Skokterapie: werk dit regtig?


’n Joernalis het self skokterapie beleef en vra hier vrae oor die onderwerp

Deur JB ROUX

Hulle maak jou vroegoggend wakker. Jy loop saam met ’n verpleegster in ’n lang gang af. Jy onthou hoe ’n tronkbewaarder in Amerikaanse flieks altyd “Dead man walking!” uitroep wanneer ’n veroordeelde na sy teregstelling begelei word. Die herinnering is onvanpas: Die idee is juis dat jou lewe aan jou teruggegee moet word.

Jy voel … bang? Desperaat? Eintlik voel jy niks, want jy vra nie dat ’n skokgolf deur jou brein gestuur word tensy jy so depressief geword het dat dit “dood” in jou voel en jy feitlik nie meer in staat is tot emosies wat vir die meeste mense vanselfsprekend is nie. Al wat oorgebly het, is die oorweldigende sekerheid dat jy nie meer wil leef nie; dat niks meer ’n verskil kan maak nie. In die teater word jy gevra om op ’n smal operasietafel te lê.

Die psigiater wag reeds op jou. Verpleegsters woel om jou om sensors en elektrodes aan jou slape en bolyf te koppel. ’n Narkotiseur druk ’n naald in jou pols … Wanneer jy ná die narkose bykom, voel dit steeds asof depressie ’n terminale siekte is en dat dit tyd is vir jou om dood te gaan.

Nog elektriese skokke is al hoop dat jy anders sal begin voel: Miskien is dit te veel gevra om ná die eerste keer al resultate te kry. Vriende en selfs ’n sielkundige se waarskuwings dat elektrokonvulsiewe terapie (EKT) jou brein kan opfoeter, is steeds nie ’n faktor nie – jy het eenvoudig niks om te verloor nie.

Is dit die uitweg?

Wie van ons ken nie iemand wat aan depressie ly nie? Of is nie self met dié verlammende siekte gediagnoseer nie? Kliniese en bipolêre depressie (in teenstelling met “gewone” terneergedruktheid) het ’n epidemie in die meeste Westerse lande én in Suid-Afrika geword. In haar boek Beveg depressie en leef voluit skryf die bekende skrywer Alta Cloete, wat self aan depressie ly, die skrikwekkende toename in depressie onder meer aan die verdwyning van die uitgebreide gesin, die verbrokkeling van hegte gemeenskappe, die geweldige fokus op materiële welvaart, die toenemende selfgerigtheid van die moderne mens, onrealistiese verwagtings en nimmereindigende mededinging toe.

Natuurlik kan dié siekte beveg en minstens onder beheer gebring word, maar wat as ’n gesonde lewenswyse en medikasie – of ’n kombinasie van verskillende soorte antidepressante – eenvoudig nie meer werk nie? Of as depressie só ver gevorder het dat ’n pasiënt kontak met die werklikheid begin verloor en selfs ophou eet? Wat as ’n drastiese uitweg nóú nodig is?

Dít is gewoonlik wanneer psigiaters EKT oorweeg, dikwels op versoek van ’n pasiënt self. Maar wat is EKT? Hoe werk dit? Meer nog, wérk dit? Is dit gevaarlik? Hoe akkuraat is die indruk dat EKT ’n soort primitiewe martelmetode is, soos wat dit dikwels in rolprente soos One Flew Over the Cuckoo’s Nest en A Beautiful Mind uitgebeeld word? Cardiazol, ’n chemiese middel, is vroeg in die vorige eeu gebruik om stuipe (’n “seizure”) in psigiatriese pasiënte te veroorsaak.

EKT is vir die eerste keer in 1938 in Italië gebruik en ’n jaar later na Engeland “uitgevoer” om Cardiazol te vervang. Verskeie psigiatriese toestande is daarmee behandel. Dit is soms gebruik om pasiënte se gedrag te beheer en aggressiewe pasiënte te kalmeer. Tydens EKT (dit kan amper as ’n beheerde epileptiese aanval beskryf word) word ’n baie flou elektriese stroom deur die brein gestuur om stuiptrekkings te verkry. Dit is aanvanklik toegedien terwyl die pasiënt by sy of haar volle bewussyn was, maar word lank reeds onder narkose toegepas. Pasiënte kry ’n sterk spierverslapper om “rukkings” te voorkom.

Die gebruik van EKT het afgeneem sedert antidepressante algemeen beskikbaar geword het. Deesdae word EKT veral as terapie vir behandelingweerstandige endogene depressie gebruik. Of wanneer ’n pasiënt baie erg depressief is en dikwels ernstige selfmoordneigings het en daar nie tyd is om te wag tot medikasie begin werk nie.

EKT word as korttermynbehandeling beskou en pasiënte moet ná die behandeling steeds medikasie gebruik. EKT is steeds omstrede, al word dit veel meer “beskaafd” as in die vorige eeu toegepas. Die rede is dalk dat daar iets geheimsinnigs daaraan is. Wetenskaplikes weet dat stuipe soos dié wat deur EKT veroorsaak word, daartoe lei dat serotonien en ander “goedvoel”-chemikalieë in die brein afgeskei word. Dit is egter onseker hóékom EKT so ’n reaksie veroorsaak.

