Brei Schalk Bezuidenhout se trui

Brei ’n trui wat presies soos Schalk Bezuidenhout s’n lyk!

Fairisle-patrone is altyd ’n uitdaging, want dit verg kophou en neem baie tyd in beslag, maar dis baie bevredigend en die eindproduk is treffend

Deur CHRISTA SWANEPOEL

Moeilikheidsgraad: ***

Wat het jy nodig?

  • ELLE PURE GOLD DK (100 g) 3 balle in Caviar 1 bal elk in Lily, Limeade, Catalina, Custard, Clementine, Azzure, Chilli en Phlox
  • 3,25 mm- en 4 mm-naalde
  • Steekhouers

Grootte

Pas Medium(Groot) of borsmaat van sowat 97–101(107–112) cm

Afkortings

aw – aweregs gl1 – glip 1 st regsgewys r – regs R(V)KV – regte (verkeerde) kant voor tes – tesame tgso – trek glipsteek oor vmin – verminder vmeer – vermeerder

Brei-inligting

  • Dra die kleur waarmee jy nie werk nie, lossies agter die werk oor. As jy dit te styf trek, sal die breiwerk inmekaartrek en die grootte van die trui beïnvloed.
  • Breek kleure af en las soos nodig.
  • Wissel kleure vir moue af soos volg: rif in Caviar, 24 rye Limeade, 22 rye Catalina, 4 rye Custard, 6 rye Clementine, voltooi met Caviar
  • Aan einde van Diagram C, gaan voort met Catalina tot aan einde.

Wenke

  • Gebruik kleure wat jy verkies of jou oorskietbreidraad, want van party kleure het jy net ’n klein bietjie nodig.
  • Brei die moue heeltemal in swart.
  • Werk jou eie fairisle-patrone en kleure op grafiekpapier uit.
  • As jy kleiner of groter groottes wil brei, gebruik een van jou bestaande DK-patrone en pas die fairisle-patroon daarby aan.

Aanwysings

Agterpant

Met 3,25 mm-naalde en Caviar stel 116(128) ste op en werk 6 cm in 2×2-rif, eindig met RK-ry.
Vlg ry: rif en vmeer 1 st in middel van ry. 117(129) ste. Met 4 mm-naalde werk volgens Diagram A. Gaan voort met Diagram B en dan Diagram C tot werk sowat 50 cm lank is, of so lank soos verkies tot by mousgatvorming.
Mousgatvorming
Gaan voort met diagram, heg 6 ste aan die begin van die vlg 2 rye af. 105(117) ste. Vmin 1 st aan weersk van vlg 9 rye. 87(99) ste. Gaan voort tot mousgat 23(25) cm lank is, eindig met VK-ry.

Skouervorming
Heg 7(8) ste aan beg van vlg 2 rye af. 73(83) ste. Heg 7(8) ste aan beg van vlg ry af en pat tot daar 12 ste op regterkantste naald is, draai en werk slegs oor hierdie 12 ste. Heg 4 ste af en pat tot einde. 8 ste. Heg af. Met RKV plaas middelste 35(43) ste op steekhouer, heg draad aan oorbl 19(20) ste, pat tot einde. Heg 7(8) ste af, pat tot einde. Heg 4 ste af, pat tot einde. Pat 1 ry. Heg af.

Voorpant

Werk soos gegee vir agterpant tot sowat 20 rye minder as agterpant voor skouervorming, eindig met VK-ry. Vlg ry: pat tot daar 35 (37) ste op regterkantste naald is, draai, laat oorbl ste op steekhouer. Werk slegs oor hierdie 35 ste, heg 3 ste aan beg van vlg ry af. 32(34) ste. Pat en vmin 1 st aan halsrand in vlg 5 rye. 27(29)ste. Vmin 1 st aan halsrand in vlg 4 alt rye. 23(25) ste. Vmin 1 st aan halsrand in vlg 4de ry. 22(24) ste. Gaan voort tot selfde lengte as agterpant tot skouervorming, eindig met VK-ry.
Skouervorming
Heg 7(8) ste af, pat tot einde.
Vlg ry: pat.
Vlg ry: heg 7(8) ste af, pat tot einde.
Vlg ry: pat. Heg af. Met RKV plaas middelste 17(25) ste op steekhouer, heg draad aan oorbl 35(37) ste en pat tot einde. Voltooi soos eerste skouer, maar spieëlbeeld daarvan.

Moue (dieselfde )

Met 3,25 mm-naalde en Caviar, stel 60(64) ste op en werk 6 cm in 2×2-rif, eindig met RK-ry.
Vlg ry: rif en vmeer 1 st in middel van ry. 61(65) ste. Met 4 mm-naalde en kleurvolgorde vir mou gaan voort in ks, TERSELFDERTYD, vmeer 1 st aan weersk van vlg en elke vlg 6de ry tot 87(91) ste. Gaan voort tot mou 47(48) cm lank is, of lengte verlang vir mounaat onder arm, eindig met VK-ry.
Moutopvorming
Heg 6 ste aan beg van vlg 2 rye af. 75(79) ste Heg 1 st aan weersk van vlg 5 rye af. 65(69) ste. Heg 1 st af aan weersk van vlg 3(4) alternatiewe rye af. 59(61) ste. Heg 1 st aan weersk van vlg 4de ry af. 57(59) ste. Heg 1 st aan weersk van vlg alt regterkantste rye af tot 35(37) ste. Brei 1 ry aw. Heg 1 st aan weersk van vlg 5(6) rye af. 25 ste. Heg af.

Nekband

Werk regterskouernaat toe. Met RKV en 3,25 mm-naalde tel op en r 22 ste langs regterkant van hals af, r oor 17(25) ste op steekhouer, tel op en r 22 ste langs linkerkant van hals op, tel op en r 4 ste oor linkerkant van hals links agter, r oor 35(43) ste oor op steekhouer aan agterkant van hals en tel op en r 4 ste langs regterkant van hals agter. 104(120) ste.
Vlg ry: aw. Werk in 2×2-rif vir 8 rye. Heg in rif af.

Om te voltooi

Werk linkerskouernaat toe.
Vou moue lengtegewys in die helfte, plaas vou op skouernaat en werk in posisie.
Werk mou- en skouernaat toe.
Lê plat neer, bedek met klam lap en laat om droog te word.
Sien verpakkingsmateriaal vir versorgingsinstruksies.

Diagramme

Send this to a friend