Wortelkolwyntjies | Vrouekeur

Wortelkolwyntjies

Ons almal weet hoe lekker wortelkoek is, maak nou die mini-weergawe daarvan: wortelkolwyntjies!

24 kolwyntjies

Bestanddele

125 ml (½ k) olie
3 groot eiers
175 ml (165 g) strooisuiker
1 pak (440 g) wortels, grofgerasper
1 blik (160 g) fyn pynappel, gedreineer
160 ml (75 g) pekanneute, grofgekap
425 ml (225 g) bruismeel
5 ml (1 t) kaneel
5 ml (1 t) gemengde speserye
VERSIERSEL
125 ml (100 g) sagte bruinsuiker
2 (60 g) eierwitte
115 ml (60 g) versiersuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
1 75 ml (166 g) botter teen kamertemperatuur
1 houer (150 g) volroom-roomkaas
pekanneut-brittle vir versiering

Metode

Voorverhit oond tot 160 °C en voer kolwyntjiepan met kolwyntjiepapiertjies uit.

  1. Klits olie, eiers en suiker tot effe verdik.
  2. Meng wortels, pynappel en neute.
  3. Sif meel, kaneel en speserye by wortelmengsel en meng deur.
  4. Gooi oliemengsel by beslag en meng.
  5. Skep beslag in kolwyntjiepan en bak vir 25–30 minute tot goudbruin en gaar.
  6. Haal uit oond en laat afkoel.
  7. Versiersel Roer suiker en eierwitte oor dubbelkoker tot suikerkristalle oplos.
  8. Klits mengsel tot dit stywepuntstadium bereik.
  9. Gooi versiersuiker en vanielje by en klits tot styf.
  10. Gooi botter in sarsies by terwyl menger op volspoed loop. Klits tot mengsel verdik, indien nie, verkil en klits weer. Gooi roomkaas by en klits deur.
  11. Skep in versiersak en spuit op afgekoelde kolwyntjies.
  12. Versier met pekanneut-brittle.  

Send this to a friend