Gaan ligter die lente in

Foto: Golden String Photography

Maak hierdie seisoen ’n kopskuif om gesonder te leef. Ons vra ’n fiksheidsmodel vir raad

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Sodra die warmer weer begin, voel ‘n mens weer lus om te oefen en tyd in die natuur deur te bring. En ook sommer om gesonder te eet, want die somervakansie lê immers om die draai …

Anrike van der Walt van Pretoria is ma van twee, ‘n fiksheidsmodel en ‘n finalis in die Mev Suid-Afrika-kompetisie.

Sy leef baie gesond en sê haar geheim is selfaanvaarding. “Ons is elkeen uniek geskape en dit is belangrik om dit aan jouself te gun om die beste weergawe van jouself te wees, want as jy ‘n gesonde lewe handhaaf, voel jy en lyk jy ook goed. Ek eet gesond en oefen, want dit gee my energie om die dag positief aan te pak.”

LEES OOK: Kan jou geboortemaand jou gesondheid beïnvloed?

Anrike se dieetwenke

  1. Ek dink oor wat ek eet en luister na my liggaam. ’n Uitgewerkte eetplan is vir my te rigied. Ek glo eerder dat eenvoudige veranderings ‘n groot verskil kan maak.
  2. Ek eet drie maaltye per dag met gesonde peuselhappies tussen etes soos pynappel, grondboontjiebotter, maaskaas, rou wortels of jogurt.
  3. Ek eet altyd ontbyt, soos ‘n bakkie hawermout, eier of maaskaas op rogbrood. Ek hou ook baie van die Futurelife se hoëproteïenpap.
  4. Ek vermy verwerkte kosse. Kies eerder natuurlike kos soos groente, vrugte, neute, eier, vis en hoender. Vermy ook alle alkohol, koffiesuiker, sigarette, verfynde koolhidrateen versadigde vette. Proteïenryke maaltye is belangrik omdat proteïen spiere bou en jou help om jou eetlus te bedwing.  Ek geniet veral ’n proteïendrankie ná elke oefening.
  5. Ek glo nie daaraan dat jy jouself moet uithonger of jou gunstelingkos heeltemal uitsny nie. Kry ‘n “kul dag” om jou gunstelingroomys, -sjokolade of -pastadis te eet.
  6. Ek drink minstens 1,5–2 l water per dag.
  7. My lewe is te gejaagd om ‘n uitgewerkte eetplan vir elke dag te volg, daarom sorg ek dat ek bogenoemde beginsels volg en die nodige kosse in die koskas en yskas het.

Anrike se wenke vir ’n aktiewe gesin

  • Ek maak seker my kinders neem aan minstens een sportsoort by die skool deel.
  • Ons stap elke middag met die honde en die kinders ry soms ook fiets.
  • Die kinders gaan saam met ons gimnasium toe en draf soms saam.
  • Ons kies slim wanneer dit by naweekaktiwiteite kom, byvoorbeeld trampolienspring, ysskaats of Acrobranch (touswaai).
  • Ons as gesin neem aan uitdagings of gesinsavonture, byvoorbeeld staproetes, dieretuinbesoeke en “parkruns”, deel.
  • Ons volg ‘n “geen tegnologie”-beginsel deur die week met die kinders (geen TV en fone). ’n Mens sal verbaas wees hoe vinnig skop kindwees weer in en hoe baie hulle die buitelewe weer waardeer.
  • Kies ‘n aktiwiteit wat julle as gesin saam kan doen. Ons dink byvoorbeeld nou daaraan om almal tennis te begin speel.
  • As julle ’n swembad het, swem saam met jou kinders.

LEES OOK: Jou gedagtes en gedrag kan jou help om ’n gesonder liggaamsmassa te bereik

Nog wenke om gesond te leef

  1. Maak klein veranderings aan jou lewenstyl om gesonder te leef. Stap trappe by die werk in plaas van om die hysbak te gebruik of gaan stap in die middag om die blok.
  2. Jy het dit seker al baie gehoor, maar dit bly belangrik om genoeg water te drink. Gelukkig sal die warmer weer dit makliker maak!
  3. Kry genoeg slaap. Kry ‘n rustige aandroetine en volg dit vir ‘n beter nagrus.
  4. Kry tyd om stil te raak. Mediteer of wees net rustig. Dit verkwik jou siel.
  5. Kry ‘n oefening wat jy geniet. Doen ‘n Parkrun met die honde op ‘n Saterdag, gaan stap in die middag saam met die kinders, as sluit by groepoefenklasse aan as jy daarvan hou. Enigiets – solank jy aan die beweeg kom.
  6. Kyk na jou dieet. Neem jy genoeg vrugte en groente in?
  7. Vermy die kosse wat jou laat ooreet. Koop dit eerder glad nie en sorg dat daar gesonde happies in die yskas is. Moenie jouself uithonger nie!
  8. Sê nee vir dinge wat jy nie kan doen nie om jou stres te verminder. Sorg dat daar vir jou tyd is om te rus.
  9. Gaan vir roetine-ondersoeke om seker te maak dat jou liggaaam gesond is.
  10. Eet minder sout en suiker.
  11. Vermy groot maaltye voor slaaptyd.
  12. Kom in die buitelug en kry vitamien D in!

BRONNE: https://personalexcellence.co, www.webmd.com

Loer na Anrike vd Walt – Tammy Taylor Mrs South Africa Finalist 2017 op Facebook

Send this to a friend