Survivor Wildegis Syrah bekendgestel | Vrouekeur

Survivor Wildegis Syrah bekendgestel

Survivor van Overhex Wines Internatioanl het pas sy eerste Wild Yeast Syrah by ’n middagete in Kaapstad vrygestel

Deur MARYKE ROBERTS

Foto’s Clifford Roberts

Survivor Wild Yeast Syrah 2017 is ’n donker, volronde wyn met sappige lae viooltjies, braambessie en speserye en sagte tanniene. Hierdie 100% Syrah is in 500 liter Franse eikehoutvate gefermenteer, deur net natuurlike gis te gebruik. Na 60 dae verlengde dopkontak, is die wyn vir 12 maande in derde-vul Franse eikehoutvate verouder.

“Hierdie wyn is gemaak sonder om kommersiële gis te gebruik, sodat ons die ware smaak van terroir kan ervaar,” sê hoofwynmaker, Ben Snyman, oor hierdie onbeteuelde Syrah-uitdrukking. Survivor het ’n Wild Yeast Chardonnay in ’n soortgelyke styl. Die 2018-oesjaar sal later vanjaar vrygestel word.

Survivor ontleen sy naam aan ’n vreeslose Nguni-koei wat van ’n oop bakkie afgespring het, terwyl sy van een Swartland plaas na die ander vervoer is en ongedeerd in die middel van ’n wingerd geland het. Die storie van die Nguni-koei is nou ’n metafoor vir brawe keuses en is steeds die inspirasie vir hierdie onverskrokke wynreeks van Overhex Wines International.

Die druiwe van die Survivor-reeks is uit die Swartland, van droëland wingerde afkomstig. Daar is ook ’n Cabeneret Sauvignon, Pinotage, Chardonnay, Chenin Blanc en Sauvignon Blanc, sowel as MCC in die reeks.

Ben het vertel dat hy die eerste maal in 2013 na Frankryk is en daar die Domaine Du Tariquet wyne geproe het. “Ek het by die Franse geleer hoe belangrik die vat in die hele wynmaak-proses is,” het hy vertel, “omdat dit die geurprofiel verander”. In 2009 het hy vir vyf maande in Kalifornië gewerk en daar geleer wat jy met Chardonnay druiwe kan doen.

Survivor is in Augustus 2015 vrygestel en is een van die Overhex-groep se vier hoofhandelsmerke tesame met Mensa, Balance en Stellenbosch Hills.

Send this to a friend