Chalk paint: Steampunk ’n kassie

As jy van die industriële voorkoms in hedendaagse dekor hou, gaan jy van hierdie steampunk kassie hou

Deur Eldaleen Hugo

Hoe oud hierdie kassie is, weet ek nie, maar ek sal nie verbaas wees as dit kort ná die aanvang van die industriële era van stoomaangedrewe masjinerie aanmekaargetimmer is nie. Die kliënt vir wie hierdie kassie nuutgemaak is, is in haar dertigs en tipies van hierdie ouderdomsgroep, is sy gaande oor Steampunk. “Vir my lyk dit bra grillerig,” is ’n kollega se kommentaar toe sy die vooraansig van die kassie sien. Uiteraard kyk sy toe in die skedel vas, maar Steampunk is veel meer as dit. En dit is ook nie sprekend van een of ander “bose” kultus nie. Steampunk is ’n kunsgenre. Wat is Steampunk en hoe lyk dit? Die volgende name, woorde en begrippe gee mens konteks en ’n prentjie in jou kop: Mallerige wetenskaplike en uitvinder, wetenskapfiksie, stoomskip, lugskip, metaalmens, meganika, masjinerie, korset, barokstyl, Victoriaanse era, vooruitgang, reaksionêr, fantasie, riller, avontuur, Sherlock Holmes, Jules Verne, HG Wells …

Voorbereiding

’n Kassie soos hierdie een het etlike lae olieverf op en die afskuurproses herinner aan ’n argeologiese opgrawing. Met elke laag wat jy afskuur, kom jy op ’n ander tydperk af. Skuur so goed as moontlik af, maar dié soort kassie gaan nooit weer ’n seepgladde oppervlak hê nie. Daarvoor is jare se duike en stampe net te veel. Dit maak dit juis geskik vir ’n Steampunk-voorkoms. Maak die afgeskuurde kassie met spiritus skoon en vee dit dan goed met ’n klamp lap af voor jy begin verf.

Voor

Verf

Ek gebruik net Granny B’s Old Fashion Paint en produkte. Die binnekant, agterkant en sykante het twee lae verf op (50/50-mengsel Midnight Blue en Icicle Blue). Die voorkant van die deur het een laag van die blou mengsel en ’n tweede laag Liquid Metal Gold op. Die blad (outydse geel formika) het een laag blou mengsel en twee lae Liquid Metal Gold op. Die pote, die binnekant van die deur en die binneste raamwerk het twee lae Dove Grey op.

Transfers & Gilder’s paste

Voorkant: Steampunk
Sykante: Mechanical
Goue detail: Gilded Baroque Scrolls en Gilded Inlay Scrolls
Skrif op die blad: Never Ending Story
Blad se rand: Pappa G’s Rich Gold Gilder’s Paste

Afronding

Die transfers op die sykante het ek geskuur om ’n verweerde voorkoms te gee en die blou mengsel plek-plek te laat deurskyn. Seël deurgaans tussen die stappe met Armour en gee die hele kas aan die einde weer twee lae Armour. Die sementskedel in tipiese Steampunk- styl het ek met Dove Grey geverf en met Liquid Metal Gold gedroogborsel. Daarna het ek met Gilder’s Paste geaksentueer (Rich Gold, Antique Bronze, Verdi Gris, Patina, Tulip Red).

Meer oor steampunk

Ek het op ’n insiggewende studie van hierdie subkultuur op die internet afgekom. Dit is ’n voorlegging deur Pieter Verwey (2015) as deel van sy MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan UP, onder leiding van prof Henning Pieterse, getiteld, Steampunk – ’n Beskrywende studie en analise van die neerslag van die begrip en teks Clint Eastwood van Wyk en die Moordenaarsklok. Uit dié verhandeling blyk dit “Steampunk is ’n nuwe sub-genre van wetenskapsfiksie wat sy oorsprong in 1987 gekry het toe skrywer KW Jeter die term vir die eerste keer gebruik het. Vandaar het Steampunk as ’n subkultuur ontwikkel in ’n magdom manifestasies wat onder andere literatuur, grafiese werk, musiek, politiek, kuns, ontwerp, mode, kulturele teorie, strokiesverhale, films en virtuele realiteit insluit, veral deur die gebruik van die internet. As gevolg van die uiteenlopende manifestasies van die Steampunk-subkultuur is daar tans nog geen klinkklare definisie van Steampunk nie.

Daar ís egter ’n menigte beskrywings van wat Steampunk is, asook verskeie opinies binne die Steampunkgemeenskap van wat Steampunk behoort te wees, maar geen duidelike riglyne waardeur Steampunk gedefinieer kan word nie … Kunstenaars, -skeppers en -vakmanne word oor die algemeen aangetrek deur die doen-dit-self-aspek van ouderwetse tegnologie. Een aspek van hierdie soort tegnologie is dat jy kan sien hoe dit werk – al die ratte, tuite en toestelletjies. Dit sluit die maak van dekoratiewe masjinerie of beslag in wat bestaande tegnologie bedek, eerder as wat dit funksionele masjinerie is. Dit is … ’n voorbeeld van tegnologie wat nie werklik ‘werk’ nie, maar eerder die Steampunk- estetika gebruik om ’n voorwerp te verander in iets wat vir die maker(s) mooier lyk, maar tegnologies nutteloos is.”

Verfprodukte van Granny B’s Old Fashioned Paint. Kontak Yolande Terblanche (082 448 7117) om uit te vind waar en hoe jy die verf en produkte kan koop. www.grannyb.co.za en Facebook, Granny B’s Old Fashioned Paint

Send this to a friend