Gebruik jy die regte oogdruppels?

Oogdruppels is algemeen bekend om rooi, seer, krapperige en droë oë te behandel. Maar het jy geweet dat die verkeerde oogdruppels en oormatige gebruik daarvan egter permanente rooi oë kan veroorsaak?

Inge Loubser, ‘n oogkundige van Mellins i-Style, (www.mellins.co.za), ‘n vooraanstaande oogkundige groep, gee meer inligting en handige wenke as dit kom by oogdruppels.

“In soveel gevalle word die simptome behandel, in plaas van die oorsaak van die geïrriteerde oë,” sê Inge. Om gewoonlik die rooiheid te verminder, word oogdruppels gebruik wat oor-die-toonbank beskikbaar is. Jy kan dan wel ‘terugslag rooiheid’ kry, as gevolg van die gereelde gebruik van hierdie druppels. Baie van hierdie druppels bevat ‘n vaskulêre saamperser (vasokonstriktor) wat die bloedvate vernou en sodoende die rooiheid verminder. Omdat die oorsaak nie behandel word nie, verruim die bloedvate weer sodra die effek van die oogdruppels uitgewerk het. Met oormatige gebruik van hierdie druppels raak die gebruiker soms ‘afhanklik’ van hierdie druppels om oogrooiheid onder beheer te hou en kry dan permanente rooiheid as gevolg van skade aan die bloedvate. “Dit is op hierdie stadium dat baie pasiënte dan eers kom aanklop vir hulp maar daar is dan nie veel wat ons kan doen om die bloedvate weer te laat vernou nie. Ons kan dan net die korrekte druppels vir die spesifieke probleem vorentoe aanbeveel. Die beste opsie is altyd om eers die oorsaak van die irritasie vas te stel en dan te besluit op die keuse van druppels en of die pasiënt eerder na ‘n oogspesialis verwys moet word”, verduidelik Inge.

LEES OOK: Vals wimpers en wimperverlengings: goed of gevaarlik?

Baie oor-die-toonbank oogdruppels op die mark bevat sterk preserveermiddels en jou oë is nie veronderstel om langtermyn hieraan blootgestel te word nie. Preserveermiddels is in sommige oogdruppels nodig vir ‘n langer rak leeftyd en om dit teen kontaminasie van bakterieë te beskerm. Die preserveermiddels kan egter weer irritasie en rooiheid in die oë veroorsaak.

Iets eenvoudig soos oogdruppels word dikwels verkeerd gebruik, sonder die regte instruksies. Die houertjie se punt kan maklik gekontamineer word as dit aan oppervlaktes soos jou vinger of jou ooglid self raak. Die houertjie moet ook dadelik toegemaak word na gebruik om kontaminasie te voorkom. As gevolg van die risiko van kontaminasie en infeksie, moet oogdruppels ook nie deur meer as een persoon gebruik word nie. Oogdruppels is ook in ‘n enkel-dosis ampule beskikbaar. Sommige mense gebruik wel die druppels en stoor dan die res daarvan om weer die volgende dag te gebruik. Hierdie druppels bevat geen preserveermiddels nie aangesien dit ‘n enkeldosering is, en enige oorblywende druppels moet weggegooi word. Indien dit later weer gebruik word nadat dit reeds oopgemaak is, kan dit die risiko vir infeksie verhoog. Voorbeelde van preserveermiddels wat inflammasie en selskade veroorsaak is Benzalkonium chloried (BAK). Vermy ook druppels wat ‘n vasokonstriktor bevat soos bv. Phenylephrine, L-Phenylephedrine, L-Phenylephrine, M-Methylaminoethanolphenol, M-Oxedrine, Metaoxedrinum, Metaoxedrine, Metaoxedrin, Metasynephrine en Phenylephrinum.

LEES OOK: Hoekom gereelde oogtoetse noodsaaklik is

“Wat kontaklensdraers betref, moet net oogdruppels gebruik word wat vir kontaklense voorgeskryf word. Indien daar wel druppels soos ‘n anti-histamien gebruik word wat nie veronderstel is om saam met kontaklense te gebruik nie, kan die kontaklense uitgehaal word vóór die druppels gebruik word. Wag dan vir 30 minute totdat die druppels deur die sisteem opgeneem is voor die kontaklense weer ingesit word. In die geval van ‘n infeksie gaan bakterieë aan die kontaklense vasklou en kan die kontaklens nie meer gebruik word nie – dit moet dan weggegooi word. Dus moet kontaklense nie tydens infeksies gedra word nie”, beveel Inge aan.

Watter oogdruppels is geskik vir vir droë oë?

Volgens Inge is die Optive-reeks baie goed aangesien dit deur oog se oppervlakselle geabsorbeer word en die selle weer hidreer word. “Ander vogdruppels op die mark vul net die traanlaag aan en word nie geabsorbeer nie. Dit dreineer of verdamp net weer uit die oog”.

“Droogheid en allergie gaan gewoonlik hand aan hand. Sodra enige antihistamien (in druppel of tablet) gebruik word, sal jou oë droog wees, dus moet vogdruppels of kunsmatige trane altyd saam met antihistamien gebruik word. In geval van antihistamien oogdruppels, moet die antihistamien oogdruppels eers gebruik word en dan 20 minute gewag word vóór die vogdruppel ingegooi word sodat die een nie die ander uitspoel nie”.

Brandende en droë oë (veral wanneer kontaklense gedra word) is onder andere as gevolg van die feit dat persone hul oë tot ‘n derde minder knip as daar te lank na digitale skerms gekyk word. Dit kan lei tot versteurde visie as gevolg van lens-dehidrasie in die geval van kontaklensdraers. Oogdruppels kan hierdie simptome help verlig en jou oogkundige sal die beste produk kan aanbeveel.

Op watter stadium moet mense eerder by hulle oogkundige aanklop as selfmedikasie nie meer werk nie?

“Eintlik behoort jy van die begin af jou oogkundige te raadpleeg om te verseker dat die korrekte oogdruppels gebruik word, veral as jy kontaklense dra”, sê Inge.

 

Kan oogdruppels na die vervaldatum gebruik word, veral as die houer nog vol is?

Oogdruppels moet ook nie ná die vervaldatum gebruik word nie (afgesien van die feit hoeveel daarvan oor is) want die preserveermiddels in oogdruppels het ‘n spesifieke ‘werk-periode’ sodra dit nie meer in ‘n steriele omgewing is nie, bv. sodra die bottel oopgemaak word. Indien die bottel langer as die aanbevole tydperk gebruik word, werk die preserveermiddel nie meer om die inhoud steriel te hou nie en jou risiko vir infeksie verhoog drasties.

 

Send this to a friend