Slim emosies

emosionele_inteliggensie

Emosionele intelligensie is een van daai gonswoorde vandag, maar hoe leer jy dit vir jou kind?

 

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Foto www.freepik.com

 

Almal praat vandag oor emosionele intelligensie en hoe dit kinders se mylpale affekteer. Om emosioneel slim te wees, is ‘n vaardigheid, maar hoe kan jy jou kind daarmee help? Emosionele intelligensie word beskryf as ‘n mens se vermoë om met ander mense te kommunikeer en duidelike denkpatrone te ontwikkel.

 

In die boek Emotional Intelligence: Why it Can Matter More than IQ, gee Daniel Goleman vyf komponente van emosionele intelligensie.

  1. Bewustheid. Jy verstaan jou emosies.
  2. SelfreguleringJy kan jou emosies beheer.
  3. Interne motivering. Jy weet wat in die lewe belangrik is.
  4. Empatie. Jy het begrip vir ander mense en hul gevoelens.
  5. Sosiale vaardighede. Jy is in staat om sosiale verbintenisse te skep.

 

Hier is ‘n paar wenke wat kan help:

Erken jou kind se perspektief en toon empatie

Wys empatie as jou kind oor iets ontsteld is. As jy empatie toon, beteken dit nie dat jy noodwendig saamstem nie, maar dat jy ook jou kind se kant insien. Jou kind is op sy perspektief geregtig. Kinders ontwikkel empatie as hulle dit by ander mense ervaar.

 

Moedig uitdrukking aan

Klein kinders kan nie tussen hul emosies en hulself onderskei nie. Aanvaar jou kind se emosies en moenie dit probeer ontken of minag nie. Leer jou kind dat die hele reeks gevoelens verstaanbaar en deel van menswees is. Bv: “Ek weet jy is kwaad vir Boetie wat jou speelding gebreek het, maar dis nie oukei om hom te slaan nie. Vertel hom eerder hoe jy voel.”

 

Luister na jou kind se gevoelens

Jou kind het soms net nodig om te ontlaai en dat iemand luister. Jou kind moet veilig genoeg by jou voel om emosies uit te druk. Haal diep asem en luister, al wil jy heftig daarop reageer.

 

Leer jou kind om probleme op te los

Leer jou kind hoe om sy emosies te beheer en dan probleme op te los.

 

Speel dit uit

As jy sien dat ‘n negatiewe patroon ontwikkel, erken dat jou kind gevoelens het wat hy nie weet hoe om te hanteer nie. Speel die probleemsituasie uit (voer dit op) en laat jou kind wys dat hy niks te vrese het nie.

 

Deel jou eie gevoelens

Kinders moet weet dat ouers ook soms met dinge sukkel en hoe hulle konflik uitsorteer. Gesels oor wat jy voel en wees bewus van hoe jy voor jou kinders praat. Stry julle as ouers beskaafd?

 

BRON: www.ahaparenting.com

Send this to a friend