Klassieke klanke: konsertsaal vir Londen

Die beplande konsertsaal vir Londen het heelwat glas aan die buitekant, wat die LSO se mantra van ‘deursigtigheid en toegang’ weerspieël

Deur JOHAN MYBURG

Sir Simon Rattle, die musiekdirekteur van die Londen-simfonieorkes (LSO), het in Januarie planne vir ’n nuwe konsertsaal in die hart van die Britse hoofstad bekendgemaak. Daar is geruime tyd al sprake van ’n nuwe konsertsaal vir Londen, toegerus met die jongste tegnologie. Dit nadat Hamburg onlangs ’n nuwe groot gehoorsaal gekry het, en so ook Parys, Los Angeles, Manchester en Birmingham.

Afgesien van die gebruikswaarde van konsertsale het dié bouwerke ook statussimbole geword. Dit vestig onmiddellik die aandag van die buitewêreld op die betrokke stad, dit posisioneer die stad as mededingend en les bes beliggaam dit ’n hoë kulturele strewe. Rattle het dié siening geëggo toe hy gesê het die nuwe konsertsaal is “’n teken van Londen as ’n dinamiese kulturele stad juis wanneer ons dit meer en meer nodig het”. Nie die Royal Festival Hall of die Barbican voldoen meer aan die behoeftes van die 21ste eeu nie. Toe die Barbican-sentrum in die 1970’s gebou is, is daar byvoorbeeld nie vir ’n orrel of plek vir ’n koor of ’n uitermate groot orkes voorsiening gemaak nie.

Rattle het tevore al gekla dat die beperkings van die Barbican, die konsertsaal wat die LSO tans gebruik, hom net toelaat om 80% van die werk uit te voer wat hy graag sou wou speel. Die nuwe planne maak voorsiening vir ’n gehoorsaal wat sitplek rondom ’n verhoog vir 2 000 mense bied, in ’n piramiede van glas, wat die LSO se mantra van “deursigtigheid en toegang” weerspieël. Die plasing van die verhoog in die middel van die gehoorsaal hou onder meer in dat daar geen hiërargie in die sitplekplasing is nie. Alle sitplekke sal onbelemmerde uitsig op die verhoog hê. Sover dit akoestiek aangaan, word die woord “perfek” gebruik. Nagata Acoustics, die maatskappy wat by die klankontwerp van die Kawasaki-konsertsaal in Japan en die Walt Disney-konsertsaal in Los Angeles, VSA, betrokke was, is vir die akoestiek van die nuwe saal verantwoordelik.

Die ontwerp van die gebou is op die piramidevorm geskoei, met ’n ruimte vir jazzuitvoerings in die spits. ’n Glasmuur bied ’n asemrowende blik op die stad in die rigting van die Sint Paulus-katedraal. Elizabeth Diller, die stigterslid en vennoot van Diller Scofidio + Renfro, wat vir die ontwerp verantwoordelik is, het bygevoeg dat die oogmerk is dat die ruimte hom bedags as informeel voordoen, maar saans soos ’n juweel kan skitter. Teen ’n beraamde koste van iets soos R5 miljard sal die gebou plek vir werkswinkels, openbare ruimtes en eetplekke insluit. Die gebou word beplan op die plek waar die Museum van Londen, ’n paar blokke van die Barbican af, gestaan het.

Dié museum kry’n nuwe gebou naby die Smithfield-mark. Moontlik gaan R5 miljard nie genoeg wees om vir dié projek te betaal nie. Die koste verbonde aan Hamburg se Elbphilharmonie het aanvanklik op R3,4 miljard te staan gekom. ’n Jaar nadat met bouwerk begin is, is die begroting na R6,4 miljard aangepas en toe die konsertsaal in Junie 2017 in gebruik geneem is, het die rekening op sowat R11,2 miljard te staan gekom. Die eerste hekkie om te oorkom, is dat die drie vennote – die Barbican, die LSO en die Guildhall-musiek-en-dramaskool – voldoende openbare finansiering kry om die projek aan die gang te kry. As alles volgens plan verloop, kan Londen teen 2023 met sy nuwe konsertsaal spog.

Send this to a friend