Terug skool toe

Die vakansie is verby en menigte ouer slaak ’n sug van verligting daaroor! Maar nou moet almal weer terug in roetine kom. Hier is wenke om dinge makliker te maak

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

1. Laat kinders aantrek voor hulle ontbyt eet

Dan trek hulle vinniger aan en daar word nie nog kouse gesoek op pad kar toe nie.

2. Pak kosblikke die aand voor die tyd

Dis dalk nie moontlik met als wat in die kosblik gaan nie, maar as alles in die oggend regstaan, maak dit net dinge makliker. Dis ook lekker as ‘n mens een kas het vir al die kosblikke en waterbottels.

3. Laat kinders voor hulle bed toe gaan, hul tasse pak en dit naby die voordeur sit

Dit help dat daar minder in die oggend rondgehardloop word en daar word nie nog na boeke gesoek nie.

LEES OOK: My kind haat skool

4. Hou die ontbyt so eenvoudig as moontlik

Sit sommer eetgerei en borde ook die aand voor die tyd reg sodat ontbyt vinnig kan verloop.

5. Kry ‘n werkstasie

Leer die kinders om hul skoolbriewe op een plek neer te sit sodat jy altyd kan sien as daar kommunikasie van die skool af is. Vind ook uit of jul skool ‘n Communicator het. Dit maak kommunikasie baie makliker.

6. Maak seker dat als gemerk is

My dogtertjie het al twee truie hierdie jaar verloor en my seunskind ‘n baadjie. Dit sou gehelp het as dit ordentlik deur hul ma gemerk was!

7. Kyk na die skryfbehoeftes

Het jou kind alles wat nodig is vir die nuwe kwartaal? Kyk bietjie na die skryfbehoeftes en was pennesakkies en tasse.

8. Herinner julself

As jy bang is julle vergeet iets belangriks, plak die aand voor die tyd ‘n nota teen die deur met die items wat julle moet onthou.

9. Kry ‘n skedule

‘n Skedule is noodsaaklik as jy kinders het wat allerlei buitekurrikulêre dinge doen. Slimfone het vandag oulike kalenders en en daar is ook allerlei toeps wat organisasie makliker maak. IPhones se “Calendar” kan byvoorbeeld met die hele gesin se kalender “sync” en só kan almal weet wat aangaan.

Sterkte vir die nuwe kwartaal!

Send this to a friend