Redakteursbrief: Wat sê tronke van ‘n land?

eldaleen-web
Redakteur Eldaleen Hugo

Tronkstraf is vir my persoonlik problematies

Ek weet nie van jou nie, maar ek gaan baie meer as kwaad wees as ek onskuldig in ’n tronk opgesluit word. Die artikel op bl 12 kyk juis na hierdie kwessie.In Maart 1944 is George Stinney vir die moord van twee jong meisies in hegtenis geneem. Dit was in die Jim Crow-era (Amerika se apartheidsera).

George was ’n sogenaamde African American en die twee meisies was van Europese afkoms. Dié hofsaak het uiteraard ’n rassekleur gekry. Arme George Stinney het nie ’n kans gehad nie. Die hofsaak het ’n dag geduur. Die jurie was almal wit en hulle het presies tien minute beraadslaag om die uitspraak te gee. Op 14-jarige ouderdom is George in Junie 1944 terreggestel. Onskuldig, soos later bewys is, maar dit het George en sy geliefdes net mooi niks gehelp nie. Dit het 70 jaar gevat voor George Stinney in 2014 deur regter Carmen Mullins amptelik kwytgeskeld is. Ek sou sê: “Too little, too late, thank you!

Dis veral in Amerika, vind ek, waar dit gebeur dat mense onskuldig tronk toe gaan of selfs doodstraf kry. Toegegee, die meeste van dié gevalle waarvan ek al gelees het, het lank terug, voor DNS-bewyse, gebeur. Tog gebeur dit vandag nog. Daar is gewis ook baie gevalle in ander wêrelddele waarvan ons net nie weet nie. Tronkstraf is vir my persoonlik problematies. In so ’n mate dat ek sukkel om flieks te kyk wat in tronke afspeel, want ek weet die onmenslike goed wat in tronke gebeur, is nie fiksie nie. En ja, ek weet geharde misdadigers gaan nie noodwendig heiliges in die tronk raak nie, maar om mense in oorvol tronke te stop en onmenslik te behandel, gaan nie bydra om hulle te rehabiliteer nie en die kans dat hulle ná hul vrylating verantwoordelike burgers van ’n samelewing word, is dus ook skraal. In sulke tronke is daar nie sprake van rehabilitasie nie. Dis net straf.

Hier beweeg ek op baie dun ys – dit besef ek, want as jy of jou geliefdes aan die ontvangkant van ’n gewelddadige misdadiger was, gaan jy waarskynlik nie ’n duit omgee hoe sleg dit met daai mens in die tronk gaan nie. Trouens, jy wens waarskynlik hy kan die tydelike met die ewige verwissel. My punt is nie om slagoffers van misdaad te misken nie, ek wonder net soms hoe mens in ’n land met oorvol tronke en ’n onaanvaarbare vlak van misdaad ’n situasie kan omkeer. Of kan mens?

In Nederland maak tronke toe. Daar is te min rampokkers en booswigte. Ek lees op thepolicytimes.com ’n artikel oor hoe Nederland dit reggekry het om 14 tronke sedert 2004 te sluit. Dis hoe hulle dit gedoen het, sê hulle:

1 Verslapping van dwelmwetgewing: Mense wil altyd die teenoorgestelde doen. Dwelms is dus vrylik beskikbaar en juis daarom gebruik mense minder dwelms wat tot misdaad kan lei.

2 Rehabilitasie: Die land fokus op rehabilitasie en glo nie straf is die antwoord nie.

3 Elektroniese monitering: Gerehabiliteerde misdadigers word weer deel van die land se ekonomiese werksgemeenskap en dra ná vrylating elektroniese moniteringsbandjies om hul enkels.

Nederland het ’n bevolking van 17 miljoen, waarvan slegs 11 600 in Februarie 2018 in die tronk was. Kan enigiemand gerehabiliteer uit ’n tronk kom as jy in ’n tronk opgesluit is wat 233% vol is? Jip, in die 2015/’16 finansiële jaar was Johannesburg se Medium B korrektiewe dienste 233% vol. Ek wonder wat is die jongste statistiek landwyd? Dis Nelson Mandela wat gesê het: “No one truly knows a nation until one has been inside its jails. A nation should not be judged on how it treats its highest citizens, but its lowest ones.” Dít sê baie. Oor lande soos Nederland. Oor Amerika. Maar ook oor Suid-Afrika.

Send this to a friend