is en my dan daarna dood te skaam.

Onlangs stuur ek vir my man sommer drie e-posse in een oggend, onder meer een waarin ek kyf oor iets en ook sommer ons finansies bespreek. Ek stuur dit egter nie net aan hom nie, maar na die e-posadres wat na sy hele departement toe gaan.

Hy SMS my in wilde paniek. Ek skaam my morsdood en kry sommer dadelik ‘n spastiese kolon en ‘n bewerasie wat eers lank ná middagete bedaar.

Die kinders het my natuurlik ook al in groot verleenthede laat beland, want kinders hoor mos als wat jy sê al dink jy hulle luister nie so aandagtig nie. ‘n Mens dink mos nie voor jy voor klein mensies praat nie.

“Mamma, ek het vir Juffrou gesê jy weier om enigiets skool toe te stuur of te doen as jy nie ‘n ordentlike omsendbrief kry nie.”

“Mamma, ek het vir Juffrou gesê jy sê die skool soek net geld en ons is te arm om heeltyd geld te stuur.”

Of die keer toe Zander kliphard in die kerk se moederskamer gevloek het. Hy was nog baie klein en het deur ‘n vloekstadium gegaan – ek weet natuurlik glad nie waar hy aan die f-woord gekom het nie, maar hy het dit gereeld gebruik en vir my en sy pa groot konsternasie veroorsaak.

Só sit ek met my twee engeltjies in die moederskamer – al twee pragtig in hul Sondagklere uitgevat. Dis stil in die vertrek, die dominee se stem kom rustig deur die luidspreker en ons hoor net die gerusstellende tjoer-tjoer van die waaiers. Boetie piep en vra of Mamma nie asseblief vir hom een van die boeke op die rak kan bring nie. Ek sê dis die kerk se boeke – ons het mos vir hom ‘n boekie in sy rugsak saamgevat. Boetie se lippies trek dun: “Mamma, bring die f … n boek nou!”

Ek word bleek, rooi, pers en al die ander kleure van die reënboog en sis deur droë lippe wat ek aan hom gaan doen as hy ooit weer daai woord sê. Was dit ‘n gedempte gegiggel wat ek van die ander kerkgangers gehoor het of het ek my die geskokte intrek van asems verbeel? Ek weet nie, ek het nie rondgekyk nie – net stip voor my gestaar.

Gelukkig maak ek nie net foute nie en soms doen ek ook iets reg of wel, amper reg.

“Mamma, jy het my boeke en skoolgoed perfek skool toe gestuur. Juffrou sê jy is ‘n spogmamma.”

Ek glimlag, ‘n bietjie verlig én verbaas: “Regtig? Kan jy nou meer.”

Ziani leun vorentoe en haar stem is sameswerend: “Mamma, weet jy, jy was nog nooit ‘n spogmamma nie!”

Send this to a friend