‘Ek gaan skool toe!’

’n Aksieplan vir elke dag sal verseker dat jou kind die skooljaar op ’n hoë noot afskop

Deur: Carien Grobler

Die eerste dag van die skooljaar is op ons en die gedagte daaraan laat sommige kinders met opgewondenheid en afwagting uitsien, terwyl ander effens angstig of selfs vreesbevange voel.

Kinders wat die eerste keer op die skoolbanke gaan sit, ervaar in die algemeen vrees vir die onbekende, naamlik nuwe klasmaats, vreemde onderwysers en ’n onbekende skoolterrein.

’n Aksieplan om die nuwe roetine so vlot as moontlik te laat verloop, sal egter selfs die bangste graadeentjie meer gerus laat voel.

Jou aksieplan

’n Plooibare roetine waaraan jou kind tuis gewoond is, sal dit vir hom makliker maak om by al die onbekende faktore van sy skoolloopbaan aan te pas.
Dit is ook ’n goeie idee om voor die begin van die skooljaar van al die klotter in jou kinders se kamers ontslae te raak. Doen dit sáám met hulle en nie vír hulle nie.
Gaan deur hul kaste en gee skoene en klere wat te klein is vir iemand wat dit kan gebruik. Ou speelgoed kan aan minderbevoorregtes geskenk word. Organiseer ook jou kind se studeertafel sodat daar genoeg plek is om huiswerk te doen en boeke neer te sit.

Hier is nog dinge wat jy kan doen om te verseker dat jou kind se skooldag vlot verloop:

Skep ’n wegspringplek

Maak ’n plek naby die voordeur waar die kinders elke aand hul skooltasse, boeke, sport- en ander toerusting kan neersit. Sit elke aand ’n paar minute hiervoor opsy sodat niks vergeet word nie. As ’n mens ’n paar kinders het, kan jy vir elkeen ’n hokkie maak waarin hy sy goed kan sit.

Berei vroegtydig voor

Pak die kinders se kospakkies reeds die vorige aand en laat hulle hiermee help. Maak ook elke aand seker dat elke kind se klere vir die volgende dag gereed is. Sodoende vermy ’n mens ’n vroegoggendgeskarrel wat almal senuweeagtig maak.

Maak bedtyd ’n plesier

Hou by ’n roetine wat huiswerk, speel, aandete en badtyd betref. Bly laataand weg van die TV en skep ’n kalmerende atmosfeer deur vir die kinders te lees of na sagte musiek te luister. Dring daarop aan dat hulle elke aand dieselfde tyd gaan slaap om te verseker dat hulle soggens vars en uitgerus voel.

Hou by ’n skedule

Plaas ’n kalender vir die gesin se aktiwiteite in ’n sentrale deel van die huis. Hou weekliks vergadering om elkeen se skedule te bespreek en dit op die kalender aan te bring. Elke kind kan sy aktiwiteite en afsprake in ’n ander kleur aanbring. Sit ook weekliks tyd op die kalender vir gesinstyd opsy.

Maak oggende makliker

Doen hierdie vyf dinge om te verseker dat jou oggende sonder stres verloop:
• Probeer om saans takies af te handel wat soggens tyd in beslag neem.
• Stel jou wekker sodat jy genoeg tyd het om sonder ’n gejaag klaar te maak.
• Hou by ’n roetine wat stort, aantrek, ontbyt en ander takies betref.
• Doen soveel as moontlik voordat die kinders opstaan.
• Plaas alles wat nodig is vir ontbyt binne die kinders se bereik sodat hulle hulself kan help.
• Maak dit pret om vir die dag reg te maak deur vrolike musiek te speel. Bly egter weg van die TV wat kan veroorsaak dat ’n mens onnodig tyd mors.

Skep ’n positiewe atmosfeer

Dit is dikwels moeilik om te onderskei wie die swaarste kry as ouers hul kinders by hul klaskamers besorg! Dit is egter belangrik om te onthou dat ’n mens se kinders jou ingesteldheid kan aanvoel. As ’n mens aan die begin van die skooljaar geesdriftig en positief is, sal dit waarskynlik ook deel van jou kind se ervaring word.
Sorg dat jou kind elke aand genoeg slaap, ’n voedsame ontbyt eet en ’n voedsame happie in sy rugsak het. Herinner hom ook elke aand aan alles waarna hy die volgende dag by die skool kan uitsien. Jy kan ook ’n briefie in sy kospakkie sit om hom van jou liefde en ondersteuning te verseker.

Send this to a friend