6 vrae aan Jaco Wolmarans

Ses vrae aan Jaco Wolmarans, skrywer van Bos, wat by Tafelberg verskyn het.

1. Watter boek het die grootste indruk op jou lewe gemaak?

Wilbur Smith se The Sunbird, jare terug. Dit was epies, ek het dit as kind reeds verslind en was in absolute vervoering daaroor. Ek moet dit weer lees en probeer my vinger lê op presies wat die skrywer daarin reggekry het.

2. Is jy ’n leser en wat lees jy graag?

Ja, ek verslind aksieboeke. Enige iets met kamoefleerdrag, pistole en vliegtuie op die voorblad is my kos. Dis hoekom ek self die voorbladfoto vir Bos geneem het. Ek het ’n spesifieke idee gehad van die soort omslae wat my aantrek, en wou dit naboots – vir mense soos ek wat dikwels boeke koop op grond van die etiket. Nou dat ek daaraan dink, ek koop wyn ook so!

3. Jy bedank jou vrou, Nicky, in die boek. Watter stres sit ’n boekskryf op ’n huwelik en hoeveel het haar insae jou boek gevorm?

My vrou is geduldig, krities, skerp en luister goed. As sy nie dit was nie, het sy nie daagliks koffie in die bed gekry nie! Sy help my deur moeilike storielyn-situasies, stel alternatiewe voor, waarsku wanneer iets nie lekker klop nie. Sy is ’n integrale deel van die skryfproses, my “common-sense”-klankbord waarteen ek soveel dinge toets.

4. Watter tipe genot het jy uit die boekskryf geput wat jy nie uit fotografie kry nie?

Karakters inteken is my gunstelingdeel van die proses. Jy skep persoonlikhede deur dialoog, en jy gee dimensie deur die karakters se beweegredes, hul morele keuses. Dit laat jou self kant kies, besluite neem, want jy bevind jou onwillekeurig aan die een of die ander kant van ons land geskiedenis in  die proses. En hier raak dit interessant – wanneer jy die dialoog vir ’n karakter moet verwoord, moet jy in sy of haar skoene staan, argumente voer, redes vir morele posisies verskaf of verdedig. Vir my is dit merkwaardig, amper soos toneelspel, want jy moet die mens se stem in jou kop hoor, sy of haar siel verstaan. En wanneer dit ’n donker siel is, met haat en wraak wat dit aanvuur, raak dit jou. Dis ‘n donker wêreld waarin jy jou dan moet begewe om oortuigend daardie karakter se dialoog te verwoord. Ek is die grootste respek vir akteurs wat dit daagliks doen en dan daardie mondering eenkant sit na ’n vertoning. 

5. Waar vind mens in 2018/19 ’n Recce-bron vir jou boeke se navorsing?

’n Groot aantal van die voormalige spesmagte-operateurs was my tydgenote in die jare tagtig, en is vandag suksesvolle mense in eie reg. Hulle is natuurlike planmakers, baie vaardige mense en kan omtrent enige iets doen. Dit wil my voorkom asof hulle ook goed-aangepaste mense is, wat met ‘n sekere mate van genoegdoening terugkyk na daardie dae – nie omdat hulle destyds parate, moordende “grensvegters” was nie, maar inteendeel, bloot omdat hulle goed was in verkenning, nooit gevang is nie, en omdat hulle daarom lewend kon uitkom. Omdat verskeie boeke reeds verskyn het oor die bekende operasies van daardie tyd, is baie van die inligting reeds in die openbare domein en die oud-operateurs bereid om te praat daaroor. Wat ek uit hulle kry, is nie noodwendig die details van die operasies nie, maar die kleur en geur daarvan, hoe hulle gevoel het, wat hulle ervaar het – die emosionele aspekte van so onder vuur en gevaar werk. Dit fassineer my.

6. As jy een skrywer kan ontmoet, wie sal dit wees; hoekom daardie skrywer en wat sal jy te sê of te vra hê?

Ek lees nie so wyd as wat ’n mens sou verwag nie, bloot omdat ek nie tyd het ná ’n voldag se werk en buitemuurse aktiwiteite nie. Oor die algemeen lees ek meer Engels, net omdat daar meer beskikbaar is in die spesifieke genre wat ek graag oor lees – politiek, spioenasie, aksie en militêre dinge. Ek probeer ook met my skryfwerk hierdie genre op Afrikaans uitbrei – veral met my volgende boek. Om terug te keer tot die vraag, ek bewonder ’n paar skrywers, om baie spesifieke redes, maar ek het geen hunkering om hulle te ontmoet nie. Ek verkies om hulle van ’n afstand te bewonder, ingeval hulle nie die mense is wat ek myself voorgestel het nie! Ek bewonder Jeffery Deaver vir sy goeie navorsing, maar meer vir sy uitstekende dialoog. Hy het die vermoë om ’n karakter in te kleur net deur die taal wat die karakter gebruik. Dis uitsonderlik. Dan bewonder ek Stephen King vir sy stories, en waarskynlik omdat hy so braaf is om pen aan papier te slaan met net ‘n enkele lyn as storie. Soos wat sou gebeur as ’n mens jonger plaas van ouer kon word. Dis al. Dan begin hy skryf. Ek dink die vrees vir mislukking, dat die storie in ‘n doodloopstraat sou beland, dat mens dit sou probeer deurforseer, al daardie dinge hou die meeste van ons weg van daardie soort totale oorgawe aan die spontane skryfproses. Ek bewonder dit. En as ek hom ’n vraag kon vra, was dit waarskynlik of van sy stories al vrot uitgedraai het en hoe hy in sy gemoed kon vrede maak daarmee en wegstap van die manuskrip.

Send this to a friend