Wat’s in ʼn naam?

Koos Kombuis gesels oor sy skuilname, kuns en vermaak.

Deur CHRISTIAAN J DE SWARDT

Hy is André le Roux du Toit gebore. Dit was jare lank sy skrywersnaam. Hy het sy naam egter in die jare tagtig na André Letoit verander om verwarring met ander skrywers uit te skakel. Toe hy verveeld raak met die erns van die literêre wêreld, het hy ‘n kitaar gekoop en begin liedjies skryf. Daaruit het die plaat Ver van die Ou Kalahari gespruit – en dit is summier deur die sensuurraad as ongewens gebrandmerk. Toe verander André sy naam met die uitreiking van sy tweede album, Niemandsland and Beyond, na Koos Kombuis. “Dit was my ou skoolbynaam en ‘n van wat ek kies omdat ek in daardie stadium in iemand se kombuis gewoon het. Weer eens word ek nie oornag ryk en beroemd nie, maar bly steeds ‘alternatief en ‘ongewens’.”

Sedertdien het Koos Kombuis 15 albums uitgereik, onder meer Elke boemelaar se droom, wat die tydlose treffer Lisa se klavier opgelewer het. Hy het nog nie weer ʼn CD na Langpad na Lekkersing in 2017 uitgereik nie.

Hy sê hy het genoeg songs vir ʼn nuwe album (met die werktitel Gelofteland/Mzansi), as iemand het hom so R400 000 wil skenk om ʼn ateljee te bespreek, die musikante te betaal en die CD te druk…

Oor die musiekfront sê hy reguit: “Daar is fantastiese Afrikaanse musiek beskikbaar. Die meeste Afrikaanse musiek is wonderlik. Om die een of ander rede gaan radiostasies uit hul pad uit en doen oënskynlik geweldige moeite om die koring van die kaf te skei en dan spesifiek slegs die kaf uit te saai. Dis nie kuns nie en dis ook nie eens goeie vermaak nie. Alles net die ene doef-doef-drum boxes, gemaak-Amerikaanse aksente en eggo-effekte wat klink soos ‘Ack is so lief vir jau.’ Nee dankie! Dis tyd hulle bring regte Afrikaanse musiek terug, pleks om dit iewers weg te steek.”

In sy hart wil hy egter steeds eerder skrywer as musikant wees. In ʼn stadium van sy chaotiese jong lewe was hy rigtingloos. “Ek het my hand aan alles probeer: hoenders braai by KFC, pizzas maak, polisse verkoop, brande blus, klerk-speel in die staatsdiens en sulke goed. Ek het vir ‘n ruk selfs my lyf fortuinverteller gehou en vir verveelde huisvroue voorspel wat die geslag van hul babas sou wees – ek het immers ‘n 50% kans op sukses gehad, en ek was meer dikwels reg as verkeerd.”

Sy eie statistiek is nie ʼn raaisel nie. Hy het 26 boeke op sy kerfstok; 14 daarvan is die afgelope 19 jaar gepubliseer.  Onder meer sy lank beloofde outobiografie Seks en Drugs en Boeremusiek, ‘n roman, Hotel Atlantis, ‘n satire in Engels, The Complete Secret Diaries of God, ‘n riller, Raka, die roman)  vier versamelings van voorheen gepubliseerde rubrieke, My Mamma is ‘n TaalAfrikaans my DarlingDie Dieper Dors en Die Reuk van Koffie, en ‘n na-betragting van sy Voëlvry-jare, Die Tyd van die Kombi’s, in Engels uitgegee as Short Drive to Freedom. In 2013 verwerk en vertaal hy die Chinese filosofiese geskrif I Ching in Afrikaans as die I Tjieng, gevolg deur ʼn versameling rubrieke, gebundel as Ver in die Wêreld, Sushi in 2015.

Die meeste van sy werk word gekenmerk aan si­nisme, selfspot, satire, geestigheid, banaliteit en erns. In sy romans sluit hy soms aan by bekende titels en temas om dan iets totaal anders te skep –  veral Somer II, 1985, wat herinner aan CM van den Heever se Somer, en Raka, die roman, 2005, wat net soos NP van Wyk Louw se Raka begin: “Die dag toe die ondier gekom het …” Met dié roman wou hy die vrese van die moderne Afrikaner ontgin in die oorgangstyd van die oue na die nuwe, van die lokale realisme na ’n virtuele, relatiewe werklikheid. “Die ou gode het gesterf, maar daar is nog geen nuwes om hulle plek in te neem nie.” Hy het ook sukses behaal met The Secret Diary of God (2005), wat as godslasterlik gesien kan word, óf as skroeiende kommentaar op wat mense van God gemaak het.

Verlede jaar het hy en ‘n jeugroman, Blasjan en die Blou Kitaar, by Penguin Books en ʼn digbundel, Vandag wil ek my blou skoene dra,  by Naledi gepubliseer.

Vrouekeur se lesers het die afgelope tyd ʼn rits van sy kortverhale en ʼn vervolgverhaal gelees. En nou voeg hy ook kinderlektuur aan sy oeuvre toe. “Ek beplan nie lank voor die tyd wat ek volgende gaan doen of skryf nie. Niemand was meer verbaas as ekself toe ek in die afgelope paar jaar drie kinderboeke in ‘n ry skryf nie. Ek het myself nooit as ‘n kinderboekskrywer gesien nie. Ek doen dit vir die pret. Die laaste een het ek in Afrikaans as Eben die Ellendige Eenhoring en in Engels as Hubert the Useless Unicorn geskryf. Vir die Engelse storie het ek vir die eerste keer die nuwe skuilnaam – Joe Kitchen – gebruik.”

