Ma van die jaar: Geniet die nou | Vrouekeur

Ma van die jaar: Geniet die nou

MA_VAN_DIE_JAAR

Dis verjaardagseisoen in die Esterhuizens se huis met ons jongste wat volgende week sewe word en ons oudste wat in Oktober tien word.

Hoe ons dit reggekry het om twee kinders se verjaardae so na aan mekaar en albei voor pay day te laat gebeur, is ‘n ander storie!

Dit klink so cliché-agtig, maar ek kan nie glo tyd vlieg so vinnig verby nie. My ou skreebaba wat my met sy gehuil in ‘n doodse sweet gehad het, is nou ‘n bekkige, liefdevolle seunskind met die beste humorsin. My oudste, wat eers op drie deurgeslaap het,  is die ernstige een,  ons planmaker-kind, wat heerlik kan lag en vrae en menings oor net mooi als het. Tyd vlieg inderdaad.

Lees ook: Ma van die jaar: Wat sal jy vir jou jong self sê?

Dit voel soos net gister toe ek na daardie piepklein baba in my arms gekyk en sy in my oë opgekyk het (sy het hoeka toe al ‘n kritiese blik gehad). Dis asof sy wou sê-vra: “Jy weet nie wat jy doen nie, nè?” En ja, ek het nie geweet wat ek doen nie en weet steeds nie eintlik nie. Ek voel-voel so my pad af op hierdie reis wat hulle ouerskap noem en maak foute –  hope daarvan.

Ek het hierdie nou die dag raakgelees. Dis blykbaar lirieke van ‘n Kenny Chesny-liedjie.

“Don’t blink, just like that you’re six years old and you take a nap and you wake up and you’re twenty-five and your high school sweetheart becomes your wife. Dont’ blink, you just might miss your babies growing like mine did.”

As jy jou oë knip, is die tyd verby. Ek probeer soms onthou wat my kinders op ‘n sekere ouderdom gedoen het, maar dis klaar weg. Die honderde kosbare oomblikke het klaar vervaag. Mens vergeet gou. Ek onthou nog hoe ek my babas in die nagtelike ure omgesus het. Hoe ek in die verkeer byna aan die slaap geraak het van moegheid. Hoe slaap my grootste droom was. En nou is hulle soveel groter en ons beleef die wonder van ‘n Sondagmiddagslapie. Kan jy glo!? Ons kinders is oud genoeg sodat hulle die ou mense uitlos as hulle gaan dut. ‘n Wonderwerk voorwaar.

Mens kan nou met hulle gesprekke voer en dis vir my so lekker om hulle te sien ontwikkel. Die dramas en issues verander. Die duur pryse van doeke en blikmelk is nou deur judo- en klaviergeld vervang. Hulle moan nou nie meer oor tandekry nie, maar oor maatjies en skoolwerk. Ons staan verwonderd oor hierdie twee mense wat net nou die dag twee kleine mensies was.

Die minute met hulle word dae, en die dae word jare.  Hoeveel kere kla ons nie oor die gejaag van dit als nie. Dis ‘n gejaag van die een dag ná die ander. Dis huiswerk saam met die een, dan weer ‘n toets saam met daai een, dan weer dit en dat by die skool.  Maar soms moet jy net stilstaan, want as tien jaar so vinnig verbygaan, gaan ons binnekort sien hoe ons oudste gaan swot en uit die huis trek? Dit maak my bang en benoud!  Soms moet mens net sê: “Stop die horlosie en kom ons fokus net op nou.”

Lees ook: Ma van die jaar: Lesse vir my dogter

Kom ons geniet elke oomblik saam met hulle. Nou.  Luister as ‘n seuntjie jou vertel van sy “victory” op die Fortnite-speletjie en as ‘n dogtertjie jou vertel van haar volgende slymerige DIY-projek. Haal soms die koeksoda uit en doen daai eksperiment al is jy nie lus nie. Kyk saam met hulle na een van hul dodelik vervelige TV-programme. Lag oor die soveelste skoolgrappie al is dit niks snaaks nie. Luister as hulle praat en probeer dit in jou brein registreer hoe hulle nou is. Want sien, “nou”  gaan baie vinnig verby. En as jy weer sien, word piepklein, rosige babas peuters, kleuters, tweenies en tieners.  Moenie jou oë knip nie!

Send this to a friend