Hoe hanteer jy konflik?

Ons almal hanteer konflik verskillend. Is daar ’n regte en verkeerde manier?

Deur LUISA VAN DER LINDE

Kleintydervarings

“Ons manier van konflik hanteer het amper alles te make met hoe ons grootgeword het,” sê Liesel.

‘n Kind leer veral deur waar te neem hoe sy ouers situasies hanteer. Een van my kliënte se pa was baie konfronterend. Hy het gereeld op sy kinders geskree. Dit leer dan die kind: O, dis hoe ek my sin kry. Hoe harder ek praat, hoe groter is die kans dat ek my sin sal kry. Haar ma het egter altyd die ander wang gedraai en nooit teruggepraat nie. Sy het dus twee heeltemal teenstrydige boodskappe by haar ouers gekry.

“Om dinge verder te kompliseer, leer kinders deur ervarings wat hulle bangmaak hoe hulle in die toekoms moet optree om veilig te voel. Hul onderbewuste probeer enige ervaring wat gevaar inhou, te staak.

Wanneer hul dan ‘n ervaring teëkom wat min of meer dieselfde lyk (kwaai gesig, harde stem) dan stuur die brein ‘n boodskap aan die liggaam wat sê: Gevaar, bly weg! So kry kinders stilweg baie boodskappe wat dit baie moeilik maak om ‘n “regte manier” te leer om konflik te hanteer.

My kliënt het ervaar dat haar pa mense aggressief konfronteer en daarom het sy gedink dis die manier om te kry wat sy wil hê. En as sy vrede wou hê, dan doen sy wat haar ma doen en sê: Ag wat, dit maak nie saak nie. Nie een van bogenoemde sorg vir harmonie nie. Terselftertyd was sy ‘n sensitiewe kind en het na elke bakleiery gevoel dis nie veilig om naby aggressiewe mense te wees nie.

Sy het nooit geleer hoe om haar eie woede te hanteer nie, want sy is bang vir woede en sy sluk haar emosies. Dis nie gesond om so te leef nie, want opgekropte emosies gaan nie weg nie. Dit spring op die mees ongeleë tye uit of veroorsaak gegriefdheid, gebroke verhoudings en swak gesondheid. (Lees ook: When the body says “No” deur Dr Gabor Maté ‘n wêreldbekende kenner oor die verhouding tussen onderdrukte emosies en gesondheidsgevolge).

Kop teen dieselfde klip kap?

Ja, baie mense kap hul kop oor en oor teen dieselfde klip omdat hulle sekere snellers het wat nooit ontlont is nie en maak dat hulle emosioneel reageer, sê Liesel.

‘n Sneller ontstaan gewoonlik voor die ouderdom van sewe jaar. As ‘n persoon ‘n situasie teëgekom het waar hulle hulpeloos of verstar gevoel het en dit nie kon hanteer nie, stoor hulle emosionele energie saam met daardie herinnering.

Wanneer jy weer ‘n soortgelyke situasie teëkom of iemand herinner ons aan die oorspronklike aggressor, is daardie persoon net ‘n sneller wat die oorspronklike negatiewe gevoelens na vore laat tree. Jy mag dink dis die persoon voor jou wat die ongemak of emosie veroorsaak, maar dis die oorspronklike situasie wat heling nodig het.

As jy sukkel om met ‘n spesifieke onderwyser, maat, ouer, kind of vriendin oor die weg te kom, is dit nodig om die basisgeleentheid te ontlont, anders gaan dit byna onmoontlik wees om jou emosionele reaksie te beheer.

‘n Emosionele reaksie kan enigiets wees vanaf angs, vrees, woede tot ‘n gevriesde reaksie soos ‘n bok in ‘n aankomende voertuig se ligte.

Vaardighede soos EFT (Emotional Freedom Technique) kan waardevol en doeltreffend wees om basissnellers aan te spreek sodat jy anders en met meer vrug toekomstige konflik te kan aanspreek. As daar nie ‘n sneller is nie, hoef jy nie te skree, huil of weghardloop nie, kan jy meer rasioneel dink.

Dis baie belangrik om vaardighede aan te leer om jou in staat te stel dat albei partye voel hulle behoeftes word raakgesien en erken. Konflik ontstaan wanneer daar nie aan een of albei partye se behoeftes voldoen word nie.

“Om konflik te ‘hanteer’ klink dalk effe negatief. Dis dalk beter om te se konflik oplos. Baie mense dink ‘konflik’ beteken noodwendig iets groots. Dit hoef nie groot te wees nie. Enigiets wat ‘n potensiele geskil tussen twee mense kan wees, kan hanteer word, sê Alison.

