Sjef: Michael Broughton van Terroir | Vrouekeur

Sjef: Michael Broughton van Terroir

Sjef Michael Broughton het 2014 met verskeie hoogtepunte afgesluit: sy restaurant, Terroir op die Kleine Zalze-landgoed buite Stellenbosch, het in Oktober sy tiende verjaardag gevier; hy het ’n kookboek getiteld Terroir – the Cookbook vrygestel en die restaurant se agtste Top 10-toekenning in die jaarlikse Eat Out Mercedes-Benz Restaurant-toekennings gewen.

Maryke Roberts

Die restaurant het ook vyf sterre in die nuutste Rossouw’s by Diners Club International 2015 South African Restaurant Guide ontvang.

Michael het sy tande as sjef by die Mount Grace Country House and Spa in Magaliesburg geslyp, voor hy Terroir kom open het. Voorheen was hy ook sjef en eienaar van Broughton’s in Gauteng, waar hy two Eat Out Top 10-toekennings en ’n string ander pryse gewen het. Hy is ook ’n man wat al vir Gordon Ramsay en Albert Roux gekook het.

Resep
Resep Klik hier vir Michael se resep
vir garnaal-, mielie- en basilierisotto.

By Terroir word die regte wyn met elke dis gepasmaat en die restaurant se wynlys bevat al die nuutste wyne van Kleine Zalze en ook uitgesoekte wyne van die land se toplandgoedere. Daar is ook ’n indrukwekkende lys oorsese wyne soos Rioja van Spanje, Chianti van Italië, Shiraz van Australië en ’n reeks Franse wyne.

Hy beskryf Londen as sy gunstelingkosbestemming, omdat daar so baie verskillende kossoorte van regoor die wêreld geniet kan word.

Terroir se boekomslag
Terroir the cookbook deur
Michael Broughton.

Wat is tans jou gunstelingrestaurant?
Burrata in die Old Biscuit Mill in Woodstock

Wat is jou gunstelingdrankie?
’n Chenin blanc met goeie balans.

As daar een dis is wat jy gereeld bestel as jy uiteet of as iemand anders vir jou kook, wat is dit?
Kerrie. Ek het in Durban grootgeword en is mal oor kerrie. Dit neem my ook terug na my kinderdae, want daar was altyd ’n lekker kerrie oor naweke. Maar my trookos is roomys en sjokolade.

As jy nie ’n sjef geword het nie, watter ander beroep sou jy wou volg?
Ek sou ’n kabinetmaker/houtwerker word.

Wat is die beste kosgesegde wat jy al gehoor het?
Nico Ladenis het gesê: “Simplicity, restraint and a good sauce.”

Wat is die beste kombuis-advies wat jy al ontvang het?
“Geur altyd jou kos goed.” – Daniel Chapat

Grootste kombuisflater wat jy al began het?
Ons het vir 80 koskenners van Frankryk gekook en toe die eendborsies in die oond vergeet…

Watter krui word in Suid-Afrikaanse kombuise onderskat?
Vars tarragon. Dis heerlik, speseryagtig en helder enige dis, van groente tot vleis, op.

As jy enige twee gaste kon nooi vir ete, wie sou dit wees?
Golda Meir omdat sy ’n legende is en Bono van U2 omdat hy ’n kop op sy skouers het en hy kan sing.

Watter bestanddele is altyd in jou spens?
Geblikte tamaties, olyfolie, kekerertjies, gedroogde brandrissie, pasta, risottorys en truffelolie.

Wat sit jy vir onverwagte gaste voor?
Pasta met ’n geurige sous. Maak ’n veelsydige tamatiesous (loer in my boek vir die resep) en vries dit. Wanneer jy dit benodig, kan jy net room byvoeg en ’n paar druppels wit truffelolie. Kook die pasta el dente en besprinkel met varsgerasperde Reggiano.

Meer inligting

• Terroir Restaurant is van Maandag tot Sondag oop vir middagete en van Maandag tot Saterdag vir aandete. Bespreek by 021 880 8167 of e-pos [email protected]

SOURCES
Verskaf

Send this to a friend