Jy sit dalk jou kind van lees af

As ’n boekwurm, probeer ek van my eie kinders boekwurms maak, maar studies wys dat ouers juis kan veroorsaak dat hul kinders nie wil lees nie

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Ek het van kleins af vir my kinders gelees en hulle aan boeke blootgestel. Hul boekrakke is vol boeke, ongelukkig meestal ongelees. Ek het myself al hoeveel kere afgevra wat ek verkeerd gedoen het en wat ek steeds verkeerd doen, want op my kinders se ouderdom was ek al deur die hele Bellville-biblioteek se kinderafdeling. My eie kinders hou ongelukkig te veel van YouTube, Roblox, PlayStation en als anders … terwyl hul ma steeds boeke aandra en smeek.

Isang Awah, verbonde aan die Universiteit van Cambridge, skryf op die webwerf www.theconversation.com dat ‘n liefde vir lees baie voordele vir kinders het. Daar is ‘n positiewe impak op akademiese prestasie, groter algemene kennis, woordeskatontwikkeling, verbetering in skryfvermoë en dit help kinders selfs om empatie te ontwikkel. Daar word ook geargumenteer dat dit kinders kan help om ‘n verbeelding te ontwikkel en selfs onderrigstandaarde kan verhoog.

Desnieteenstaande, wys navorsing dat jong kinders al hoe minder lees. Ouers en kinders kan ‘n aktiewe rol speel om ‘n leesliefde by kinders aan te wakker, maar Awah skryf dat daar dinge is wat ouers en onderwysers doen wat kinders van lees kan afsit.

Laat hulle hul eie boeke lees

In Awah se studie met kinders tussen die ouderdomme van nege en 12, is dit duidelik dat ouers en onderwysers dikwels boeke vir hul voorskryf en dit kan ‘n negatiewe impak op kinders se betrokkenheid as lesers hê. Sommige van die kinders in die studie het gekla dat hul ouers altyd die boeke kies wat hulle lees en dat dit gewoonlik boeke is wat hulle nie geniet nie.

Moenie dit afdwing nie

Van die kinders in die studie het ook gekla dat hul ouers hulle dwing om te lees selfs al is hulle nie lus nie en ook dwing om boeke klaar te lees waarin hulle belangstelling verloor het. Kinders moet self kan besluit of hulle wil lees of ‘n boek voltooi anders kan hulle dit ‘n leesliefde fnuik.

Maak dit prettig

Van die kinders het gekla dat hulle dikwels ouers en onderwysers se vrae oor boeke moet beantwoord en hulle hou niks daarvan nie. Dit neem die pret van die leesstuk vir hulle weg as hulle voel dat hulle begripstoetse daaroor moet voltooi.

Die bevindings toon dat dit belangrik is om kinders se voorkeure in gedagte te hou, selfs al voldoen dit nie aan jou verwagtinge nie, meen Awah. Kinders geniet gewoonlik juis die boeke wat hulle self kies.

Send this to a friend