Stimuleer die sintuie | Vrouekeur

Stimuleer die sintuie

kinders_konsentrasie

Kinders konsentreer nie ewe goed nie. As jou kind daarmee sukkel, kyk na die volgende sensoriese strategieë vir beter konsentrasie

 

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

 

Party kinders wat sukkel om te konsentreer se aandag word dalk maklik afgelei of hulle word deur sensoriese insette oorweldig. Hierdie kinders mag dalk makliker deelneem en fokus as sensoriese insette vir hulle pasgemaak word. Claire Heffron van die The Inspired Treehouse-webwerf is ‘n arbeidsterapeut en gee die volgende wenke:

 

OUDITIEF  

Hierdie kinders mag dalk belangrike besonderhede misloop as dit verbaal aangebied word. As Juffrou roep, mag die kinders dalk nie reageer nie of hul eie klanke gebruik om gefokus te bly.

  • Maak liedjies of rympies op om op ‘n sekere taak te fokus. Soos ‘n rympie om akademiese konsepte te leer of ‘n liedjie vir ‘n kleiner kind om te onthou om tande te borsel.
  • Laat jou kind instruksies of belangrike inligting vir jou herhaal.
  • Vat nou en dan ‘n blaaskans tydens ‘n lang taak en speel ‘n musiekinstrument of luister na ‘n liedjie.
  • Stel jou kind aan speletjies en toeps bloot wat konsepte gebruik wat musiek en klank inkorporeer.
  • Gebruik jou liggaam om sekere dinge weer te gee. Klap byvoorbeeld klankgrepe met jou hande of stamp met jou voete om die kalenderdae weer te gee …

 

VISUEEL

Party kinders verloor belangstelling as hulle met rye en rye letters gekonfronteer word. Probeer die volgende:

  • Gebruik leermateriaal wat helder en kleurryk is.
  • Werk op ‘n helder oppervlakte.
  • Lig sekere gedeeltes in handboeke en werkstukke met kleur uit.
  • Werk en speel op ‘n tablet met toeps of programme wat beweging en kleur insluit.
  • Gebruik visuele hulpmiddels soos plakkerkaartjies, skedules met prentjies, ensovoorts.
  • Visuele leeraktiwiteite soos woordsoektog, inkleur met syfers, prentjies wat weggesteek is, ensovoorts kan help.
  • Leeraktiwiteite wat iets visueels bevat kan help, soos vind die een ding wat anders is, of sortering.
  • Vir klein kinders kan jy sensoriese bottels maak (kyk op Pinterest).

 

TAS

Baie kinders kan beter fokus as hulle aan dinge kan vat. Probeer die volgende:

  • Speel met materiaal soos bou met Lego vir wiskunde, kraletjies om meer oor patrone te leer, ensovoorts.
  • Kombineer leermateriaal met tashouers, soos om vir wiskundesyfers of lettermagnete in ‘n houer met rys te soek.
  • Sny letters en syfers uit tekstuurpapier of teken met verf wat pof.
  • Sensoriese blaaskanse wat tas insluit, kan help, soos drukkies, boontjiesakke en speelklei.
  • As jou kind aan iets moet vat, gee ‘n klein voorwerpie wat hy kan vashou as hy vir lank moet luister.

 

BEWEGING

Party kinders wil beweeg om te leer. Nie alle kinders kan vir lang tye doodstil sit en fokus nie. Laat hierdie kinders verskeie posisies inneem as hulle moet werk of ‘n taak voltooi. Hulle kan dalk onder die tafel lê met ‘n boek, op ‘n sagte stoel sit of by die tafel staan.

Laat die kinders tydens werkstyd op verskillende tipe stoele sit.

Bou beweging in leer in wanneer nodig. Sit wiskundekaarte op die vloer en maak ‘n speletjie daarvan. Laat hulle hardloop, huppel of spring tot by die kaart om dit op te tel en ‘n antwoord te gee.

Sluit bewegingsbreuke in jul dag in. Die kinders kan swaai, rol of op iets balanseer.

 

PROE EN RUIK

Baie kinders fokus beter as hul oraal-sensoriese of reukstelsels gestimuleer word. Laat die kind nou en dan aan iets knibbel terwyl hy moet fokus. Inkorporeer geure soos olies, gegeurde speelklei en sensoriese houers wat lekker ruik.

 

BRON:

http://theinspiredtreehouse.stfi.re

Send this to a friend