Redakteursbrief: Dis hoé jy dit sê

Die manier waarop mens reageer as iemand jou kritiseer, maar ook die manier waarop jy iemand kritiseer, is tekenend van jou vlak van emosionele intelligensie

Onlangs, tydens die huidige Amerikaanse president se besoek aan Engeland, sit dié man soos gewoonlik weer nie ’n wag voor sy mond nie en twiet hy voor hy dink.Oor dié hedendaagse kommunikasiemiddel is ek uitgesproke. Ek dink dit is ’n uiters oneffektiewe manier van kommunikeer en veral presidente moet liewers nie twiet nie. Veral nie dié wat sukkel om te dink nie. Donald J Trump besluit toe om net voor hy op 3 Junie in Engeland voet aan wal sit, die volgende oor die burgemeester van Londen, Sadiq Khan, te twiet: “… @SadiqKhan, who by all accounts has done a terrible job as Mayor of London, has been foolishly ‘nasty’ to the visiting President of the United States, by far the most important ally of the United Kingdom. He is a stone cold loser who should focus on crime in London, not me … “Kahn reminds me very much of our very dumb and incompetent Mayor of NYC, de Blasio, who has also done a terrible job – only half his height. In any event, I look forward to being a great friend to the United Kingdom, and am looking very much forward to my visit. Landing now!”

Hoekom skryf ek op hierdie bladsy oor dié Amerikaanse president, sou jy my kon vra. Wel, by die lees van Luisa van der Linde se artikel op bl 24, “Hoe hanteer jy kritiek?” het ek oombliklik aan hierdie voorval gedink. Daar is ’n verskil tussen ’n kritiese beskouing en die opweeg van iemand se mening, ideologie, ingesteldheid, uitlatings en optrede en om iemand gewoon aan te val en te beledig, veral as dit om ’n persoonlike vendetta handel. Ek dink beslis nie mens moet als wat ander mense dink, doen en sê vir soetkoek opeet nie – dis juis belangrik om krities daarna te kyk. Om egter uitlatings soos Trump s’n in dié twee twiets te maak, is nie kritiek nie en gewis nie iets wat mens van ’n volwasse en intelligente mens verwag nie. Veral nie die leier van ’n wêreldland nie. Afgesien daarvan dat dit uiters swak styl en ongevraagd is, hoef ’n mens nie altyd te sê wat in jou kop is nie. Soms is dit beter as net jy daai stem in jou kop hoor.

Sadiq Khan se reaksie op Trump se aanval op hom is vir my ’n sprekende voorbeeld van my argument. Trump se uitlating is ’n aanval en beledigend, terwyl Kahn s’n getuig van volwasse kritiek in reaksie op ’n beledigende persoonlike aanval. In sy reaksie tydens ’n media-onderhoud sê hy 24 41 onder meer: “… this is the sort of behaviour you would expect of an 11-year old. But it is for him to decide how he behaves, it’s not for me to respond in a like manner. It’s beneath me to do childish tweets and name calling …”

In die artikel oor kritiek meld een van die kenners dat emosionele intelligensie in die hantering van kritiek belangrik is. Ek stem 100% saam. Die manier waarop mens reageer as iemand jou kritiseer, maar ook die manier waarop jy iemand kritiseer, is tekenend van jou vlak van emosionele intelligensie. Soos ’n goeie vriend my lank terug geleer het: Wat iemand van jou sê, sê baie meer van hom of haar as wat dit van jou sê. En as mens kritiek lewer, is dit goed om te dink voor jy praat (of twiet) en te vra: Is dit waar? Is dit nodig? As die antwoorde op albei vrae ja is, vra dan: Is dit gaaf? As die antwoord daarop ook ja is, kan jou kritiek dalk as “konstruktiewe kritiek” geld. En mens moet onthou dis nie noodwendig wát jy sê nie, maar hóé jy dit sê.

Send this to a friend