Redakteursbrief: Leef in vrede

Ek is seker die wêreld sal ’n baie beter plek vir almal wees as meer mense in vrede leef

In die hysbak so wyle gelede gesels ek en ’n kollega van ’n ander tydskrif oor dit en dat in die lewe. Ek verwys onder meer na die afsterwe van ’n paar gemeenskaplike kennisse die afgelope paar maande.“Jinne,” sê ek. “Daar gaan nou te veel mense wat ek ken dood.” “Ja,” beaam sy op haar kenmerkende droë manier, “en nie een van hulle is al voorheen dood nie.”

Haar opmerking laat my lag. Dood is nie snaaks nie. Nooit nie, en my lag en haar opmerking is nie onsensitief nie. Dit sê in die onmoontlike net soveel oor die skok en felheid van iemand se afsterwe. Soos ’n lag met ’n traan. Gisteraand lees ek op Facebook van James Small se skielike dood. Jonk. Vyftig is jonk. Ek is nie ’n rugbygeesdriftige nie, en ek weet eintlik niks van Small nie. Ek weet wel hy het lank gelede dikwels in koerante en tydskrifte verskyn by berigte oor sy lief en leed – stories wat mense graag lees en wat tydskrifte en koerante se sirkulasiesyfers opjaag.

Oral stroom huldeblyke in en dit wemel van die bekende “Rus in vrede”-boodskappe op Facebook. Dié boodskappe op Facebook is vir my ironies. Ek het in die afgelope jare wat ek op Facebook is nog nie een keer ’n boodskap vir of oor dié man gelees nie. Vandag, met sy afsterwe, ken almal hom en almal wens hom vrede in die dood toe. Maar wat het mense hom in die lewe toegewens? Hy is nie uniek in hierdie opsig nie. Die mense na wie ek en my kollega in die hysbak verwys het, het soortgelyke boodskappe op Facebook met hul dood gekry (asof hulle dit kan lees).

 Maar watter boodskappe gee ons vir mense as hulle lewe? Op die einste Facebook lees ek ook onlangs ’n boodskap raak: “Why should we only rest in peace, why don’t we live in peace too?” Hoekom is ons nie so gaaf met mense terwyl hulle leef as wanneer hulle dood is nie? Ek weet nie. Dalk omdat ons dink daar gaan altyd nog ’n dag wees en ons nie bewustelik leef met die gedagte aan die dood wat parallel met die lewe loop nie. Ek is seker die wêreld sal ’n baie beter plek vir almal wees as meer mense in vrede leef. Wat maak die alledaagse vredevol en gee ’n boodskap aan ’n medemens van “Leef in vrede”? Dit hoef nie aardskuddende gebare en gedrag te wees nie. Dit lê dalk juis daarin dat ons in die klein dinge gawer met mekaar is.

Byvoorbeeld … Hoe lyk my bestuursmaniere? Toet ek graag kliphard vir die persoon wat nie vinnig genoeg by die robot wegtrek nie? Wys ek vuis en vingers vir die motoris wat nie sy beurt by ’n verkeersirkel afwag nie?

Dring ek daarop aan om Afrikaans met elke denkbare diensleweraar te praat omdat dit my taal is – ongeag die feit dat Engels ook nie die ander persoon se moedertaal is nie?

Hoe klink ek vir omstanders in my omgang met kelners in restaurante? Is ek ongeskik en meerderwaardig?

Wat skryf ek op sosiale media in reaksie op mense se plasings? Raak ek beledigend en venynig omdat ek die illusie het dat ek agter ’n masker op dié platforms tekere kan gaan?

Hoe behandel ek mense wat my sogenaamde ondergeskiktes in ’n werksomgewing is?

Hoe tree ek op wanneer iemand by ’n robot bedel? Maak ek oogkontak? Vloek of skel ek die mens openlik?

Leef ek in vrede? Dis ’n vraag wat mens jouself moet afvra voor jy die een is vir wie mense vrede in die dood toewens.

Send this to a friend