Roodeberg se Rosé

Roodeberg_Rose-web

Roodeberg, die Suid-Afrikaanse wynkelder wat reeds sedert 1949 deel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf is, het ’n lekker Rosé vrygestel

Die Roodeberg Rosé is ’n aromatiese versnit van klassieke rooiwyn-variëteite, Cabernet Sauvignon, Shiraz en Mourverdre, wat hierdie lieflike salm-pienk wyn ideaal maak vir ontspanne lekkerleef-geleenthede.

“Met sy subtiele geure van waatlemoen, lietsjie en framboos, en net ’n skeutjie roosblaar en Turkse lekkergoed, sowel as sy goeie suurgehalte en lang, vrugtige afronding, is hierdie heerlike wyn die perfekte pasmaat vir soel somerdae,” het die nuwe bemarkingsbestuurder van Roodeberg Rosé, Carli Jordaan, aan gaste vertel.

Die bekendstellingsgeleentheid is by The View-restaurant op Chart-plaas in Wynberg, wat bekend is vir sy rose onder die Ludwig Roses-vaandel, gehou. Gaste het aan namiddagtee-versnaperinge saam met yskoue Roodeberg Rosé gesmul.

“Die wyn is kompleks genoeg om saam met ryk disse soos gerookte salm of sushi, wat die vrugtigheid uitlig, te geniet. Dis lekker op warm somerdae en is ’n Rosé wat beslis nie slegs vir die  skoner geslag bedoel is nie,” vertel wynmaker Louwritz Louw. Hy sê Rosé is nou die gonswoord onder wynliefhebbers en boonop vir baie wyn-nuwelinge ’n heerlike bekendstelling aan die wonderwêreld van wyn.

Die wyn is op sy beste saam met kos wat gemaak is om te deel soos tapas, paella, slaaie en hoender- of vark sosaties op die kole.

KWV-ambassadeur, sjef Mynhardt Joubert, stel salm as die perfekte pasmaat, beide in voorkoms en smaak, vir hierdie wyn, voor.

Send this to a friend