Trauma in die kinderdae eggo | Vrouekeur

Trauma in die kinderdae eggo

Navorsers het bevind dat trauma nie net kinders se toekoms kan beïnvloed nie, maar ook hul lewe as volwassenenes en dié van hul kinders

Saamgestel deur Izette Blignaut

Navorsers waarsku dat kinders wat van hul ouers by Amerikaanse grense geskei word, ernstige nagevolge daarvan kan oorhou.

‘n Studie wat deur navorsers aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles gedoen is, het gevind dat traumatiese gebeure in die kinderdae, die kans op ’n geestesversteuring verhoog. Ook nie net vir die spesifieke persoon nie, maar ook vir sy kinders.

“Vroeë stresvolle en traumatiese gebeurtenisse beïnvloed die kinders se geestesgesondheid in latere jare,” sê Adam Schickedantz, die studieleier.

Hy het aan ABC Nuus in Amerika gesê dat die studie net weer bevestig het dat ‘n mens jou geskiedenis met jou saamdra en dat dit ‘n invloed op ons ouerskap en kinders het.

“As ons na die beskikbare bewyse kyk, kan die stres en trauma wat kinders tans op Amerikaanse grense ervaar, later in hul lewe ‘n impak op hulle hê,” sê Schickedantz.

Die navorsing het gevind dat mense wat voor die ouderdom van 18  vier of meer ongunstige traumatiese ervarings gehad het (soos mishandeling, verwerping, onstabiliteit, ens) se kanse groter is om kinders te hê wat sukkel om hul emosies te reguleer.

Die studie het ook bewys dat geslag ook ‘n rol speel, die kinders se resultate was negatiewer as hul ma die traumaslagoffer was. Navorsers verduidelik dat dit gebeur omdat ma’s meeste die hoofversorgers is.

“Op die oomblik is ons besig om ondersoek in te stel of die eerste ongunstige ervarings nie net die kinders beïnvloed nie, maar dalk verdere generasies ook.”

Ander studies het ook al gewys dat trauma jou fisieke gesondheid kan beïnvloed en die gevaar van chroniese siektes verhoog.

Hierdie artikel het eerste op www.abcnews.go.com verskyn

Send this to a friend