Wynmaker: Bertho van der Westhuizen

wynmaker_bertho_van_der_westhuizen

Nie veel wynlandgoedere kan spog met net vyf wynmakers in byna ‘n eeu nie. En nog minder kan spog met twee pa-en-seun-kombinasies in dieselfde tydperk. Die ikoniese rooiwynprodusent Alto in die Goue Driehoek buite Stellenbosch, kan.

Maryke Roberts

Die jongste is Bertho van der Westhuizen wat in Mei die leisels by sy pa, Schalk, oorgeneem het.

Voor hulle was dit Piet du Toit wat die wynmaakverantwoordelikhede aan sy seun, Hempies, die bekende Springbok-stut, oorhandig het.

Bertho is een van drie kinders van Schalk van der Westhuizen wat na 15 jaar op Alto die tuig neergelê het.

Hy het in 2002 ‘n BSc-graad in wingerdbou en wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf waarna hy die 2003-oes saam met sy pa op Alto aangepak het. In 2004 het Bertho by Citrusdal-kelder aangesluit, maar die volgende jaar is hy Kleine Zalze buite Stellenbosch toe waar hy tot 2012 wyn gemaak het. Van 2012 tot 2015 het hy wyn op Boschendal gemaak, hoofsaaklik rooiwyn, maar ook ‘n bietjie witwyn.

Bertho is getroud met Mitzi en hulle het twee kinders, Sara-May (4) en Schalk (19 maande). Hy erken dat hy sportmal is, nes sy pa, en dat rugby hom baie na aan die hart lê. Verder laat hy nie ‘n kans verbygaan om sy ysterperd op te saal nie.

Hoe het jou tyd op Citrusdal, Kleine Zalze en Boschendal jou huidige posisie gebaat?

Ek was tot dusver baie gelukkig. By Citrusdal het ek nie net geleer wat by ‘n baie groot kommersiële wynmakery aangaan nie, maar was ek ook baie betrokke by die wingerdboukundige sy van die besigheid. By Kleine Zalze en Boschendal was ek weer blootgestel aan die aktiwiteite op kleiner wynmakerye. Dit het my baie geleer en ‘n baie goeie perspektief gegee van die hele spektrum van wingerdbou en wynmaak.

Wat is volgens jou die voordeel van eers in die wingerd werk voor jy kelder toe skuif?

Dit maak ‘n groot verskil en is die beste manier om te leer. ‘n Wynmaker moet ‘n gevoel vir die wingerd hê. Daardie ou gesegde dat goeie wyn in die wingerd gemaak word, is baie waar en my kennis van en ervaring in die wingerd het my tot dusver baie gehelp.

Hoe voel dit om by jou pa oor te neem en hoekom Alto?

Ek is baie trots dat ek die leisels by my pa oorneem en in die wingerd en kelder van een van Suid-Afrika se voorste rooiwynprodusente kan werk. As jy met enigiemand oor rooiwyn praat, sal Alto een van die vyf landgoedere wees wat genoem word, en gewoonlik onder die eerste drie. Sy reputasie vir klassiek gestruktureerde wyne is welverdiend, en dit is dus ‘n geweldige eer en voorreg om op Alto te kan wyn maak.

Is jy skrikkerig om jou pa se skoene vol te staan?

Glad nie. My pa het diep spore op Alto getrap en dis baie groot skoene wat ek sal moet vul, maar ek sien uit na die uitdaging en ek weet ek kan altyd op sy raad en insette staatmaak. Dit sal passie, toewyding en harde werk verg om sy hoë standaarde in sowel die wingerd as die kelder te handhaaf, maar ek sien uit daarna. Goed genoeg was nooit vir hom goed genoeg nie, en nes hy sal ek streef na perfeksie in elke wyn wat op Alto gemaak word.

Wat het jy in jou tyd saam met jou pa geleer wat jy nou elke dag toepas?

Prioritisering en beplanning.

Waarna kyk jy op in jou pa?

Ek dink die ouer wynmakers wat uit ‘n era gekom het waar alles volgens streng reëls en regulasies van die destydse KWV gewerk het, en daarna om aan te pas in die moderne era waar jy buite die boks moet dink en bybly by jong manne wat honger is na sukses.

Wat het hy begin waarna jy uitsien om voort te bou?

Met ‘n geskiedenis soos ons hier op Alto het, is dit maar tradisie en familie wat sterk in ons beginsels deurkom.

Hoekom dink jy is dit goed as ‘n wynplaas so min wynmakers gehad het? Is daar ‘n voordeel aan?

Vir seker, die terroir van Alto is ongelooflik. Met minder wynmakers en besluitnemers kan daar meer konstante style en kwaliteit verkry word.

Wat beplan jy vir Alto vir die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?

Ons het ‘n Bordeaux-versnit in die oog. Ons het ook verskeie eitiket-opgraderings aan die gang. Die belangrikste is om die beste produk in die bottel te kry, so die ander goed moenie te veel aandag aftrek nie.

Wat was jou drome op skool oor die beroep wat jy eendag gaan volg?

Daar was net een ding wat ek wou doen; indien daar iets anders moes wees, sou dit seker maar ingenieurswese gewees het.

Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?

Die misterie daarvan. Soms kan jy nie sê hoekom ‘n spesifieke area of blok vir jou gee wat dit gee nie, maar dis meestal lekker verrassings.

Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?

Ek dink die lekkerste is as jy gaste het wat dit baie geniet, en weer sal terug kom vir die produk.

Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?

Sover alles, dis ‘n voorreg om in die bedryf van ons te wees en te werk. Ek geniet elke oomblik.

Wat is die uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?

Veranderende klimaat, veranderende markte en neigings. Arbeid.

Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?

Daar is te min van ons wat bereid is om te betaal vir goeie wyn, en dit sluit my vriende en familie in!!

Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom is dit spesiaal?

Wit sal sauvignon blanc wees, en rooi cabernet sauvignon. Albei is verskriklik terroir-spesifiek, en indien jy nie met die beste begin nie, gaan jy nie met die beste eindig nie!

Het jy ‘n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?

Nee wat, ons het twee klein kindertjies en hulle laat jou nie stilte toe nie. Soms neem hulle die besluite sommer vir jou!

schalk
Schalk van der Westhuizen

SOURCES
verskaf

Send this to a friend