Ma van die jaar: Aan die “nerds” en ander randfigure

MA_VAN_DIE_JAAR

Die jaar het skaars begin of my oudste is in trane. “Mamma, die kinders by die skool hou nie van my nie, hulle sê ek is ’n nerd omdat ek die antwoorde in die klas ken.”

Ek en haar pa begin met ‘n lang preek oor hoe cool nerds regtig is, hoe hulle uitstyg, kyk net hoe cool ons geliefde Big Bang Theory nerds is! En wat van Bill Gates, die skatryk nerd met die mooie hart? ‘n Ware filantroop.

Maar dis nie wat ‘n tienjarige wil hoor nie. Sy wil aanvaar word, sy wil van gehou word. Sy wil, ag Vader tog, so graag cool wees.

Hoekom is dit op skool so belangrik om aanvaar te word, selfs al is dit deur mense van wie jy nie eens hou nie. Jy wil net behoort en nog beter in die sogenaamde “cool groep” wees.

Ongelukkig sal klieks altyd met ons wees, daar was nog altyd klieks, dit is seker maar ‘n evolusionêre proses – onthou as wilde veldbewoners moes ons voorouers maar saam gekliek het anders het hulle hul dinges in die veld teen die wilde diere en ander vyande gesien.  Ek was ook daar. Nou nie in die veld nie, maar ook soekend na aanvaarding.

Op skool was ek ‘n propperse nerd, en jammer, my liewe oudste, jy het jou geek-gene by Mammie geërf.

Is daar ‘n groter geek as die een wat pouses saam met jou beste maat sit en lees? Ek is ernstig mense, ontmoet Zerelda in standerd ses. Ek en my beste vriendin het pouses eenkant toe geskuif en daar oor ons grondboontjiebotterbroodjies ons boeke gesit en lees.

Deur die skooljare was ek deur al wat proses is om cool te wees, maar ek dink ek het dit so duskant 40 nog nie reggekry nie, al sê my kinders darem ek is die coolste ma wat hulle ken.

LEES OOK: Ma van die jaar: Jy weet jy het kinders in die laerskool as jy …

Ek was van ‘n hippie tot ‘n rock chick (steeds een in my hart!) op skool, het selfs die rookding probeer, maar steeds was ek soos die spreekwoordelike square peg in a round hole. My blokkie wou nie pas nie. As ek nou terugdink, het ek die beste vriende gehad en moes ek net gelukkig gewees het met wie ek was, maar jy is mos nooit net tevrede en gelukkig nie. Ons was boonop goed arm en daar was nie geld vir die klere en dinge wat my cool-faktor kon opstoot nie. Dan was (is!) ek nog hemelslank ook en het my lengte verpes – ek het permanent soos ‘n vraagteken geloop om by my korter maats te pas. Ek wou tog net in-blend.

Ek wonder hoekom kan mens as skoolkind nie altyd onderskei tussen die goeie mense en die minder gawe mense nie? Het jy nog nie die vermoë om ‘n hart raak te sien nie? Ek wou soms vriende wees met die minder goeie mense. Gelukkig verander dit.

Ek het eers toe ek gaan swot het, besef wie ek regtig is en met mense gemeng waarvan ek regtig hou. Ek kon myself wees en kon uit die honderde boksies breek waarin ek myself oor die jare geplaas het. Natuurlik het ons daai natuurlike behoefte dat ons wil hê mense moet van ons hou, maar vandag is ek gelukkig met wie ek is. Of jy van my hou of nie. ‘n Ma, ‘n mens, iemand wat simpel grappies maak en die hardste vir haar eie simpel grappies lag. Skryf en lees maak my gelukkig, opera laat my huil, ek het ‘n musieksmaak so wyd soos die Heer se genade, ek bestuur te vinnig, ek vloek te veel, ek is ‘n dromer met drome wat groter as my begroting is. Ek is mal oor my man en my kinders. Ek maak foute, hope daarvan, maar ek staan altyd weer op. Ek is my eie mens en ek hou van myself – plooie, foute en selluliet ten spyt.

Daarom wil ek vir die sogenaamde nerds en ander randfigure sê: Staan sterk, wees moedig, jy gaan deur skool kom en dit oorleef. Op ‘n dag gaan jy ontdek wie en wat jy regtig is en dan gaan jy besef dat boksies onnodig is. En jy gaan leer dat jy ook jou eie beste vriend kan wees. Viva die randfigure.

Send this to a friend