Baie psigiaters beskou EKT steeds as die doeltreffendste behandelingsmetode vir depressie. Dit is veral doeltreffend wanneer pasiënte só depressief is dat hulle psigoties raak, of vir dié wat nie medikasie kan gebruik nie. Dit word ook gebruik vir skisofrenie en is baie suksesvol in die behandeling van manie. Pasiënte kry normaalweg ses sessies, gewoonlik drie keer per week en indien nodig nog ses sessies. Die maksimum is 15 sessies. A

s die EKT suksesvol is, is opvolgsessies – een keer per maand – gewoonlik nodig. Dié behandeling is dikwels meer suksesvol met ouer pasiënte as met jonger depressielyers. EKT beskadig nie die brein nie en newe-effekte is tydelik. Die algemeenste newe-effekte van EKT is effense hoofpyn en geheueverlies. Gewoonlik word net die korttermyngeheue aangetas en die geheue keer feitlik altyd gou weer terug. Die vermoë om nuwe inligting te onthou, word ook soms ’n ruk lank ondermyn. Dié geheueverlies kan nogtans baie traumaties wees.

Isobel* is onlangs met ernstige depressie in ’n staatsinstelling opgeneem. “Ek het tot dusver drie sessies gekry en voel nog nie beter nie, maar my geheue is amper dadelik aangetas. Ek was ontsteld omdat ek nie die psigiater te sien kry om die behandeling met haar te bespreek nie, tot sy my gesê het dat ek haar wel gereeld gesien het – ek kon dit net nie onthou nie. Ek het ook, sonder om dit te besef, met elke besoek dieselfde vrae as die vorige keer aan haar gestel. “Die ergste is dat my pa kort voor my opname oorlede is.

Ná elke EKT-sessie het ek letterlik vergeet dat hy nie meer hier is nie. Dis baie traumaties om elke keer van voor af te hoor dat hy dood is.” Al is die geheueverlies traumaties en al vind sy min troos daarin dat dit tydelik is, wil Isobel met die behandeling voortgaan in die hoop dat dit haar beter sal laat voel. Vir baie depressielyers is die grootste gevaar van EKT – groter as enige neweeffekte – dat dit dalk nie sal werk nie.

’n Psigiater antwoord

Dr Piet Oosthuizen, bekende psigiater en skrywer van Ontsnap van depressie, reageer op ’n paar algemene vrae oor EKT.
EKT word dikwels as ‘n laaste uitweg gesien, byvoorbeeld wanneer medikasie nie wil werk nie. Wat gebeur wanneer EKT óók nie vir so ’n pasiënt suksesvol is nie? Kan so ’n pasiënt voel dat “niks meer oorbly nie”? In sommige gevalle is die siekte weerstandig teen enige soort behandeling. Dit beteken nie ’n mens moet tou opgooi as EKT nie werk nie – in so ’n geval is dit nodig om opsies te oorweeg. ’n Mens moet net nie moed verloor nie. Ek glo as jy net aanhou probeer, sal jy by ’n antwoord uitkom.
Gebeur dit soms dat ’n pasiënt voel dat EKT, selfs al het dit verligting gebring, nie die moeite werd was nie omdat die newe-effekte (spesifiek geheueverlies) besonder traumaties was? Ek het al pasiënte teëgekom wat gevoel het EKT was baie sleg vir hulle, maar dit is ’n klein minderheid en geld vir alle soorte behandeling. Wat vir een mens lewensreddend is, is vir ’n ander onaanvaarbaar sleg. Vir die oorgrootte meerderheid is die newe-effekte van EKT baie min en van verbygaande aard.
Sloer psigiaters nie soms te lank voordat hulle EKT aanbeveel nie? Hoekom wag tot ’n pasiënt self daarvoor vra – dikwels ná jare se vergeefse behandeling met antidepressante, waarin ’n pasiënt met die amper ondraaglike simptome van depressie én die newe-effekte van medikasie moet saamleef? Of totdat ’n pasiënt se depressie besonder akuut begin word het?

Dit is waar dat psigiaters oor die algemeen ’n konserwatiewe lot is vir wie EKT nie te hoog op die opsielys is nie. Die eenvoudige rede is stigma – daar’s nie regtig ’n wetenskaplike rede nie. ’n Ander groot rede is dat dokters al hoe meer vir “wanpraktyke” gedagvaar word. Ons bedryf dus toenemend defensiewe medisyne. Daar is ’n lys indikasies vir wanneer EKT oorweeg moet word en ons hou gewoonlik streng daarby.
Wat sê ’n psigiater vir ’n pasiënt vir wie EKT die volgende logiese stap is en wat regtig by dié behandeling kan baat vind, maar daarvan wegskram omdat daar soveel omstredenheid rondom EKT is? Ek probeer gewoonlik my pasiënte aanmoedig om self soveel inligting as moontlik in te samel – om soveel moontlik daaroor te lees en selfs met mense te gesels wat al die prosedure ondergaan het.

Die meeste mense se idee van EKT is ernstig gekleur en versteur deur wat in die populêre kultuur voorgehou word. Laasgenoemde is dikwels baie ver van die werklikheid verwyder. Die belangrikste is dat die persoon soveel kennis as moontlik het sodat hy of sy self kan besluit. As die pasiënt al die inligting het maar steeds EKT weier, is dit dan ten minste ’n ingeligte besluit. Elkeen het die reg om self oor sy of haar gesondheid te besluit.

Send this to a friend