Is lentetyd ook dieettyd? | Vrouekeur

Is lentetyd ook dieettyd?

Kenners reken daar is nie ’n beter tyd as die warmer seisoene om van oortollige gewig ontslae te raak nie …

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Met die lente hier en somer net om die draai, is dit nou die beste tyd om die wintervetjies af te skud, sê Renny Letswalo van die Cambridge-gewigsplan. Natuurlik is die uitdagings in enige seisoen dieselfde, maar die langer dae en beter weer werk nou in jou guns.

Die Cambridge-gewigsplan noem die volgende paar redes:

Minder hongerpyne

Het jy geweet dat mense gemiddeld 86 meer kalorieë per dag in die herfs as in die lente inneem? En soos die lente na somer draai, kan jy nog minder eet. Jou aptyt verminder in die somer omdat jou liggaam homself probeer koel hou en daarom voel jy minder honger, wat beteken dat jy minder kalorieë inneem.

Die hitte help
As jy aktief bly, sal jy sien dat die kilogramme wegsmelt, wat ook ‘n verband met jou liggaam se temperatuurregulering het. Jou liggaam werk harder as dit warm is en daarom verbrand jy meer kalorieë.

Jou bui is beter

Warm weer sit ‘n huppel in jou stap, wat beteken dat jy minder trooskos wil eet en nie net onder die komberse wil lê nie. Dit maak mens lus om iets te doen en in die buitelug te kom.

Daar is vitamien D in sonskyn

Dit wil voorkom asof daar ‘n verband tussen ‘n tekort aan vitamien D, insulienweerstandigheid en vetsug is. Mense wat vetsugtig is, het dikwels laer vlakke van hierdie vitamien.

Dis makliker om gesond te eet

In hierdie tyd eet ons meer vrugteslaaie, koue slaaie en waatlemoen en daar is ook meer ligte kosse om uit te kies.

Besoek http://www.cambridgeweightplan.co.za vir meer inligting. Hulle het ook ‘n somerliggaam-gewigsverliesveldtog wat in September afskop met weeklikse oefenprogramme en maaltydplanne

Send this to a friend