Redenaars - kuns of klug? | Vrouekeur

Redenaars – kuns of klug?

Kinders moes eens self hul praatjies skryf, maar deesdae maak volwassenes se toesprake die speelveld ongelyk

Deur MELODIE VELDHUIZEN

Toentertyd was die opdrag sonder omhaal en verstaanbaar, selfs vir ’n graadeentjie: Skryf ’n praatjie oor “My troeteldier”, “My stokperdjie” of “As ek eendag groot is …”.

Deesdae is dit ingewikkelder en die standaard hoër. Temas word voorsien, waaruit ’n onderwerp geformuleer moet word. Die kind moet aan die hand van bronne en argumente die onderwerp beredeneer en die gehoor van sy of haar standpunt oortuig. ’n Mondvol vir ’n laerskoolkind.

Sommige laerskole verplig alle leerders om ’n toespraak vir ’n rapportpunt te lewer. Dit lei nie noodwendig tot deelname aan eksterne redenaarskompetisies nie. Tog is dit ’n groot uitdaging vir baie leerders, want watter kind wil in sy maatjie se skaduwee staan? En watter ouer sal dit toelaat?

Wanneer ’n kind by die huis kom met die versoek: “Mamma, ek moet ’n redenaarspraatjie skryf,” is die bal onmiddellik in haar hande en word die uitdaging hare. Ouers wat die vermoë en die tyd het, skryf sommer gou-gou self ’n toespraak. Ander ken iemand wat met graagte sal help. En vir die ouers wat dit kan bekostig, is daar vele organisasies en individue wat die behoefte raakgesien het en skaars kan voorbly met die skryf van toesprake – teen vergoeding, natuurlik. Ongelukkig is daar ook die bloedjies wat self moet sien kom klaar weens die gebrek aan finansiële hulpbronne, onbetrokke ouers of ouers wat glo dat ’n kind sy of haar skoolwerk self moet doen. Laasgenoemde groepie moet met hul eie pogings teen die toesprake van volwassenes meeding. En dis hier waar die speelveld ietwat hobbelrig raak.

Die wenkultuur

Chantelle de Wet van die organisasie Radikale Redenaar reken die wengesindheid kan voor die deur van skole, ouers en instellings met hul rigiede reëls en strukture gelê word.

Leoni Benghiat, eienares van SA Vryskutskrywer, meen dat organisasies wat redenaarskompetisies aanbied, asook leerders, ouers en skole ewe skuldig aan die behoefte aan wentoesprake is. “Niemand wil meer middelmatig wees nie. Daar is ongelooflike druk op leerders om op alle gebiede te presteer. Solank as wat daar ’n maniese wenkultuur onder leerders, ouers en skole aangeblaas word, gaan die ATKV moeilik ontslae raak van deelnemers wat gekoopte toesprake aanbied.”

Lizelle van Staden, projekorganiseerder van ATKV-Redenaars beaam dat die wenmotief uit verskeie oorde, soos prestasie op skool, ouers en groepsdruk aangemoedig word.

Dr ST Potgieter, opvoedkundige sielkundige sê: “Ons leef in ’n mededingende wêreld waar kinders alle moontlike hulp ontvang om beter te presteer.”

Verskeie perspektiewe

Volgens Leoni kan sommige kinders goed skryf en ander beskik weer oor die vermoë om die toespraak met selfvertroue te lewer.

“Jy kan vir ’n paar kinders presies dieselfde toespraak gee om aan te bied en nie almal gaan goeie punte kry nie. Slegs dié kinders wat werklik talent het om in die openbaar te praat, gaan ’n indruk maak. Redenaarstoesprake word buitendien nie net op grond van die inhoud daarvan beoordeel nie. Daar is baie aspekte waarna gekyk word en die toespraak self maak nie die grootste deel daarvan uit nie. Die spreker se vermoë is deurslaggewend.”

Sy meen dat dit in orde is as volwassenes die toesprake skryf, want dis ’n kwessie van aanvraag en aanbod. “Daar is ’n mark vir redenaarstoesprake en vir ’n paar weke in ’n jaar verdien ons geld daaruit. SA Vryskutskrywer is ’n volwaardige onderneming. Ons is professionele skrywers en dis ’n bron van inkomste.”

Chantelle meen ook dat redenaars oor die kuns van redeneer en nie oor die skryfkuns gaan nie. “Ek dink daar is wonderlike sprekers en nie almal van hulle is skrywers nie. Nes daar talentvolle skrywers is wat swak sprekers is.”

Sy beklemtoon die belangrikheid van deelname, “want selfs met ’n toespraak wat deur iemand anders geskryf is, is dit goed vir enige kind se selfbeeld. Eintlik is dit dus nie net die kinders met wentoesprake wat by redenaars baat vind nie. Ek dink die speelveld is gelyk as elke kind net deelneem. Daar is honderde kinders wie se ouers nie skrywers is nie en wat hulle dus nie kan lei en help nie.”

Tog moedig Radikale Redenaar ouers en kinders aan om die gekoopte toesprake aan te pas en hul eie te maak. Hulle het ook ’n afdeling waar kinders hul eie toesprake skryf.

