Onderstebo karamelpeerkoek | Vrouekeur

Onderstebo karamelpeerkoek

Met al die heerlike wintervrugte in seisoen, sal die ‘blosende’ pienk forelpere jou roep om ’n onderstebo karamelpeerkoek te bak!

1 x 25 cm-koek

Bestandele

Karamel
125 ml (½ k) botter
10 ml (2 t) suurlemoensap
250 ml (1 k) bruinsuiker
125 ml (½ k) room
2 tot 3 middelslag-pere

Beslag
125 ml (½ k) sagte botter
190 ml (¾) strooisuiker
5 ml vanieljegeursel
2 groot eiers
315 ml (1/4 k) koekmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
2,5 ml (½ t) sout
125 ml (½ k) melk

Bederf jouself ook met ‘n mokka-haselneut-kaaskoek

Metode

Verhit oond tot 200 °C.

  1. Karamel Smelt botter in pan en verbruin vir drie minute.
  2. Voeg suurlemoensap, bruinsuiker en room by en roer aanhoudend totdat suiker gesmelt het.
  3. Kook vir nog 10 minute tot goudbruin. Haal van plaat af en laat afkoel.
  4. Skil pere en sny in dun wiggies.
  5. Beslag Klits botter, strooisuiker en vanielje tot liggeel.
  6. Voeg eiers een vir een by en klits goed.
  7. Sif meel, bakpoeier en sout saam.
  8. Vou meelmengsel en melk beurtelings by bottermengsel in tot goed gemeng.
  9. Skep deeg in spuitsak.
  10. Skep karamel in koekpan van 25 cm in deursnee en maak gelyk.
  11. Pak peerwiggies in netjiese patroon op karamel en spuit deegmengsel in spiraalvorm bo-op.
  12. Maak effens gelyk met paletmes.
  13. Bak vir 35 minute of tot goudbruin en gaar.
  14. Laat afkoel en keer op koekbord uit.
  15. Bedien met styfgeklitste room.

Wenk

Maak die karamelsous in jou gietysterpan en bak dan sommer ook die koek daarin.
Sorg dat jou pan ’n hout- of staalhandvatsel het, anders sal dit smelt.

Send this to a friend