Redakteursbrief: Haar naam was Rose

Redakteur
Eldaleen Hugo

Dit gons op sosiale media omdat Facebook mense se data gelek het. Dié platform het so deel van ons wêreld geword dat dit vir baie ondenkbaar is om nie meer deel daarvan te wees nie

Ek het dit al dikwels oorweeg om my profiel toe te maak omdat daar soveel snert op Facebook is, maar twee redes weerhou my daarvan.

My seun en sy vrou woon in ’n verre land en dit is ’n manier om te sien wat in hul lewe gebeur en dis verspot maklik om mekaar met Facebook Messenger te bel. Die ander rede is dat ek al van die wonderlikste stories en artikels via Facebook op die internet raakgelees het. Die mees onlangse een is so inspirerend dat ek dit graag wil deel. Op die webwerf, Stories of Kindness around the World (www.kindspring.org) het ene Monsieur op 10 April 2010 ’n storie oor die 87-jarige Rose geplaas.

Op die eerste dag van klas aan die begin van die nuwe akademiese jaar het die dosent homself voorgestel en ons aangemoedig om ons self voor te stel aan iemand wat ons nie ken nie. Ek het opgestaan en rondgekyk toe ek ’n sagte aanraking op my skouer voel. Ek het omgedraai en ’n verrimpelde, klein vroutjie met ’n groot glimlag voor my gesien. “Hallo, jou mooi man. My naam is Rose. Ek is 87 jaar oud. Kan ek jou ’n drukkie gee?” “Natuurlik,” het ek laggend gesê. “Hoekom is jy op so ‘onskuldige’ ouderdom in die klas?” wou ek weet. “Ek is hier om ’n ryk man te ontmoet, te trou en ’n paar kinders te kry,” het sy grappenderwys geantwoord. “Nee, regtig,” wou ek weet. Ek wou weet wat haar motivering was om op haar ouderdom dié stap te neem. “Ek het nog altyd daarvan gedroom om ’n graad te kry en nou gaan ek dit kry,” het sy gesê.

Ná klas het ons melkskommel in die kafeteria gedrink en onmiddellik vriende geword. So het ons elke dag ná klas saam geloop en sonder ophou gepraat. Ek het aan haar lippe gehang en so baie uit haar wysheid en ondervinding geleer. Mettertyd het Rose ’n ikoon op kampus geword. Sy was mal daaroor om mooi aan te trek en het gebaai in die aandag wat sy gekry het. Aan die einde van die semester het ons Rose uitgenooi om by ons voetbalbanket te praat. Ek sal nooit vergeet wat sy ons daai aand geleer het nie. Met die aanvang van haar toespraak het die kaartjies waarop haar toespraak geskryf was, uit haar hande geval. Effens gefrustreerd en skaam het sy in die mikrofoon gepraat en gesê: “Ek is jammer ek is so bewerig. Ek het bier vir Lent opgegee en hierdie whiskey vang my nou! Ek gaan nooit my kaartjies nou in volgorde kry nie, so laat ek julle eerder vertel wat ek weet.”

Ons het geskater, sy’t keel skoongemaak en begin. “Ons hou nie op speel omdat ons oud is nie, ons word oud omdat ons ophou speel. Daar is ’n paar geheime om jonk te bly, gelukkig te wees en sukses te behaal. “Jy moet elke dag lag en die humor in iets sien. Jy moet ’n droom hê. As jy jou drome prysgee, sterf jy. So baie mense loop rond, maar is eintlik dood, hulle weet dit net nie. “Daar is ’n groot verskil tussen oudword en grootword. As jy 19 is en vir ’n jaar lank in jou bed lê en niks produktiefs doen nie, gaan jy 20 word. Ek is 87 en as ek vir ’n jaar lank in die bed lê en niks doen nie, gaan ek 88 word. Enigiemand kan ouer word. Dit verg nie talent of vermoë nie. Die punt is om groot te word deur altyd ’n geleentheid in verandering te sien. “Moenie berou hê nie. Ouer mense is meestal nie spyt oor dit wat hulle gedoen het nie, maar eerder oor dit wat hulle nie gedoen het nie.“ Sy het haar toespraak afgesluit deur The Rose te sing. Sy het ons aangemoedig om die lirieke te leer en dit daagliks uit te leef. Aan die einde van die jaar het Rose haar graad, wat sy jare gelede begin het, maar nooit klaargemaak het nie, gekry. ’n Week ná die gradeplegtigheid is sy rustig in haar slaap oorlede.

Send this to a friend