Ons gesels verder met Schalk Schoombie

 

In die Vrouekeur van 8 September 2017 gesels ons met Schalk Schoombie, hier volg nog inligting.

“Ek ken nie die Afrikaanse skrywerswêreld goed nie,” sê Schalk Schoombie, joernalis, dramaturg en skrywer van die romans Boomkastele en, onlangs uitgereik, Rooi haring. “Ek woon soms boekbekendstellings by en het al gesprekke met skrywers oor hul boeke gevoer. Ek lees agter my neus aan en probeer geensins om my aan literêre tendense te steur nie. Ek vind baie skrywers se werk inspirerend, plaaslik en internasionaal, maar streef nie doelbewus daarna om soos iemand anders te skryf of klink nie, want dan gaan ek beslis tekort skiet. Skryf bly eensame werk en die eindresultaat bly onseker.

“Ek lees dikwels koerante: The Guardian, The New Yorker, Time, plaaslike koerante, die Bybel. Skrywers wat ek geniet is onder meer David Mitchell, Charles Dickens, Cormac McCarthy, David Foster Wallace, Ian McEwan, Salman Rushdie, Etienne van Heerden, Eben Venter, Marilynne Robinson, CS Lewis, William Shakespeare, John Fowles, John Miles, Umberto Eco, Richard Ford, Agatha Christie, PD James en Deborah Steinmar. Ek ontdek gedurig nuwe skrywers, baie van hulle jonk, wat my verstom.”

Dis nie benede Schalk om soms ’n lekker liefdesroman te lees nie.

“Klassieke skrywers kry voorkeur. Die lewe is kort en daar is soveel meesterlike romans. Dis ’n kuns om ’n goeie liefdesverhaal te skryf en ek weet nie of ek self genoeg kennis en ervaring het om so iets aan te pak nie.”

En as iemand hom op straat sou raakloop en aansien vir Deon Meyer?

“Ek sal verbaas wees, want Deon het ’n welige kop hare en ek is bles. Maar ek sal saamspeel!”

Send this to a friend