Party mense verkies om eerder te praat van meningsverskille uitsorteer as konflik hanteer, maar die woord beskryf enigiets, van klein tot groter verskille.

Vir een persoon kan ‘n kollega se selfoon in die werksopset teen die muur uitdryf, terwyl dit vir ‘n ander slegs ‘n ligte irritasie is. Dit maak situasies baie moeilik, want mense kan nie vooraf antisipeer hoe ander hulle gedrag of optrede gaan ervaar nie,” se Alison.

Van die oefeninge wat in konflikswerkswinkels gedoen word is om die manier hoe mense reageer te probeer beinvloed, omdat jy nie ‘n waarborg het hoe hulle gaan reageer nie. Kursusgangers word ook geleer hoe om hul emosies van hul gedrag te onderskei sodat hulle nie bang is om in ‘n konfliksituasie op te tree nie.

Selfgesprek tydens konflik

“As jy van een tot tien tel, gee dit jou genoeg spasie om te reageer eerder as emosioneel te raak. Haal diep asem, ontspan en word kalm voor jy reageer.

Bemoedig jouself: “Ek het die vaardighede wat nodig is om hierdie gesprek te voer, ek weet hoe om myself te gedra. Ek kan dit doen.”.

My maat/kollega/vriendin lyk gegrief maar vee net alles onder die mat in, wat nou?

Alison sê in so ‘n situasie moet jy poog om die persoon uit te lok om aan ‘n gesprek deel te neem. Probeer iets soos: Dit lyk of jy ongemaklik voel? Hou jy nie daarvaan as hierdie musiek speel nie? Stel die persoon op hulle gemak sodat hulle veilig kan voel om met jou te gesels. As die persoon veilig genoeg voel om met jou te praat vra versigtig vrae. Onthou dat hul deurgaans hul waardigheid moet behou. Moenie blameer nie. Probeer: Is dit my fout dat jy nie geweet het jy moet agtuur by die werk wees nie? Probeer die moontlikheid skep dat jy dalk ‘n aandeel in die probleem het eerder as wat jy aanval. Dis meer waarskynlik dat iemand wat voel jy stel belang in sy posisie en situasie met jou in ‘n gesprek sal tree.

Die rol van humor

Liesel maan dat mense versigtig moet wees met die gebruik van humor in ‘n konfliksituasie. Maak seker dat jy en die ander persoon op dieselfde golflengte is, voordat jy dit probeer. Andersins kan hul voel dat jy hulle uitlag.

Alison meen ook dit kan die probleem vererger wanneer mense die ys daarmee probeer breek en die ander party is in ‘n slegte bui. Dit kan selfs die konflik vererger.

Uit my eie lewe … Dit het ek geleer

Liesel: Ek het geleer dat dit baie meer gesonds is om konfliksituasies met die regte toerusting en vaardighede op te los. Dit is bevrydend om te weet wat om te doen as konflik ontstaan. Konflik is normaal en gesond. Dit vervul my en maak my energiek om vir ander mense dieselfde mate van vryheid rondom konflik te kan leer.

Alison: Die belangrikste dinge wat ek oor konflikhantering geleer het is:

  • As ek kan kalm bly as die uitkoms vir my en die ander persoon tot voordeel strek. Ek vind self baie meer baat as ek kan kalm bly.
  • As daar ‘n geskil ontstaan gebeur dit baie keer dat ek nuuskierig raak oor die persoon se posisie. Ek kry soveel moontlik inligting oor hoe hulle voel om vas te stel of ek iets misverstaan. Met die ekstra inligting ontaard dit gewoonlik in ‘n ander geskil of geen geskil nie.

Grootwordjare en gesin

Alison: In my eie familie is konflik met fisieke aggressie gehanteer. Ek het glad nie hiervan gehou nie. Dit was nie ‘n doelbewuste besluit dat ek nou konflik anders gaan hanteer nie. My kêrel en ek raak nie handgemeen as ons verskil nie en daarom het ek op ‘n natuurlike manier emosioneel volwasse geword en  geleer konflik hanteer.

Die manier hoe jy konfliksituasies as kind waargeneem het, het vir seker ‘n invloed op hoe jy dit self hanteer. Maar jou persoonlikheidstipe speel ook ‘n baie groot rol.

Party persoonlikheidstipes is net meer pro-aktief as ander tipes wat dalk eerder waarneem en probeer om vrede te handhaaf. Ek voel enige persoonlikheidstipe, ongeag hul agtergrond kan leer om konflik beter te hanteer.

Send this to a friend