ST reken dat die kompetisiereëls bepaal wat reg of verkeerd en eties of oneties is. Is die redenaarskompetisie daarop gerig om ’n toespraak te kan lewer of is dit daarop gerig om ’n toespraak te kan skryf en ook te kan lewer?

Indien laasgenoemde ’n kompetisiereël is, dan behoort dit so toegepas te word, anders word sekere leerders bevoordeel. “’n Kind moet leer om by die etiese aspekte van ’n saak (al is dit ’n kompetisie) te staan. Anders maak dit inderdaad die speelveld ongelyk en kan sommige kinders voel: ‘Hoekom moet ons aan ’n onregverdige kompetisie deelneem?’”

Hy gee ook ’n ander perspektief op die kwessie van die vermoë om ’n goeie toespraak te kan lewer, maar die onvermoë om self te skryf. Dit hoef nie noodwendig ’n volwassene te wees wat die toespraak skryf nie. “Indien ’n kind nie ’n goeie toespraak kan skryf nie, maar ’n briljante spreker is, moet hy of sy die voorreg ontneem word om aan die kompetisie deel te neem? Dalk is daar ’n kind wat ’n baie goeie toespraak kan skryf, maar nie die talent het om ’n toespraak te kan lewer nie omdat hy of sy byvoorbeeld ’n introvert is of hakkel. Kan een kind nie aangemoedig word om die toespraak te skryf en ’n ander kind dra dit voor nie?”

Organiseerders se rol

Die organiseerders van redenaarskompetisies speel ’n belangrike rol omdat hulle die reëls neerlê wat in sommige gevalle reeds vanaf die aanvanklike rondtes op interne vlak deur skole toegepas word.

Die belangrikste riglyne van ATKVRedenaars is dat dit nie slegs ’n praatjie mag wees nie, maar ’n oorredende en beredeneerde toespraak aan die hand van argumente en bronne. Die ATKV moedig die kinders aan om self hul toesprake te skryf, maar die skryf en hulp deur volwassenes, sonder vergoeding, word egter nie ontmoedig nie.

Almal word aangemoedig om die ATKVhandleiding vir die skryf van toesprake te gebruik. Deelnemers, onderwysers, ouers en afrigters kan ook werksessies vir die skryf van toesprake bywoon.

In ag genome die groot aanvraag na gekoopte toesprake, is dit duidelik dat hierdie reël grootliks geïgnoreer word. Lizelle verduidelik: “Die ATKV kan ongelukkig nie pa staan vir gekoopte toesprake nie, want die besluit berus by die ouers en onderwysers. Die uitdunne in klasverband vind ook onafhanklik van die ATKV se kompetisie plaas. Skole het hul eie riglyne en prosesse om die deelnemers te identifiseer wat aan die amptelike ATKV-uitdunne gaan deelneem. Daarom gebeur dit ongelukkig dat meer as een deelnemer met dieselfde toespraak by ’n kompetisie opdaag.”

Die reëls stel dit duidelik dat sodanige leerders gepenaliseer kan word. Lizelle beklemtoon: “Baie ouers koop toesprake vir hul kinders juis omdat die kompetisie so groot is en dit die ‘maklikste’ uitweg is. Ons het juis die onvoorbereide toesprake, wat tot 80% van die finale punt tel, vir leerders vanaf graad 6 geïmplementeer om tydens die finale uitdunne die koring van die kaf te skei. Jonger kinders het nog hulp nodig, maar ons aanvaar dat kinders vanaf graad 6 hul eie toespraak kan skryf.”

Hulle het ’n wenresep

Daar is oënskynlik geen oplossing vir die probleem nie. Maar Laerskool Elarduspark se benadering kan moontlik vir ander skole en ouers as voorbeeld dien. Hul standpunt is dat redenaars leerders leer om selfstandig te dink, met selfvertroue te kan praat en verantwoordelik te wees.

Volgens Eliska du Plessis, redenaarorganiseerder van die skool benader hulle deelname aan redenaars soos volg:

  • Deelname is nie verpligtend nie. Ons wil toekomstige redenaars bou eerder as om vreesbevange bloedjies te kweek.
  • Ons beklemtoon wel die voordele van redenaarskuns, naamlik dat dit die kind leer om met selfvertroue te praat.
  • Ons moedig betrokkenheid van die graad 1- tot graad 3-leerders saam met hul ouers aan met die skryf van hul toesprake. Kursusse word aangebied en riglyne en inligtingstukke word voorsien.
  • Graad 4- tot graad 7-leerders kry in die klas tyd om hul eie toesprake vir assessering te skryf.
  • In graad 4 en 5 word kinders reeds geskool om aan onvoorbereide kompetisies deel te neem sodat hulle in graad 6 en 7 al goed gesout en is en die kuns rondom die struktuur en inhoud van toesprake baasgeraak het.
  • Die aanbied van gekoopte toesprake word ontmoedig omdat die kinders dan namens iemand anders praat en dikwels nie verstaan wat hulle sê nie en daarom soms vashaak wanneer hul die praatjie voordra.
  • Wen is altyd lekker, maar dit is belangriker om die kinders vir die toekoms toe te rus. Ons leer hulle om mislukkings te hanteer.

Send this to a friend