My kind wil nie skool toe gaan nie!

my_kind_wil_nie

Die eerste kwartaal is verby en jy kan nie verstaan dat jou kind steeds huilerig voor skool is nie. Hoekom en wat kan jy doen?

Zerelda Esterhuizen

Lynette* is ses jaar oud en in graad 1. Sy’s ‘n gelukkige, intelligente dogtertjie en is gek daaroor om dinge te leer en te ontdek. Sy was mal oor haar ou kleuterskool en haar onderwyseres, maar vandat sy in die laerskool is, was daar nog net ongelukkigheid, kla haar ma.

“Lynette is elke oggend temerig voor skool. Ek het reeds haar juffrou gaan sien en die vrou is baie gaaf en akkommoderend. Dis nie asof Lynette niks van haar juffrou hou nie, dit lyk asof sy net nie lus is om skool toe te gaan nie. Ek weet nie meer wat om te doen nie!”

Liezl Malan is ‘n beradingsterapteut en lewensafrigter van Kimberley.

“Dis vir die ouer net so stresvol en ontstellend as kinders steeds tranerig ná die eerste kwartaal is. Daar is bewys dat skeidingsangs gewoonlik op die ouderdomme van vyf & ses en tien & elf voorkom. Dis gewoonlik ‘n situasie wat hulle moontlik sal ontgroei en dit behoort mettertyd weer beter te gaan.”

Liezl se wenke:

· Hou by ‘n roetine soggens voor skool. Wees ferm, maar liefdevol met die aflaai. “Mamma gaan nou loop en ek gaan jou nou-nou weer kom haal.” As jou kind siek was en moet teruggaan skool toe, berei hom of haar voor. Dis belangrik om te kommunikeer.

· Reageer kalm op die situasie. Hoe meer angstig Mamma of Pappa voorkom, hoe erger gaan die kind dit hanteer.

· As jy jou kind wil motiveer om skool toe te gaan, gebruik dinge soos ‘n verrassing in die kosblik of “Mamma gaan vanmiddag saam met jou na jou gunstelingprogram kyk.”

· Raak ook betrokke by skoolaspekte. Sit en gesels oor die huiswerk.

· Stel belang in jou kind se skoolwerk en motiveer hom of haar om by fisieke skoolaktiwiteite betrokke te raak.

· Bou ‘n goeie verhouding met die onderwyser en wys só vir jou kind dat jy die onderwyser vertrou.

Maak skoolgaan makliker

Die ouerskapswebwerf www.ahaparenting.com gee dié wenke:

1. Verduidelik aan jou kind se onderwyser dat jou kind sukkel om aan te pas en ekstra aandag in die klas nodig het. Die onderwyser kan dalk ‘n spesiale takie vir jou kind gee.

2. Nooi maatjies oor om te speel en help só dat jou kind met ander kinders bind.

3. As jou kind sukkel om jou in die oggend te groet, skep ‘n spesiale ritueel met ‘n rympie of spesiale wuif. Jy kan ook dalk ‘n briefie in die kosblik sit of ‘n klein gelamineerde gesinsfoto in sy of haar tas sit.

4. Stel jou kind gerus dat iemand hom of haar altyd by die skool sal kom haal.

5. Maak grappies en laat jou kind voor skool lag om die angstigheid te verlig.

6. Gee jou kind ekstra liefde en aandag; lê dalk so ‘n paar minute in sy of haar bedjie in die aand en gesels oor als wat by die skool gebeur.

7. Deel jou eie positiewe skoolstories met jou kind (al moet jy dit opmaak!).

8. As jy agterkom dat daar ernstiger kwessies is, soos ‘n boelie wat jou kind teiken of jou kind is te bang om in die klas te praat, gee dadelik aandag. Vra kalm uit oor wat presies gebeur en maak seker dat jou kind jou sonder angstigheid kan nader.

9. Skep ‘n kalm oggend- en aandroetine by die huis en maak seker dat jou kind genoeg slaap kry.

As die rooi ligte flikker

Liezl noem die volgende as gevaartekens wanneer dit nodig sal wees om professionele hulp in te roep en die skool te gaan sien:

Jou kind …

… wil vir weke nie skool toe gaan nie.

… onttrek van vriende en familie.

… ervaar erge vrees of skuldgevoelens.

… het chroniese klagtes van siektes.

… is te bang om die huis te verlaat.

*Skuilname

Kontak Liezl by [email protected] of besoek  haar webtuiste

Send this to a friend