Omdat ek hom as André leer ken het, noem ek hom steeds só. “Ek gebruik André  eintlik nog net op my Facebook Friends Page, omdat jy nie daar skuilname of byname mag gebruik nie. My vrou noem my ook André. My hond verkies Koos. Hy sukkel met enigiets langer as een lettergreep …”

Laat ons dan maar, soos Shakespeare toeka, nou ook vra: Wat is in naam? “Ek het dit eers oorweeg  om terug te gaan na André Letoit, maar sien toe die persona wat Willem Welsyn vir homself geskep het met sy Engelse CD’s: William Welfare. Dit was so ’n eenvoudige en voor die hand liggende oplossing.

“Die pennie het finaal gedrop toe my kinders se gunsteling-onderwyser, Rob Moll (aan wie ek die nuwe boek opdra) by Somerset West Private School, my een aand by ’n skoolfunksie voorstel as ‘Jacob Kitchen’. Vandaar het dit gemorfeer na ‘Jack Kitchen’, maar toe’s daar klaar so ’n ou in Amerika, en ek wil nie intrude op sy space nie, en uiteindelik word ek toe ‘Joe Kitchen’.”

Dalk verwarrend? “Geensins! “Ek is presies dieselfde ou as Koos Kombuis. Maar Koos drink rooiwyn, Joe drink sauvignon blanc. Koos drink koffie, Joe drink tee. Koos luister na Jack Parow en Fokofpolisiekar, Joe hou van Bottomless Coffee Band en Robin Auld.”

André het ook die illustrasies vir die Naledi-boeke gedoen. Ek dink onwillekeurig aan daardie Sub B-kunssertifikaat wat 30 jaar terug in sy woonstel in Hillbrow teen die muur gehang het toe ek my eerste onderhoud met hom gedoen het. “Ek het nie meer daardie sertifikaat en die prent waarvoor ek dit gekry het nie. Maar intussen het ek begin skilder en nou verkoop ek my werk aanlyn.  Ek verkoop ook deesdae handgeskrewe geïllustreerde lirieke van my liedjies op kunspapier. Mense bestel dit by my, ek ‘personalize’ dit en koerier dit na hulle.”

Ons gesels oor kuns versus vermaak. “Dis is een van daardie gelaaide vrae, soos ‘glo jy in uitverkiesing?’ Moeilik om te sê. Elkeen het ‘n bestaansreg. Die Campbells was vermaak. Piet Botha is kuns. Maar die ideale skeppingsproduk, dink ek, is die wat albei kategorieë vervul. Die Beatles kon dit doen. Shakespeare ook. Dis my ideaal om ook dit reg te kry, maar ek het daardie ideaal net een keer regtig bereik: met Lisa se klavier.”

Dié lied is onder andere deur Laurika Rauch en The Parlotones opgeneem en in Frans, Portugees en Engels verhaal. Die Belgiese sanger Stef Bos het onder meer sy ánder groot treffer, Onder in my whiskeyglas, opgeneem en hulle het saam die treffende liedere Het Avondland en Die Duiwel en God geskep.

Koos wil nog daardie één groot wetenskapfiksiewerk skryf. Inteendeel,  feitlik elkeen van sy romans bevat SF-elemente. Benewens sy Suid-Afrikaanse publikasies het hy ook kortverhale gepubliseer die tydskrifte Planet Mag, Aphelion en FlagShip (Flying Island Press). In 2010 is sy ontstellende toekomsblik The Last of the Great Coffeeshop Philosophers ingesluit in die Amerikaanse bloemlesing The Last Man Anthology, saam met skrywers soos Ray Bradbury, HG Wells, Edgar Allan Poe, Jack London, CJ Cherryh and Barry N Malzberg (Sword and Saga Press).

Dié ikoniese kultusfiguur het geen berou nie. En hy ook nog sy humorsin verloor nie! “Ek is wel spyt dat ek nie vroeër joga ontdek het nie. En dat die 2017 nuwe lewende Afrikaanse Bybelvertaling eers in 2017 verskyn het.  Ek geniet braaibroodjies,  sterk koffie, goeie rooiwyn, my gunsteling Crocs en  my hond al noem hy my Koos. Ek verpes slaggate, korrupsie, decaf-koffie, beurtkrag, plaasmoorde, alle moorde en misdaad.”

Drie dekades terug is dié andersdenkende kunstenaar beskryf as iemand met slordige denke wat aan ʼn chroniese identiteitskrisis ly en soos ʼn adolessent optree. Sy kritici het hom ʼn punk-skrywer en kulturele anargis genoem en hy is van radikalisme en rebelsheid beskuldig. Hyself het na hom as “ʼn verwarde genie/lover” verwys.

“Ek is steeds al daai goed, maar ek is deesdae ‘n gelukkiger mens, want ek het geleer om in vrede saam te leef met my slordige denke en my identiteitskrisis. Dis nie meer ‘n krisis nie; dis alles deel van die Groot Kreatiewe Eksperiment!”

Met sy dwelmverlede en aweregse invalshoeke is Koos Kombuis glo vir sommige ’n steen des aanstoots, vir ander ’n “profeet”, ’n sonderlinge “ge­wete”, ’n stem waarna (soms) geluister kan word …

Send this to a friend