13 vrae aan Irma Venter | Vrouekeur

13 vrae aan Irma Venter

13 vrae aan die misdaadromanskrywer, Irma Venter, wie se nuutste boek, Sondag, pas verskyn het:

1. Reis is ’n duidelike tema in jou boeke, in Skoenlapper kuier lesers saam in Tanzanië; in Skrapnel is dit ’n Indiese kinkel; in Sirkus kuier Adriana in Berlyn. Hoe belangrik is die plek waar die verhaal afspeel vir jou?

Ek het seker 99% van die plekke waaroor ek skryf besoek, van Indië tot Dar es Salaam. Ek skryf (ont)spanningsfiksie. Die doel is om die leser weg te voer en van sy of haar probleme te laat vergeet. Ruimtes in en buite Suid-Afrika vorm deel van daardie ontspanning – leunstoelreise.

2. Gebruik jy die temas in jou boeke as jou sosiale kommentaar op ’n manier wat jy as onpartydige joernalis soms nie kan nie?

Soms, ja. As joernalis moet ek berig, opsom, oordra. As skrywer kan ek sê: kyk mooi, kyk weer, wees bewus. Tog ek baie gefokus daarop om nie my werk te ondermyn nie. Ek lewer nie kommentaar op enigiets wat my bronne sou vervreem nie.

3. Jou boeke het sterk vrouekarakters – is dit ’n doelbewuste besluit, of heel toevallig dat ’n vroulike skrywer ’n vroulike karakter sal wil ontgin?

In die misdaadboeke wat ek noodgedwonge as kind moes lees omdat vroue toe nog nie werklik in die genre gewerk het nie, was die vrouekarakters meestal tussen die lakens of dood op die vloer. Met ander woorde: Slagoffer of afleiding vir die held. Ek was glad nie tevrede hiermee nie. Toe ek begin skryf was dit baie natuurlik vir my om vroue hoofkarakters te skep en te gebruik.

Hoe meer sigbaar vroue word, hoe meer ons in die media figureer – elke kleur en geur en vorm van ons – hoe wyer kan ons stories kring en hoe meer kan ons dogters hul regmatige plek in hierdie wêreld in neem.

4. Jy het eenmaal in ’n onderhoud genoem jy gebruik musiek wat jy met elke karakter assosieer. Vertel meer?

As ek in die kop van ’n karakter wil klim, gebruik ek dikwels musiek om dit moontlik te maak, veral omdat ek soms so min tyd het om te skryf. My joernalis-hoofkarakter, Alex Derksen, is Bruce Springsteen se Better than the rest. Ranna Abramson, die fotograaf, is Garbage se Milk. Adriana van der Hoon is Nina Simone se You put a spell on me.

Die musiek help om my dadelik by die karakter uit te bring, weg van die werk en die verkeer en geraas om my.

5. In die eerste paar boeke het Ranna en Alex baie sterk na vore gekom. Beplan jy om hulle in elke boek te hou voortaan, of is daar ander karakters wat meestal net so buite die kalklig huiwer, wat dalk in die toekoms die hoofrol gaan kry?

Ek het ’n stel van vyf karakters wat ek gereeld afwissel: Alex die joernalis, Ranna die fotograaf, Adriana die fixer, Sarah die kuberkraker en Jaap die afgetrede speurder. Ek skryf gewoonlik so dat een of twee karakters die hoofrolle speel en die ander kleiner rolle. Ek dink hierdie vyf karakters kan nog ’n redelike hoeveelheid boeke lewer.

My newekarakters lewer egter altyd baie pret en mag dalk eendag hul eie boeke kry, soos Boris, Adriana se lyfwag, of Sersant Farr Josephs, forensiese deskundige.

6. Sal jy misdaad kan skryf en met nuwe karakters kan begin?

Absoluut. Daar is reeds ’n nuwe karakter in my kop, maar sy sal uitkom wanneer sy reg is.

7. Wie is jou maatstaf/eerste leser van jou boek, voor dit uitgewers toe gaan?

Ek het baie goeie vriende en familie wat bereid is om die teks vir my deur te lees en eerlike terugvoering te gee. As aspirantskrywers raad vra, sê ek altyd hulle moet iemand kry om hul werk te lees wat nie té lief is vir hulle nie. Jou lesers moet 100% reguit wees, anders gaan jou boek nooit by enige uitgewer sukses behaal nie. Natuurlik gaan jou ma en jou boetie sê jy skryf mooi.

Ook, as mens die eerste paar kere weer deur die teks werk, is dit soos om skaakstukke by die bord te las en ander af te haal. As jy by die punt kom waar jy bloot dieselfde stukke begin heen en weer skuif, weet jy dat iemand anders nou jou storie moet lees.

8. Hoe voel jy oor stellings dat mans koning kraai in dié genre? Hoekom dink jy is daar nie meer vroue wat hierin skryf nie?

Ek stem nie noodwendig saam dat mans koning kraai nie. En daar is báie vroue wat in hierdie genre skryf, ook in Suid-Afrika, en hulle is werklik goed. Hulle kry egter te min aandag. Ook, omdat hulle soms nie polisie-prosedure-verhale skryf nie, word dit as minder geag. Hoekom? Die spanningsgenre het baie subgenres – polisie- prosedure, medies, regsdramas, aksie, die sielkundige riller, die privaat speurder ens.

Ook, en dit pla my baie, vrouelesers sal mansskrywers se boeke lees, maar min mans sal vroueskrywers se boeke aanpak, veral in die spanningsgenre. Dié tendens gebeur blykbaar wêreldwyd. So my uitdaging aan mans is om bietjie wyer te lees. Ons mag jou dalk net verras.En ook, meer vroueresensente en boekeredakteurs sal help, globaal gesproke.

9. Watter misdaadskrywers se werk geniet jy?

Al die Suid-Afrikaanse misdaadskrywers, Engels en Afrikaans. Hulle is werklik uitstekend. In Engels lees ek wyd, van Sara Paretsky, Karin Slaughter, Michael Connelly tot by Lisa Gardner en Alexander McCall Smith.

10. Wie inspireer jou?

Ordentlike mans. Sterk vroue, maak nie saak wat jy kies om met jou lewe te doen nie: Tuisteskeppers, professore, ma’s, boervroue, sielkundiges, speurders, wiskundiges, skilders, onderwysers. Mense wat doen wat hulle moet doen om te oorleef en nog steeds tyd maak vir ander mense, ’n hart het vir ander mense. Opregtheid.

11. Waar en wat is huis vir jou en wat is belangrik aan jou omgewing, voor jy kan skryf?

Huis is in Pretoria. Niks is belangrik voor ek kan skryf nie. As mens wag vir die perfekte omgewing, vir die ideale tyd, vir inspirasie, gaan jy nooit skryf nie.

12. Hoe lyk jou skryfomgewing; is daar enige rituele?

Omdat ek voltyds werk, moes ek leer om nie rituele te hê nie, maar om te skryf waar en wanneer ek kan. Goeie koffie help baie – Arabica bone, flat white, laevetmelk.

13. Het jy afgesperde tye vir skryf, of gaan jou laptop oral saam terwyl jy boekskryf?

Ek skryf amper elke oggend, behalwe Sondae, maar omdat ek so baie reis, dra ek altyd my laptop saam. Omtrent 50% van my boeke word in koffiewinkels, op vliegtuie, busse en treine geskryf. As ek 45 minute het, kan ek skryf.

Send this to a friend